Op 19 November 2026 het ’n groep oud-studente van die Kweekskool op Stellenbosch ná 50 jaar weer bymekaargekom vir ’n besondere reünie. Gawie van Broekhuizen vertel meer.
Daar is heelwat moeite gedoen om soveel moontlik van die persone te kontak wat presies 50 jaar gelede, op 19 November 1976, gelegitimeer is.
Van die 50 persone wat daardie dag gelegitimeer is, is ’n hele aantal reeds oorlede. Ander kon ongelukkig nie die reünie persoonlik of virtueel bywoon nie, terwyl daar ook ’n paar was met wie daar nie kontak gemaak kon word nie.
Nege oud-gelegitimeerdes kon die reünie persoonlik by die Kweekskool bywoon, sommige saam met hul vrouens. Nog elf persone, van wie party in die buiteland woonagtig is, kon danksy wonderlike tegnologie, virtueel deelneem.
Dit was ’n heerlike geleentheid om mekaar ná soveel jare weer te sien. Daar was so baie om oor te gesels en herinneringe en stories van die afgelope 50 jaar se lief en leed met mekaar te deel. Vyf dekades se lewensverhale het gewys hoe elkeen se pad op ‘n unieke manier verloop het.
Een van die manne het die dag só opgesom: “Uit die ondervindings wat vandag gedeel is, is die grootste gemene deler vir my die hand van die Here oor elkeen se lewe.”
’n Ander een het opgemerk: “Dit was ’n belewenis wat ons lank in die hart sal vertroetel.”
Dit was inderdaad veel meer as net ’n terugblik op 50 jaar gelede. Dit was ’n geleentheid om ou bande te hernu, herinneringe te deel en met dankbaarheid terug te kyk op ’n halfeeu se lewensreise en die Here se trou deur al die jare.
Ons wil hiermee ook ons groot dank en waardering uitspreek vir die Argief en Communitas se gasvryheid en tegniese ondersteuning. Hulle het regtig, te midde van hulle jaareind-drukte vir ons ‘n ruimte geskep wat ‘n bepalende rol gespeel het (fisies en virtueel) om dit ‘n aangename en maklike ervaring te maak.
