Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Koos van der Merwe, Wilbé Engelbrecht en Kobus Engelbrecht met die vrystelling van “My Hande Maak Holtes” in Eden Gemeente in George.

Musiek en aanbidding: Wat jy moet weet oor Koos en Bono se nuwe albums

My twee gunsteling 1960-babas – Koos van der Merwe en Paul “Bono” Hewson – het albei in November húl nuutste “babas” vrygestel: Koos se 15-lied-album “My Hande Maak Holtes” en drie-lied-EP “Die Lae Deur”, en Bono en sy bende – beter bekend as die rockgroep U2 – se album “Carnaval De Luz”, skryf Francois Mulder. Kom ons begin met U2 se Vrydagaand-uitgaan-en-partytjiehou album voor ons saam met Koos ’n Sondagaand met ewige wyn, diep geloofsgedigte en troebadoer-musiek beleef.

KARNAVAL VAN LIG

U2 se album is volgens die liturgiese kalender die een waarna jy moet luister vóór dié jaar se Aswoensdag-album, “Days of Ash”, en Goeie Vrydag-album, “Easter Lily”. My mede-U2-bewonderaar, prof. Johann Rossouw van die Departement Filosofie aan die UV, laat weet my die week: “Ek werk my proe-proe in ons manne se Karnaval in, aangesien ek tans nog sterk onder die betowering van my ander helde, The Church, se nuwe album (hul 28ste album, Lacuna) is.”

LUISTER DIE MUSIEK

Dis inderdaad ’n “Karnaval van Lig” waarmee U2 die Ewige Lig op die donkerte van ons tyd wil laat val. Die Spaanse titel van die album is, soos 1991 se “Achtung Baby” ’n kopknik na Berlyn was, ’n duidelike kopknik na die Spaanssprekende wêreld en Latyns-Amerika. Die karnaval begin einde Februarie 2027 wanneer hul wêreldtoer, genaamd “The Greatest Show on Earth”, in Mexiko afskop. Oor die album en toer praat Bono van “defiant joy” as ’n aktiewe vorm van politieke verset eerder as ontvlugting. Hulle leef Bruce Cockburn se uitdaging om te “kick at the darkness till it bleeds daylight” prakties uit: om te midde van tragedie en trane karnaval te hou, te sing en te dans.

Die album open met “Go” se uitnodiging: “Welcome to tonight, a carnival of light / Illumination is the way to fight this.” Dit is die tema wat deur die album loop: lig as verset teen donkerte. In “If the World Is at War We Better Not Be” weerklink die radikale Kersboodskap wanneer Bono sing: “No such thing as certainty / But I sing this without a doubt / A light has entered the darkness / No darkness can put it out.”

Daar is egter ook baie trane. U2 sluit die album af met die hartverskeurende “Torn”, saam met wyle Dolly Parton. Dit was haar laaste opname, in Junie vanjaar gemaak, voor haar dood op 25 Augustus – presies ‘n maand voor U2 se 50ste bestaansjaar op 25 September. Die lied beskryf die verdeeldheid en verskeurdheid tussen twee broers en ’n ma se trane. Dit word ’n treffende beskrywing van ’n erg verdeelde wêreld waarin ons tans leef.

Maar U2 se karnaval van lig is nie bloot ’n partytjie teen die donkerte nie. Dit stel ook ongemaklike vrae aan die kerk. In “Silencio” hoor ons profetiese protes wanneer Maria, die moeder van Jesus, vir almal wat oor onreg in die wêreld stilbly, sê: “My Son is listening if you got no voice.” En in “The Greatest Show on Earth” word die kerk direk gekonfronteer met die vraag: “Is this a church of love or fear? / Have we made God feel like a stranger here?” “Glorify” gee woorde van opofferende liefde aan die kerk. Ons móét teenoor die wêreld kan verklaar: “There’s nothing you can do / To keep me from loving you.”

Uiteindelik is daar ook hoop en gebed. In “Street of Dreams” hoor ons woorde wat aan Psalm 61 herinner: “God hear me shout / Lend your ear to my prayer / When I’m far from anywhere / Down to my last breath of air.” En in “Midnight Sunshine” herinner hulle dié wat moed verloor het daaraan dat ons uit God se verbeelding gebore is: “In the imagination of God we are all made up.”

Dit is U2 se karnaval van lig: ’n uitnodiging om die donkerte te weerstaan, die kerk aan haar roeping van liefde te herinner en om selfs wanneer alles onseker lyk, aan hoop vas te hou.

DIE PREDIKER WAT DIG ÉN SING 

Aan die anderkant van die wêreld, hier aan die suidpunt van Afrika, het ons Sondagaand 22 November saam met Koos van der Merwe ons hande holtes gemaak tydens die vrystelling van sy nuwe album en EP in Eden Gemeente in George.

LUISTER DIE MUSIEK HIER

Koos sit met sy kitaar en nou en dan ’n mondfluitjie, à la Dylan. Daar heers ’n rustige, amper luierende atmosfeer. Maar elke nou en dan deurbreek hy die stilte met passievolle woorde en note wat hy met soveel gevoel uit sy stem en kitaar wring. Ná U2 se karnaval van lig word ons nou stil met Koos se gedigte en musiek. Die een skreeu soms teen die donkerte; die ander word stil voor God. Maar albei soek na ’n manier om in ’n stukkende wêreld aan hoop vas te hou.

In aansluiting by Prediker se beeld van die gejaag na wind, sing-dig Koos: “my hande maak holtes wat leeg bly / gryp na wat ek nie kan vashou nie / die diepste skoonheid wat my oë sien / verdwyn voor ek kan onthou hoe dit gelyk het / my voete loop dis my aard / ek stuur myself soekende sonder om te weet waarna / ek verlang na wat ek verloor het / maar wonder wat dit was / en of ek dit ooit gehad het.”

Die album dra dieselfde titel as sy digbundel uit 2023: “My Hande Maak Holtes.” Hy vertel dat dit die eerste keer in 18 jaar is dat hy ‘n album vrystel wat uitsluitlik oor ons dieper geloofsreis handel.

Die album begin met die enigste lied waarvan Koos die woorde én musiek geskryf het: “Ek wag hier.” Hy vertel my dat hy die lied spesiaal geskryf het vir verlede jaar se Leonard Cohen-konferensie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington. Hy wou met die lied sê: “Hoor hier wat Cohen aan my doen as ek dig en komponeer.” Weereens, soos met sy 2013 omdigtings van Cohen, klink dit soos Leonard van der Merwe wat by ‘n kaggel sing vir ons in nuwe Afrikaans. 

Die res van die album bestaan uit Koos se gedigte, wat meesterlik deur Wilbé Engelbrecht getoonset is. Die produksie was onder leiding van haar man, Kobus. Hy beskryf hul skynbaar toevallige ontmoeting, meer as ‘n jaar gelede, as ‘n bonatuurlike bestiering. Hy sê: “Daar is iets besonders aan die manier waarop Wilbé se musiek en my poësie bymekaar uitkom. Musiek wat jou laat stilword en jou neem na waters waar rus is.”

HEILIGE STILTE

Regdeur die album loop die smagting na stilte, vergifnis en Goddelike aanraking – die soeke na daardie waters van rus waaroor die Herder-Koning in Psalm 23 gedig het. In “Psalmstilte” bid hy: “Bring die stilte, Heer / Die stilte van ewige klanke / Die heilige stilte, Psalmstilte / Stil, soos by waters waar rus is.” Net soos U2 in “Silencio” waarsku, is hierdie heilige stilte nié ’n verskoning vir stilswye oor onreg nie, maar ’n heilige en helende stilte. Dit is nie die stilte van iemand wat wegkyk wanneer die wêreld seer het nie, maar die stilte van iemand wat voor God tot rus kom. Waar U2 die donkerte met lig en klank trompop loop, nooi Koos ons om in die stilte God se teenwoordigheid te ontdek. 

In “In Die Skuil Tussen Stiltes” kry hierdie verlange ‘n besondere stem: “Daar sal Hy jou vind / Met balsem en olie en ewige wyn / Waar angste van dolheid in die eenkant kom kwyn / Hy is Heer van die stiltes met woorde van hoop / En net Hy is die Een wat jou siel terug kan koop.” 

In “Gebed van ’n Dwaler”, een van die drie liedere op die EP, smag hy na die “Sabbat van nabywees”

Die donkerte word ook belig in “Om Die Nag Aan Te Dra”: “Deur hierdie nag lank en donker / Winter ek ligdag toe, die verre môrester / Die pad deur sulke soort nagte voel oneindig ver / Kom-na-My-toe nagte / Almal-wat-vermoeid-en-belas-is nagte.”

BLOED EN WYN 

In Koos se gedigte word die kruis op ‘n besonder treffende manier verwoord. Die gebeure rondom Golgota kom in enkele liedere deur die beelde van dors, bloed, wyn en brood na vore.

Ons hoor: “Ek het dors, roep ek en drink die wyn / Wat Hy van bloed moes maak.” 

In “Onder Al My Eensaamhede”, een van die liedere op die EP, bely hy: “Anderkant my dors wag u flesse wyn / Blosend onthou my trane Getsemane / Onder al my eensaamhede staan u Naam geskryf / My paar skrapies pyn / Skaam hulle by Golgota / My honger word gestil / Met die duurste brood.”

KOM BEHEER DIE STOF IN MY

“Alles Spel Hom” is ’n geloofsbelydenis oor God se alomteenwoordigheid: “Altyd, orals, alles spel Hom / Wese, plek en ding vertel Hom / Elke nasie kom van Hom / Elke spasie vol van Hom / Alles het sy beeld gekry / Doel en oorsaak als is Hy … Oral waar daar tyd of plek is / Kom besing die groot Ek is / Elke oomblik is dit tydig / Elke plek is tempel heilig.”

Die album sluit af met die aangrypende “Klei” – ’n samevloeiing van Bybelse beelde en gebede wat veral Psalm 139, Jesaja 64 en Jeremia 18 eggo. Ná ’n album waarin Koos sing oor hande wat holtes maak en leeg bly, kom hy uiteindelik by die belydenis dat hy self klei in die Skepper se hande is:

“Dis U Heer wat my lot bepaal / U is outeur van my verhaal / en Heer wanneer ek ver verdwaal / is U die een wat my kom haal / U ken my dae en my gedagtes / U ken my vrae / begeertes, klagtes / Skepperheer, ek is klei / kom beheer die stof in my.”


Ds Francois Mulder is al 32 jaar predikant, waarvan 20 jaar in Blancogemeente, George.

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.