Meer van U, Heer deur Farren Cloete
Uitgewer: Lux Verbi, 2026
Resensent: Samantha Chamberlain
Farren Cloete se Meer van U, Heer is ’n dagstukkieboek wat maklik lees, maar jou terselfdertyd uitdaag om dieper oor jou geloof na te dink.
Luister ook hierdie Kollig-podsendinggesprek: Luister | ‘In my andersheid het God my geroep’ – Farren Cloete oor dominee en jou eie mens wees
Die boek, wat spesifiek vir vroue geskryf is, het my beïndruk met die manier waarop dit gemaklike leesbaarheid met teologiese diepgang kombineer. Cloete skryf op ’n verstaanbare en boeiende manier, sonder om die teologiese diepte prys te gee. Die dagstukkies trek jou in en maak jou nuuskierig om verder te lees.
Wat vir my besonders waardevol is, is die ruimte wat elke dagstukkie vir nadenke skep. Dit bied geleentheid om stil te word, vrae te vra en opnuut oor jou verhouding met God na te dink. Die boek herinner jou daaraan dat geloof nie net iets is waaroor ons op ’n Sondag nadink nie, maar deel vorm van ons alledaagse lewe.
Die titel verwoord ’n verlange wat baie gelowiges sal herken: om God beter te leer ken en Hom meer sentraal in jou lewe te plaas.
Meer van U, Heer is ’n uitnodiging tot geestelike verdieping en ’n bewuste wandel met God. Vir vroue wat ’n maklik leesbare dagstukkieboek met betekenisvolle teologiese inhoud soek, is dit beslis die moeite werd om te lees.
Beskikbaar by Takealot.
Ds Samantha Chamberlain is predikant by die NG Kerk Hottentots-Holland.
