Na raming verdubbel die vullis wat die wêreld genereer en weggooi tydens die Kerstyd. Hoofsaaklik as gevolg van meer plastiekverpakking en geskenkpapier. Volgens TheConversation.com gebruik die Britte jaarliks genoeg geskenkpapier om nege maal om die aarde te draai en 40 miljoen rolle plastiekkleefband. Die Kanadese gooi op hulle beurt 545 000 ton geskenkpapier en plastiekinkopiesakke oor die feestyd weg. Die wyse waarop baie van ons Kersfees vier, is nie vir die planeet volhoubaar nie. Hierdie jaar gaan ons gesin poog om die Kersseisoen op ’n meer ekologies sensitiewe wyse te geniet.
Hier is ’n paar aanpassings wat ons gaan maak.

Maak self geskenke
Of dit nou konfyt, piekels of beskuit is – daar is geen beter geskenk as ’n tuisgemaakte geskenk nie. Ek is mal daaroor om tuisgemaakte koekies of lekkers vir my geliefdes te maak. Nie net is dit goed vir die planeet nie, maar ook betekenisvoller as ’n geskenk wat baie male inderhaas gekoop is. Dit is ook baie male ’n goedkoper alternatief.
Vervang goed met ervarings
In plaas van daardie geskenk wat jy nie seker is of die persoon dit regtig gaan gebruik nie, koop vir die persoon ’n teaterkaartjie of geskenkbewys vir ’n slypskool. Of bederf daardie spesiale persoon met ’n intekening op ’n e-publikasie van hulle gunstelingtydskrif of -koerant.
Maak ’n skenking
In stede van geld uitgee op geskenke, maak eerder namens ’n geliefde ’n skenking aan ’n liefdadigheidsorganisasie na aan hulle hart. Ek hou van die gedagte om namens iemand ’n pikkewyn of walvis simbolies aan te neem. Besoek gerus die WWF Suid-Afrika se webblad vir meer inligting.
Kwaliteit bo kwantiteit
Indien jy wel kies om geskenke te koop, koop minder geskenke wat langer gaan hou. Veral wanneer jy vir kinders geskenke koop, vermy goedkoop plastiekspeelgoed wat vinnig gaan breek en weggegooi word. Oorweeg eerder speelgoed wat van hout of lap gemaak is. Kyk ook uit vir tweedehandse speelgoed.
Geskenkpapier en linte
Oorweeg om hierdie jaar die blink geskenkpapier, kleefband en plastieklinte, wat nie herwinbaar is nie, met groener alternatiewe te vervang. Geskenksakkies of materiaallint, wat opgevou en vir volgende jaar gebêre kan word, is wonderlike alternatiewe tot die hope papier wat elke jaar weggegooi word. Waarom probeer jy nie die kuns van Furoshiki hierdie kersfees nie? Furoshiki is ’n tradisionele Japannese metode om geskenke in ’n mooi stuk lap toe te draai; dit dateer uit die 8ste eeu en is oorspronklik gebruik om waardevolle items te beskerm.
Indien jy graag jou geskenke in papier wil toedraai, oorweeg koerantpapier, bruinpapier sonder die plastieklagie, of papier wat maklik skeur – dit is gewoonlik herwinbaar.
Versierings en verpakking
Koop Kersversierings wat jare gaan hou of maak jou eie Kersversierings. Wanneer jou plastiese versierings vervang moet word oorweeg om hulle met plaaslike geproduseerde versierings van hout of lap te vervang. So sorg jy vir die planeet en ondersteun plaaslike besighede en entrepreneurs.
Sê ook nee vir oorbodige plastiekverpakking. Daar is verskeie aanlyn winkels wat nie hulle ware in onnodige plastiek verpak nie.
Kies vir ’n ander tipe Adventkalender
Ek en my dogtertjie is opgewonde oor 1 Desember, want dan word die Adventkalender uit die kas gehaal. Daar word gesê dat die oorsprong van Adventkalenders teruggevoer kan word na die 19de eeu, toe gesinne elke dag in Desember – tot en met Oukersaand – met ’n krytstreep op die vloer of ’n deur gemerk het. Dit het in 1851 gelei tot die skepping van die eerste handgemaakte, hout-Adventkalender. In die vroeë 1900’s het die eerste gedrukte kalenders met klein deurtjies gevolg. Ongelukkig word hedendaagse Adventkalenders dikwels in plastiek toegedraai of van glansende karton gemaak wat nie hergebruik of herwin kan word nie; dit beteken dat dit ná die Kerstyd op ’n vullishoop beland. Gelukkig is daar omgewingsvriendelike opsies beskikbaar.

Ek is mal oor Envirokid se “Forest Friends”-Adventkalender. Hierdie pragtige kalender is digitaal gedruk op 100% natuurlike katoen, wat dit baie duursaam maak. Dit beteken dat dit jaar na jaar gebruik kan word. Ek hou veral daarvan dat jy self kan besluit watter bederfies in jou kleintjies se kalender kom. Ek gaan ons kleinding se kalender hierdie jaar vul met haar gunsteling-lekkers, gedroogde vrugte, Kersversierings vir die boom en koeponne vir ’n fliekaand of gesinsuitstappie.
Ds Fay van Eeden is predikant van Stellastraat-gemeente en ’n ekoblogger.
