Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

⁠Francois Mulder, Laurinda Hofmeyr en Schalk Joubert. Tydens hulle “DROOM DYLAN”-konsert het Francois die lied “Every grain of sand” saam met hulle gesing.

Wanneer Woordverkondigers luister na woordkunstenaars

Wat gebeur wanneer predikante, musikante, digters en musiekliefhebbers met ’n Bybelse bril op na Bob Dylan en Taylor Swift luister? By die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS) het ’n konferensie oor musiek, kuns en geloof ontwikkel tot ’n ontdekking van hoe God se Woord en die woorde van kunstenaars soms in gesprek tree met mekaar. Francois Mulder was een van die aanbieders.

 

Op pad terug ná die Bob Dylan-Taylor Swift-konferensie op Wellington, luister ek en my vrou Karina na die Walliese sanger-liedjieskrywer Martyn Joseph se 2019-lied “Driving her back to London” vanaf sy album “Here come the young.” Die lied vertel hoe hy sy dogter by haar universiteit in Londen gaan aflaai. Op pad maak hulle beurte om musiek te speel:

“Driving her back to London / Home from home for her / Swapping tunes on iPhones / She plays Kings of Leon, I play her Rolling Stones … She plays me Beach House, I play her Blur.”

’n Soortgelyke musikale gesprek tussen generasies het tydens dié unieke konferensie afgespeel met deelnemers gebore in verskillende dekades wat by mekaar kon leer oor twee invloedryke Amerikaanse kunstenaars.

Deelnemers in die beroemde “Donkiebos” by die AMSS in Wellington.
⁠’n Deel van die leergierige konferensiegangers.

Donkies en Dylan

’n Siener wat nie kan sien nie. ’n Donkie wat wél kan sien. En God wat besluit om deur ’n donkie met ’n mens te praat!

Dit was ds Alex Clark se verrassende vertrekpunt toe hy die Bob Dylan-Taylor Swift-konferensie op 20 Oktober 2026 geopen het. Vanuit Numeri 22:20-35 het hy ons herinner aan Bíleam, wat die Engel van die Here nie kon raaksien nie, terwyl sy donkie Hom wel gesien het. Biléam beleef die wonder dat die Here die donkie met hom laat praat om hom tot besinning te roep. Beslis ’n vreemde en ongewone stem! Nét so moet ons ook oop wees om soms God se stem te hoor deur vreemde kanale – soos die kunste en musiek. Ek het dadelik gedink aan Jannie du Toit se “Luisterlied” wat in die laaste vers benadruk dat ons moet luister na hulle “Wat op my buitekring bly staan / Waar vreemde stemme hul bekoor / Gee my oë vir die soekstem / Van ons tyd / God praat / God werk in woord en daad / Hy bou sy koninkryk / En ons leef luisterryk.” Dalk is dit presies wat van Woordverkondigers gevra word: om met oop oë en ore te leef en ook te luister na stemme wat soms buite ons gewone geloofs- en kultuurkringe weerklink.

Die twee-dag-konferensie, soos die vorige twee oor U2 (2024) en Leonard Cohen (2025), het juis hierdie soort luister probeer aanmoedig. Hierdie keer was Bob Dylan, oftewel Robert Allen Zimmerman (1941-), die hooffokus. Met ’n verrassende “Swift twist” is Taylor Swift ook by die gesprek betrek.

Sprekers en organiseerders was vlnr: Deon Meiring (sanger van “Glaskas”); Alwyn Carstens (predikant by Parow-Welgelegen); Le Roux Schoeman (redakteur van Kerkbode); John Vorster (stigter en hoof- uitvoerende beampte Oceanpath.ai); Francois Mulder (predikant by Blancogemeente, George); Marnus Havenga (PSD: Kerklike opleiding, NG Wes-Kaapland); Innè van Zyl (finalejaar-teologiestudent aan die Universiteit Stellenbosch besig met gemeentejaar by Pellissier NG Gemeente); Dewald Jacobs (digter en predikant by Sarepta-gemeente in Kuilsrivier) en Alex Clark (predikant by NG Kerk Ceres).

Dylan en Swift? Rerig?

Die gedagte om Dylan en Swift saam te bespreek, het aanvanklik heelwat grappe opgelewer. Die een is die misterieuse, byna onaantasbare woordsmid wat in die sestigerjare met sy kitaar en mondfluitjie die protesstem van ’n generasie geword het. Die ander is die meer onlangse wêreldwye popverskynsel wie se aanhangers hulleself trots “Swifties” noem.

Maar is Dylan werklik die diepsinnige digter en Swift bloot ’n oppervlakkige popmusiekster? Of onderskat ons dalk die vermoë van kunstenaars om deur verskillende genres en generasies heen mense se lewe met woorde en musiek te verwoord?

Dylan se invloed op populêre musiek en letterkunde is onmiskenbaar. Hy het sosiale, politieke en godsdienstige temas in populêre musiek ingebring en die lirieke tot die vlak van poësie verhef. In 2016 ontvang hy die Nobelprys vir Letterkunde vir die skepping van “nuwe poëtiese uitdrukkings binne die groot Amerikaanse liedtradisie”.

Bob Dylan was met sy kitaar en mondfluitjie die profeet en protesdigter van die sestigerjare en daarna. Die konferensiesaal is versier met foto’s van Dylan deur die jare, sy lirieke en ’n uitstalling van plate en boeke. Op die foto is sy beroemde Gospel-albums uit die tydperk 1979-1981.
Bob Dylan was met sy kitaar en mondfluitjie die profeet en protesdigter van die sestigerjare en daarna. Die konferensiesaal is versier met foto’s van Dylan deur die jare, sy lirieke en ’n uitstalling van plate en boeke. Op die foto is sy beroemde Gospel-albums uit die tydperk 1979-1981.

Een van die redes waarom Dylan se musiek ook vir gelowiges belangrik geword het, is sy besondere geloofsreis. Sy bekering in die laat sewentigerjare het gelei tot drie Gospel-albums: Slow train coming (1979), Saved (1980) en Shot of love (1981). Leonard Cohen, wat Dylan in 1985 beskryf het as “the Picasso of song”, het van Slow train coming gesê dat dit van die mooiste Gospel-liedere bevat wat hy nog gehoor het. Ook Bono, die sanger van U2, het erken dat Dylan hom deur dié album die moed gegee het om openlik oor sy geloof te sing.

Taylor Swift (1989-) se wêreld lyk aanvanklik ver verwyderd hiervan. Tog is haar vermoë om deur persoonlike stories en treffende beelde mense se ervarings te verwoord, ’n belangrike deel van haar aantrekkingskrag. Haar aanhangers hoor hulle eie lewensverhale in haar liedere en voel raakgesien, gehoor en getroos.sc

Die vredesverdrag tussen die Dylan-aanhangers en “Swifties” was dus gou gesluit. Verskillende kunstenaars, eras en musiekgenres, maar dieselfde soeke na betekenis, identiteit en behoort.

Die ongeveer dertig deelnemers was predikante, joernaliste, musikante, ’n digter, ’n teologiestudent, kerklike amptenare en selfs die hoof van ’n KI-maatskappy. Terugskouend was ons egter veel meer as ons onderskeie professies: ’n groep digters, filosowe, kultuurontleders, Bybellesers, musiekwaardeerders, kunstenaars en Godbewonderaars wat sáám kon dink, kuier en konsert hou en opnuut geïnspireer is deur die Skepper van die heelal om as sy skepsels skeppend te wees tot sy eer.

Die konferensie is genoem na een van Dylan se bekendste, maar ook mees kontroversiële albums, “Slow train coming”, wat hy in 1979 opgeneem het, kort ná sy bekering.

Wanneer ’n lied ’n lewe verwoord

Een van die eerste gesprekke het begin met ’n eenvoudige vraag: Wat is jou gunsteling Dylan- of Taylor Swift-lied, en waarom?

Die antwoorde het gewys hoe diep musiek in mense se lewe verweef is.

Annemarie van Niekerk het bewoë vertel hoe Dylan se seëngebed-lied “Forever young” tydens haar ma se stryd met demensie ’n besondere betekenis gekry het. Dit was die enigste lied waarna haar ma telkens gevra het en wat haar rustig kon maak. Die lied bid: “May God bless and keep you always …” ’n Lied wat dekades gelede geskryf is, het skielik ’n ma en dogter se persoonlike gebed geword.

Taylor Swift se “Shake it off” het weer op ’n heel ander manier aanklank gevind. Een van die “Swiftie-dominees” het dit met groot humor beskryf as ’n soort terapie ná traumatiese beradingsessies, moeilike vergaderings en emosionele hospitaalbesoeke.

Daar is baie gelag, maar ook ’n dieper besef: musiek is nie bloot vermaak nie. Dit help mense om hulle ervarings te verwoord, emosies te verwerk en soms weer moed te skep.

Drie stilwoordmomente met Dylan en die Woord

Die drie halfuur-stilwordmomente wat ek tydens die konferensie aangebied het, was vir my ’n besondere geleentheid om Dylan se musiek en die Bybel met mekaar in gesprek te bring. Ons het telkens na een of meer liedere geluister, ’n paar toepaslike Skrifgedeeltes gelees en daarna ruimte gemaak vir sang, oorgawe, gebed en stilte.

Die eerste stilwordmoment het in die beroemde Donkiebos plaasgevind. Dit is die bosgedeelte by die AMSS waar studente van die destydse Sendinginstituut (1877-1962) aan die einde van hulle studiejare gaan bid het om te luister waarheen die Here hulle stuur as “donkies” wat Jesus in Afrika indra.

In hierdie besondere omgewing het ons na Dylan se “Gotta serve somebody” vanaf sy 1979-album “Slow train coming” geluister. Die lied stel ons voor ’n onontwykbare keuse: Uiteindelik dien elke mens iets of iemand. Die vraag is nie óf jy gaan dien nie, maar wie of wat jou lewe regeer. Dylan sing: “You’re gonna have to serve somebody. Well, it may be the devil or it may be the Lord / But you’re gonna have to serve somebody.”

Die lied se uitdaging om iemand te dien, het in die stilte van die Donkiebos ’n besondere betekenis gekry. Die plek waar generasies jong mense kom luister het na God se roepstem, het skielik ’n ruimte geword waarin Dylan se woorde en Matteus 6:24, ⁠Josua 24:15 en Romeine 6:16 mekaar ontmoet.

Ons het Dylan geantwoord deur “Turn your eyes upon Jesus” en “Kom kniel by die kruis” te sing.

Die tweede stilwordmoment het plaasgevind in die kapel wat destyds Andrew Murray se perdestalle was. Hier het Dylan se “Saving grace” (1980, “Saved”) weerklink. Die lied se belydenis van vertroue op God en sy reddende genade het ons na die hart van die Christelike geloof geneem. Daarna het John Newton se bekende “Amazing grace” in dieselfde kapel weerklink. Dit was een van daardie oomblikke waarin twee liedere, uit verskillende eeue en heeltemal verskillende musikale wêrelde, bymekaar uitgekom het. Newton se ou bekende geloofsbelydenis en Dylan se meer onstuimige Gospel-klank het dieselfde waarheid besing: Ons lewe uit genade. Die een lied het die ander verdiep. Kuns en Woord het hier nie met mekaar meegeding nie, maar mekaar aangevul.

Die derde stilwordmoment het rondom twee Dylan-liedere, “Every grain of sand” en “When He returns”, ontwikkel. In “Every grain of sand” besing Dylan die vermoë om selfs te midde van woede en verwarring iets van God se hand in die kleinste besonderhede van die skepping raak te sien: “In the fury of the moment I can see the Master’s hand / In every leaf that trembles, in every grain of sand.”

“When He returns” neem ons weer na die verwagting van Christus se wederkoms. Dylan sing: “Surrender your crown on this blood-stained ground / Of every earthly plan that be known to man, / He is unconcerned / He’s got plans of His own to set up His throne.”

Saam het die liedere ons laat nadink oor God se teenwoordigheid in die klein besonderhede van die lewe, maar ook oor die groter hoop waarop ons geloof rus.

Die stilwordmoment is afgesluit met die bekende Liedboek-lied “Voel jy soms of die Here te ver is”. Die lied het ons almal aangemoedig met die woorde: “… jy moet glo dat die Heer met jou saamloop …”

Dit was nie bloot drie geleenthede om na mooi musiek te luister nie. Dit was drie uitnodigings om met ander ore na Dylan, die Bybel en ons eie geloofslewe te luister. (Die drie aanbiedinge se volledige materiaal is hier beskikbaar: “Stilword met Dylan en die Woord”)

Kunstenaars as profete en storievertellers

Een van die belangrikste gesprekke tydens die konferensie het gegaan oor die waarde en profetiese krag van woorde en musiek. Marnus Havenga (PSD: Kerklike opleiding, NG Wes-Kaapland) het drie kunstenaars uit verskillende generasies en kunsvorme hieroor aan die woord gestel.

Deon Meiring, hoofsanger en liedjieskrywer van die Afrikaanse rockgroep Glaskas, het beklemtoon dat kunstenaars dikwels besonder sensitief is vir wat rondom hulle gebeur. Hulle voelers tel soms dinge op wat ander miskyk. Soos gelykenisse en die Psalms kan stories en gedigte deur mense se skanse breek en die hart bereik. Daarom behoort die kunste ook ’n groter plek in die erediens te kry.

Vir Meiring is Dylan in die eerste plek ’n digter en daarna ’n musikant. Hy het ook met groot humor vertel hoe hy Taylor Swift se “You need to calm down” in 2019 vir die pret in Afrikaans vertaal en op TikTok geplaas het: “… raak vir my rustig / jy is te luidrugtig / soos, jy moet net stop / soos, hou tog net op / om te trap op my rok / jy moet rustig word.”

Innè van Zyl, ’n finalejaar-teologiestudent wat haar gemeentejaar by Pellissier NG Gemeente doen, het weer die krag van Swift se storievertelling beklemtoon. Sy beskryf Swift as ’n soort kortverhaalskrywer wat deur haar liedere tonele skep waarin aanhangers hulleself herken. Haar musiek gee veral aan jonger vroue woorde om hulle ervarings, vreugdes en seerkry te verwoord.

Die digter en predikant Dewald Jacobs van Sarepta-gemeente het die gesprek met Adam Small se bekende gedig “Wie’s hy?” begin. Daarin sit Small digkuns as anders kyk, raaksien, benoem en verwoord op die tafel, maar ook dat almal spontaan digters kán wees. Uit sy eie digbundel WEERSTAND het Dewald in aansluiting by Small ’n gedeelte uit “Verbeeldingskind” voorgelees:

“Jy hardloop weg na die metaforiese euforie, dit is hier waar jy vrede, vreugde en lewe vind; jou realiteit herskryf in ’n verbeeldingryke storie, dit is jou ontsnappingsweg van die gejaag na wind. In lirieke, digkuns en prosa skets jy die lewe …”

Jacobs het daarop gewys dat digters en woordkunstenaars mense dikwels help om woorde te vind vir ervarings en emosies waarvoor hulle self nie taal het nie. Dit is ook wat die Psalms doen. Hy het prof Dirkie Smit se vraag aangehaal: “Wie luister na die klanke van die lewe?”

Dit is ’n vraag wat predikante gerus ’n bietjie ongemaklik mag maak. Luister ons wyd genoeg? Lees ons genoeg? Is ons bereid om buite ons bekende kringe te beweeg en te hoor wat kunstenaars, digters en musikante oor die lewe sê?

Die kreatiewe skeppingsopdrag

’n Besonder persoonlike gesprek het ontstaan toe drie ou universiteitsvriende, Le Roux Schoeman (redakteur van Kerkbode), John Vorster (stigter en hoof- uitvoerende beampte van Oceanpath.ai) en Alex Clark (predikant by NG Kerk Ceres), oor hulle gedeelde liefde vir Dylan gesels het.

Hulle vriendskap dateer uit die negentigerjare. Een van hulle gedeelde herinneringe is ’n sendinguitreik na Mosambiek waartydens hulle een kasset met Dylan-liedere so gereeld gespeel het dat dit behoorlik voos geluister is.

Schoeman beskryf Dylan se musiek as die “klankbaan van my lewe”. Dylan het hom gewys wat met taal en woorde moontlik is. As joernalis sien hy in Dylan se kuns die vermoë om tegelyk ’n spieël en ’n venster te wees: ’n spieël waarin ons onsself herken en ’n venster waardeur ons die wêreld anders kan sien.

Hy het ook Dylan se aangrypende “Last thoughts on Woody Guthrie” met ons gedeel. Dylan het die gedig op 21-jarige ouderdom geskryf nadat hy sy musiekheld Woody Guthrie in die hospitaal besoek het. Die gedig eindig met ’n verrassende beeld waarin God en Guthrie op ’n manier saam in die Grand Canyon teen sonsondergang gevind kan word.

Vorster het weer Dylan se vermoë om die teenstrydighede en kompleksiteit van die lewe te omarm, beklemtoon. Hy het onder meer na “Desolation Row” verwys, ’n indrukwekkende lied van elf minute waarin historiese en fiktiewe karakters en beelde uit verskillende literêre eras saamkom.

Dylan se woorde in Martin Scorsese se dokumentêr “Rolling thunder revue: A Bob Dylan story” het John veral bygebly: “Life isn’t about finding yourself … Life is about creating yourself and creating things.” Dit het hom laat nadink oor die skeppingsopdrag en oor die belangrikheid daarvan om ook sy kinders aan te moedig om skeppend te bly leef, selfs wanneer hulle teleurstellings beleef.

Efesiërs 2:10 het by my opgekom: “God het ons in Christus geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Alex het die gesprek met ’n geloofsbelydenis saamgevat wat vir my die hele konferensie se uitgangspunt verwoord het:

“Ek glo in God as die Skepper wat in elke mens die vermoë geplaas het om te kan skep en die moontlikheid om voortdurend deur Hom omskep te word.”

Genesis 1:27 herinner ons juis dat God die mens as sy verteenwoordiger, na sy beeld, geskep het.

Ons is dus nie net skepsels wat die skepping bewonder nie. Ons is ook skeppende mense, met die vermoë om deur ons woorde, musiek, kuns en dade iets van die Skepper te weerspieël.

Droom Dylan

Die konferensie se musikale hoogtepunt was Laurinda Hofmeyr (klavier en stem) en Schalk Joubert (baskitaar) se DROOM DYLAN-konsert. Laurinda, bekend vir haar toonsettings van Afrikaanse gedigte, het vyf Dylan-liedere op ’n besondere manier vertolk.

Sy het vertel van die skoonheid en eenvoud van Dylan se melodieë, maar ook van die vlymskerp protes wat dikwels in sy lirieke skuil. Dit was my voorreg om saam met Laurinda en Schalk Dylan se “Every grain of sand” te kon sing. Haar eie toonsetting van Fanie Olivier se gedig “Last grave at Dimbaza” het die gehoor sprakeloos gelaat.

Die aand het met ’n staande applous geëindig. Daarna is tot laat gekuier, gesels en gefilosofeer.

Luisterryk leef

Van predikers word verwag om Sondag na Sondag, onder leiding van die Heilige Gees, woordkunstenaars met die Woord te wees. Maar dalk vergeet ons soms dat ons self ook moet leer luister na woordkunstenaars.

Bob Dylan en Taylor Swift, Leonard Cohen en Bruce Cockburn, U2 en Spoegwolf of Koos du Plessis en Frieda van den Heever kan ons help om die tyd waarin ons leef onder woorde te bring.

Hulle psalm-krete, gedig-melodieë, filosoof-gedagtes, pret-rympies, liefde-liedere, profeet-woede en protes-gesange verbreed ons woordeskat. Soms gee hulle ons woorde vir ons eie pyn, vrae en verlange. Soms dwing hulle ons om anders na die wêreld te kyk. En soms help hulle ons om die Skat van die Woord, wat gevul is met oordeelsgedigte, aanbiddingsliedere én verlossingsgebede, opnuut te ontdek.

Dáárom het ons as Woordverkondigers tydens die konferensie geluister na twee besondere woordkunstenaars.

Mag ons oop wees om te luister, te ontdek en voortdurend deur die Skepper omskep te word.

  • Ds Francois Mulder is al 32 jaar predikant, waarvan 20 jaar in Blancogemeente, George.

KYK OOK: Francois se 11-minuutaanbieding oor Musiek as Geloofsontmoeting by die PredikanteSAAMkoms in Augustus 2026: 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.