“Ons is ’n diverse kerk wat lyk soos ons gemeenskap. Ons aanbid in Engels, Sotho, Zulu, Sepedi, Afrikaans, Tswana, Xhosa en Tsonga. Ons preek in Engels. Ons doen dit omdat ons geroep is om mense te bereik wat nie vir Jesus ken nie, en om ’n geestelike tuiste te wees vir Christene in die area wat nie deel is van ’n kerk nie. Ons doen dit omdat ons glo dat ons mensgemaakte grense kan oorsteek en transendeer deur die krag van die evangelie. Ons doen dit omdat ons glo dat diversiteit ’n geskenk van God is, en dat dit bedoel is om geniet en omarm te word. Ons doen dit, wat ons dink die evangelie is die antwoord vir al die ismes in ons land, en ons wil graag ’n vleis-en-been voorbeeld daarvan wees,” sê ds Ryno Meyer, predikant by NG Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie.
Fellowship City is ’n transkulturele geloofsgemeenskap in Centurion, Pretoria.
Waar het dit alles begin?
“Ek en my vrou Mari het in 2016 gebid en vir die Here gevra wat ons volgende seisoen in die bediening gaan behels. Soos die jaar ontvou het het dit vir ons duidelik geword dat ons ’n kerk moet plant; ’n kerk wat iets byvoeg tot die werk wat die kerk doen, ’n kerk wat uiteindelik culturally engaging is, en werklik ’n verskil maak in die konteks van Suid-Afrika, veral in die lig van ons geskiedenis,” vertel Ryno.
NG Pierre van Ryneveld se gemeenteraad het ingestem dat hy dit vanuit die gemeente doen en dat hulle hom as predikant in die plant van ’n nuwe gemeente sal ondersteun. Hulle doen dit steeds.
Ryno vertel verder: “Ons het uiteindelik besluit dat ons ’n kerk gaan plant so naby aan die hoewes in Centurion as wat ons kan, vir verskeie redes: Dit was die mees diverse deel van Centurion, dit het ’n betekenisvolle toevloei van nuwe mense gehad as gevolg van eiendomsontwikkeling en uitbreiding, en ons het geweet dat daar mense is in die area wat Christene is, maar nie in ’n kerk is nie, en dat daar mense is wat steeds bereik moet word met die goeie nuus van Jesus.”
Een van die groot lesse wat hy geleer het is dat die Here ons as verskillende kulture geskep het as geskenk vir mekaar.
Sy passie hiervoor kom eintlik ’n lang pad.
Lees ook: Deon Els, kopdokter vir rugbyspanne, dominee en vredemaker
In 2006 was hy vir die eerste keer op ’n kruiskulturele uitreik in Botswana.
“Ek het op daardie uitreik die eerste keer die evangelie met iemand gedeel, asook die eerste keer in ’n kerkdiens gepreek. Ek doen dit steeds, so dit was ’n baie belangrike eerste!”
Ek het Ryno in 2010 ontmoet toe hy saam met vriende ’n projek begin het met die naam, Intentional Living. Hulle was ’n groep teologiestudente wat gekies het om in die middestad van Pretoria in onselfsugtige eenvoud oor kulturele grense heen saam te woon, en van daar uit te reik na die nood rondom hulle.
Ook sy pad met NG Pierre van Ryneveld het ’n groot rol gespeel in sy vorming. Hierdie jaar is hy 19 jaar betrokke by die gemeente. Kerkplanting en die ontwikkeling van transkulturele bediening werk die beste wanneer dit saam met ’n bestaande plaaslike gemeente gebeur.
“Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie het my geleer om ja te sê, en toe te laat dat die Here die pad wys,” sê hy. “En my soveel blootstelling en geleenthede gegee, dit het my gevorm in die mens wat ek vandag is.”
Die meeste van sy fokus vandag is op die Fellowship City geloofsgemeenskap (hulle eredienste is Sondae 10:30 in die kerkgebou van Doornkloof Familiekerk), maar hy dien ook op twee taakspanne; een van die Oostelike Sinode en een van die Algemene Sinode. Albei taakspanne fokus op kerkplanting.
Wat weet min mense van jou? vra ek.
“Dat ek kan eet soos ’n Springbokslot, hoewel ek gebou is soos ’n perdejoggie!” lag hy.
Vir ontspanning draf hy graag. Hy het al ’n hele paar Comrades-maratons op sy kerfstok.
Soos die meeste mense wat op grondvlak oor grense heen werk, is Ryno positief oor die toekoms van Suid-Afrika, want hy sien mooi dinge raak wat hom hoop gee.
“Die Here is besig om iets pragtig te doen in die lewe van die jeug van die land. Dit gee my baie hoop. Ek sien hoe ons as Suid-Afrikaners meer en meer besef en glo dat ons mekaar nodig het, dit gee my hoop. Ek sien Christene wat bid vir ons land, en saam hande vat om Jesus se liggaam te wees, dit gee my hoop,” sê hy.
Ryno Meyer se groot droom is dat, dít wat vandag ’n uitsondering in die NG Kerk is, ’n reël sal word. Dat al meer gemeentes die seën van ’n transkulturele bediening sal ontdek. Hy sê hy weet dit vat moeite en harde werk, maar dit is oor en oor die moeite werd.
Wat Ryno by Fellowship City doen is 100% in lyn met die teologie wat ons verkondig en die liedjies wat ons sing, dink ek terwyl ons gesels. Wat gans vreemd is, is die feit dat die sigbare uitlewing daarvan so raar is in die NG Kerk, veral in ons eredienste. “The time of the week of the greatest racial divide in South Africa is still on a Sunday between 09:00 and 11:00,” sê ’n ou nou die dag.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
