Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vir my is die mees skokkende dat ’n verbysterende 60% van voedselvermorsing ontstaan op huishoudelike vlak (UNEP, 2024), skryf Fay van Eeden.

Omgewing | Fay van Eeden: My yskas se trurat, en die impak daarvan

My yskas het ’n trurat. Het joune? Op een of ander manier migreer kos na die agterkant van my yskas se rakke waar dit ongesiens sleg word. Alhoewel ek dit spottenderwys sê kry ek skaam oor die hoeveelheid male ek kos, wat na agter in ons yskas ‘beweeg’ het, moet weggooi. ’n Gemufde stukkie oorskiet lasagna of oondgroente. Om van daardie bakkies oop te maak is ’n grillerige affêre wat ’n mens liefs op ’n leë maag moet doen.

Die 29ste September is Internasionale Dag van Bewustheid oor Voedselverlies en -vermorsing. Hierdie dag beoog nie net om bewustheid te skep nie, maar ook mense na beter gebruik van kos en minder vermorsing op te roep.

LEES OOK | Omgewing: Toe word ons gróót doelwit vir plastiekvry-leef ’n uitdagende avontuur

Onlangse beramings toon dat ’n skokkende 19% van voedsel wat aan verbruikers beskikbaar is – gelykstaande aan 1,05 miljard ton – vermors word deurdat dit by kleinhandelaars, voedseldienste en huishoudings weggegooi word. Dit is bykans ’n vyfde van alle voedsel wat die einde van die voorsieningsketting bereik (United Nations Environment Programme, 2024).

Vir my is die mees skokkende dat ’n verbysterende 60% van voedselvermorsing ontstaan op huishoudelike vlak (UNEP, 2024). Dit terwyl een uit elke dertien mense wêreldwyd in 2025 honger gely het, dit is tussen 608 en 696 miljoen mense (ongeveer 8% van die wêreldbevolking). Daarbenewens ervaar na raming 2,1 miljard mense (25 persent van die wêreldbevolking) matige tot ernstige voedselonsekerheid.

Ek sukkel om my kop om hierdie syfers te kry, maar die een ding waarvan hulle my oortuig is dat ek (en my yskas) deel is van die probleem. Die vermorsing van kos deur verbruikers is ook nie beperk tot ontwikkelde lande nie, maar ’n wêreldwye uitdaging. As ’n mens in ag neem dat die grootste persentasie van voedselvermorsing in huishoudings plaasvind kan ’n paar eenvoudige veranderings ’n groot verskil maak.

 

Wat kan ons as verbruikers doen?

  • Beplan jou kosaankope en moenie meer koop as wat jy nodig het nie. Wees veral versigtig om in die ‘koop twee en kry een verniet’-strik te trap. Soveel male koop ons daardie winskoop al weet ons ons gaan nie daardie derde sakkie groente gebruik nie. As jy wel die derde sakkie huis toe bring, deel dit met vriende óf verwerk en preserveer dit.
  • Koop sorgsaam en bêre kos reg om die kwaliteit en rakleeftyd daarvan te verleng.
  • Gee aandag aan die “gebruik teen”-datum op voedseletikette, veral wanneer jy hoogs bederfbare kos koop.
  • Dink slim oor die etes wat jy maak en die bestanddele wat jy het. Byvoorbeeld as daar maalvleis van spaghetti bolognese oorbly, maak die volgende aand lasagna daarvan.
  • Meet porsiegroottes vir maaltydvoorbereiding. Vries of deel oorskietkos uit.
  • Kry vir jou huishouding ’n komposhoop of wurmplaas waarin jy kos wat sleg begin word kan komposteer.
  • Neem deel aan gemeenskapspogings om oortollige voedsel te herwin en voedselherverdeling te ondersteun.
  • Spreek jou op sosiale media uit en help om voedselvermorsing onder mense se aandag te bring.

Ds Fay van Eeden is predikant by die NG Gemeente Stellastraat in Pretoria en ’n eko-blogger.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top