Fay van Eeden deel in haar gereelde omgewingsrubriek drie wenke vir omgewingsvriendelike alternatiewe tot sintetiese kombuissponse.
Ek het onlangs ’n artikel gelees wat aanbeveel dat jy jou sintetiese kombuisspons elke week vervang om te verhoed dat jy skadelike bakterieë, wat in die porieë van die spons groei, in jou kombuis versprei. Sou mens hierdie raad volg, beteken dit dat elke huishouding 48 weggooibare sponse – wat elk ongeveer 58 jaar neem om te ontbind – op stortingsterreine gooi. Dit lyk vir my of die probleem met weggooibare produkte, wat van oliegebaseerde materiale soos plastiek en poliskuim gemaak is, daarin lê dat ons dit nie lank genoeg gebruik om die hulpbronne wat vir die vervaardiging daarvan aangewend is, die omgewingskade wat dit veroorsaak en die tyd wat dit neem om te ontbind, te regverdig nie.

Aangesien ek nie my kombuisspons getrou elke week vervang nie, was ek opgewonde om die sogenaamde “antibakteriese” spons te ontdek – totdat ek ’n bietjie navorsing daaroor gedoen het. Om “antibakteriese” sponse te vervaardig, word giftige swamdodende en antibakteriese middels, soos triklosan, gebruik. Triklosan breek nie biologies af in ons waterstelsels nie en is bekend daarvoor dat dit skadelik is vir waterlewe. Studies moet nog bepaal watter uitwerking middels soos triklosan op mense het.
In my soektog om my sintetiese sponse met meer omgewingsvriendelike alternatiewe te vervang, het ek op ’n paar uitstekende produkte en opsies afgekom.
Lees ook: Omgewing | Fay van Eeden: My yskas se trurat, en die impak daarvan
Die Tawashi
Die Tawashi lyk nie soos ’n spons nie, maar dit werk presies dieselfde. Die naam is afgelei van ’n Japannese tipe skropborsel. Die SpazaStore se Tawashi word van jute gemaak – ‘n plantvesel wat natuurlik antibakteries en bio-afbreekbaar is, en boonop lank hou. Volgens Spaza is jute ’n plant wat wyd in dele van Suid-Asië verbou word; dit vereis geen plaagdoders nie, bevorder grondgesondheid en stel geen giftige stowwe vry wanneer dit verbrand word nie.
Ek moet erken dat ek aanvanklik effens skepties was, maar dit werk uitstekend. Ek gebruik my Tawashi nou al langer as ’n jaar en dit is steeds in ’n goeie toestand. Aangesien die Tawashi van nature antibakteries is, kan dit maklik verfris word deur dit in ’n vlak badjie met kookwater en asyn te week, of deur dit elke paar dae in die skottelgoedwasser te sit.
Wat ek veral van die Tawashi hou, is dat dit met die hand gehekel word deur vroue wat vanuit hul huise in en om Kaapstad werk. Aangesien baie van hierdie vroue omsien na kinders en bejaardes, is die Tawashi nie net goed vir die planeet nie, maar ondersteun dit ook gemeenskappe. Jy kan ’n Tawashi aanlyn by SpazaStore koop.
Natuurlike skottelgoedborsels en potborsels
Skropborsels wat van natuurlike produkte gemaak word is nog ’n uitstekende alternatief tot sintetiese kombuissponse. Die handvatsels word gewoonlik uit volhoubaar verkrygde hout vervaardig terwyl die borselhare van natuurlike vesels soos klapper en sisal gemaak word.
Ek het meer as ‘n jaar gelede ’n bamboes-potborsel gekoop, en dit toon geen tekens dat dit vervang moet word nie. Dit is wonderlik om te weet dat, wanneer daardie tyd wel aanbreek, ek dit eenvoudig op ons komposhoop of in die kaggel kan gooi. https://naturallife.co.za/ het ’n wye verskeidenheid skottelgoedborsels en potborsels te koop.
Gebruik weer daardie handdoek
Gee jou handdoeke, lakens en t-hemde ’n tweede lewe. Sny ou handdoeke of T-hemde in blokkies en gebruik dit om jou kombuis en huis mee skoon te maak. Hulle kan in die wasmasjien gewas word en hou lank – wat wonderlik is vir die planeet én vir jou sak.
