Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerhard Ferreira van Johannesburg skryf: Terwyl die wêreld in 2026 die 250ste herdenking van die Amerikaanse vryheidstryd van 1776 gedenk wat uit ’n rebelse gees gebore is uit die strewe na verteenwoordiging, herinner dit ons aan eie historiese mylpale soos die Reformasie, die Dordtse Sinode en die Groot Trek in die 1830’s. Hierdie momente in die geskiedenis was elkeen ’n uiting van mense op reis wat geweier het om onder willekeurige onderdrukking te buig, en wat ’n eie orde, vryheid en gemeenskap wou inrig. En net een God te aanbid.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Jean Cooper oor wat sy wille reis deur Afrika hom geleer het
Die rebelse gees teen onreg en tirannie het ’n edele plek in ons erfenis. Martin Luther en Johannes Calvyn het hand aan hand gestaan teen die eensydige gesag van die pous om ’n gesonde, presbiteriaal-sinodale stelsel te vestig waar gesag gedeel en gebalanseer word. Net so het ons voorouers tydens die Groot Trek gesoek na ruimte waar hulle in vryheid kon leef, maar vinnig besef dat vryheidsonafhanklikheid sonder ordelike strukture en wedersydse lojaliteit nie kan standhou nie.
Maar waar lê die grens tussen geregverdige vryheidstryd en vandag se neiging tot onafhanklikheid sonder aanspreeklikheid?
Die huidige spanning: Vryheid sonder aanspreeklikheid?
In die moderne samelewing en soms ook in die kerk, sien ons ’n herlewing van daardie opstand teen gesag. Mense en gemeentes wil vry wees, maar sonder die aanspreeklikheid en verantwoordelikheid van die verband. Hierdie spanning het skerp na vore gekom met die regswêreld se groter klem op korporatiewe bestuur (soos Artikel 22 van die Maatskappywet wat reeds in 2011 in werking getree het), waar roekeloosheid en die afwesigheid van goeie beheer swaar gestraf word.
In hierdie lig word Artikel 22.3 van ons Kerkorde soms deur ’n lens van vrees beskou of ’n inperking van outonomie.
Artikel 22.3: ’n Veiligheidsnet vir die toekoms
Artikel 22.3 is nie ’n sweep in die hand van ’n streng owerheid nie. Dit is die balans tussen aanspreeklikheid en bevoegdheid.
Wanneer ’n gemeente onder erge druk verkeer of deur finansiële en bestuurskrisisse gaan, kan die las te swaar word vir ’n enkele kerkraad om alleen te dra. Leiers loop die risiko van persoonlike aanspreeklikheid wanneer dinge skeefloop. Dit is presies waar Artikel 22.3 en Artikel 22.2.2 as ’n liefdevolle, kerkregtelike veiligheidsnet dien. Die ring is nie daar om te regeer deur te straf nie, maar om as broers en susters hand te verleen voordat krisisse onherstelbaar word.
Bou aan die toekoms
Die roeping van die kerk was nog nooit om in verskanste eilandjies te leef nie. Dordt het ons geleer dat ons mekaar nodig het; Calvyn se visie was ’n gesamentlike liggaam waar die hand nie vir die voet kan sê: “Ek het jou nie nodig nie.”
Daar is niks nuuts onder die son nie. Nes in die 1830’s moet ons ’n toekomsdroom hê vir ons gemeenskap, ons kerk en mekaar. Ons mense kry swaar, daarom die onsekerheid. Ons is mense wat die Helpmekaarfonds kon stig tot eer van ons God en volk. Ons maak weer so.
