Christo Greyling was nog ’n teologiese student toe hy in 1987 die nuus kry dat hy MIV-positief is. Vanjaar op 62 kyk hy terug en vertel vir Heléne Meissenheimer oor sy belewenis dat hierdie destydse “doodsvonnis” vir hom, en ook die kerk, nuwe maniere gewys het oor hoe om Jesus se hande en voete te wees vir mense met oordraagbare siektes.
“Ek is baie dankbaar om hier te kan wees,” sê Christo Greyling, die dominee wat in 1992 kitsroem verwerf het as die jong NG predikant wat sy MIV-status bekend gemaak het.
Vandag skat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die aantal mense met MIV/Vigs as meer as 41 miljoen, maar destyds was besmetting deur die menslike immuniteitsgebreksvirus (MIV) iets wat ’n mens liefs stil gehou het.

Hy is die “Vigsdominee” genoem, onthou Christo. Voor daardie Sondagoggend wat hy die aankondiging in sy eerste gemeente in Windhoek gemaak het was dit net ’n klein intieme sirkel wat geweet het dat hy MIV opgedoen het. Hy is ’n hemofilielyer en is met die virus besmet tydens een van sy gereelde behandelings met bloedstollingsmiddels.
Dit het hom en sy vrou, Liesel, vyf jaar geneem voor hy sy status wyer bekend gemaak het. “Die siekte was direk gekoppel aan seks en immoraliteit. Ons het nie kans gesien vir die veroordeling nie,” vertel hy vandag.
As hy vanjaar op 62 terugkyk besef hy daardie Sondag was vir hom die eerste “trigger” na ’n lewenslange roeping om eers in Suider-Afrika en later wêreldwyd mense, spesifiek kerkleiers, te help om nuut te dink oor die rol wat die kerk kan speel om mense met aansteeklike siektes soos MIV/Vigs hoop te gee.

Dit wat eers soos ’n doodsvonnis geklink het, het ’n storie geword waaroor hy hom verwonder. “Dit is net ongelooflik om God se voetstappe te kan sien,” sê die lenige gryskopman met wie ek in November vanjaar gesels het in die sitkamer van my ouerhuis op Stellenbosch. Christo het in die buitekamer loseer toe hy in 1982 ’n eerstejaarstudent in teologie was.
Hy is nog soos ek hom onthou – glimlag en gesels maklik, vriendelik, lank – sy lyf het byna dubbel gevou toe hy onder die skadu van die groot silwereik voor die huis uit sy kar geklim het. Baie studente het deur die jare in ons buitekamer loseer, maar Christo staan uit oor ons as kinders verwonder was dat hy homself soms moes inspuit oor sy mediese kondisie.
Dit is die eerste keer sedert toe dat hy weer in ons huis kom. Ons hoor hy en my ma het mekaar tog tussenin gesien met geleenthede soos die doop van sy twee dogters. Christo en Liesel het in die 2000’s geskiedenis gemaak met hulle geboorte omdat dit met normale bevrugting kon geskied sonder dat sy of die babas met MIV besmet is. Anika (23) en Mia (21), is tans besig met naskoolse studie.

Christo vertel hy en sy gesin bly al jare in Nederland. Die rede hoekom hy in November in die Kaap was, was vir die 25ste bestaansjaarviering van die Christelike Vigsburo van Suid-Afrika (Cabsa of Vigsburo). Dit is ’n geloofsgebaseerde NRO op Wellington wat hy saam met ander met behulp van befondsing vanuit die NG Kerk begin het. Hulle doel: om kerkleiers en ander te bemagtig met kennis en vaardighede hoe om die uitdagings te hanteer wat MIV/Vigs na hulle gemeenskappe bring.
Vir hom voel dit om hier te wees asof sy lewe nou volsirkel gekom het.
“Here, laat u wil geskied, maar hoe U dit gaan doen met MIV weet ek nie”
Christo het van jongs af pyn geken. Hy en sy broer is die derde geslag in hulle familie om met hemofilie gebore te word. Dit beteken hulle bloed het ’n tekort aan ’n sekere bloedstollingsfaktor gehad en hulle moes gereeld behandelings ontvang. Hy het heeltemal sig in een oog verloor en het baie pyn in sy gewrigte gehad.

Vir alles is gebid. Maar hy het nie beter geword nie. Of so het dit vir hom gevoel.
Vir hom as kind was dit moeilik om te verstaan. Hy onthou eendag het hy vir sy dominee-pa Chris gevra, “As die Here dan nou sê ons moet in geloof bid, hoekom vat Hy dit nie weg nie?”
Sy pa het twee antwoorde gegee wat hom sy lewe lank sou bybly. Die een was dat God soms antwoord met “Wag ’n bietjie” en dit is moeilik. Die tweede was dat pyn, lyding en swaarkry soos trappies op ’n leer is wat ’n mens uiteindelik ’n perspektief gee wat ander mense nie het nie.
Nogtans was dit vir hom ’n groot skok om in sy voorlaaste jaar van teologiese studie die nuus te kry dat hy met MIV besmet is. Dit het geklink na ’n doodsvonnis vir sy gesondheid en sy bediening. Hoe kan hy as predikant sê hy het die siekte?
In sy kop was ’n klomp vrae. Vir wie gaan hy vertel? Wat gaan hulle reaksie wees?
Toe bid hy maar: “Here, laat u wil geskied, maar hoe U dit gaan doen met MIV weet ek nie”.
Die pad na Cabsa en later die wye wêreld
“Dominee, ons het baie simpatie met jou, want jy het dit (MIV) ‘onskuldig’ gekry.” Christo beduie met sy vingers “onskuldig” moet hakies kry en vertel dié woorde van ’n ouderling in sy eerste gemeente het by hom iets ge “trigger” wat sy bediening sou word.
“Niemand van ons is onskuldig nie. Jesus moes vir ons kom sterf juis omdat ons stukkende mense is. Ons is almal gebrokenes.” So vertel Christo met ’n driftige erns.

Hy het by sy gemeente as predikant bedank en word van 1993 tot 2001 projekleier en aanbieder van Ou Mutual se “Ek het hoop”-program in Suid-Afrika. Hulle het toe in die Kaap gebly sodat hy naby goeie mediese sorg kan wees. In 1997 het hy gehoor hy het Vigs (verworwe immuniteitsindroom) ontwikkel. Die eerste antiretrovirale medikasie was nog nie algemeen beskikbaar nie, maar hy kon toetsmedikasie bekom. “Dit was nie baie goed nie, maar dit het gehelp,” onthou Christo.
Intussen het die aantal mense met MIV/Vigs wêreldwyd epidemiese afmetings begin aanneem – die meeste van hulle was in Afrika, suid van die Sahara-woestyn. Teen 2000 was MIV-verwante siektes die leidende oorsaak van dood, berig die WGO.

Christo het sy meestersgraad in openbare gesondheid rondom hierdie tyd verwerf. In 2001 het hy saam met mense soos die maatskaplike werker, Logy Murray en ander die Vigsburo met finansiële steun vanaf die NG Kerk begin. “Ons het gevoel die kerk moet die hande en voete wees van Jesus,” beduie die dominee. Hy verduidelik daar was drie maniere waarop hulle die kerk met die uitleef hiervan wou bemagtig: opleiding, toegang tot goeie inligting en kontak met mense wat MIV/Vigs het. Hulle het die holistiese Churches, Channels of Hope program hiervoor ontwikkel. Toe hy in 2002 by die Christelike organisasie World Vision International aansluit, is ’n Afrika-span aangestel om hierdie selfde program vir hulle konteks aan te pas.
Later is hy gevra om die program verder uit te brei na internasionale projekte. Duisende kerkleiers regoor die wêreld is deur Channels of Hope opgelei en uitgedaag om nuut te dink oor komplekse maatskaplike kwessies soos geslagsgeweld, kinderbeskerming, moeder- en kindergesondheid. Meer onlangs selfs ook aansteeklike siektes soos Ebola. Altyd was die fokus om kerkleiers te help met dit wat vir hulle moeilik is, “waarmee hulle struggle”, verduidelik hy.
‘’n Mens mag stoei met die Here en jou vrae vra’
Christo het onlangs as senior direkteur by hierdie globale organisasie afgetree. Hy het al eerlik hieroor geskryf dat hierdie besluit vir hom moeilik was. Sy uitdagings met sy gesondheid het hom egter nie ’n ander opsie gelaat nie. Soos hy sê, “ek het begin sukkel om by te hou.”
In 2008 het hy begin agterkom sy langdurige gebruik van antiretrovirale middels begin newe-effekte begin wys. Sy kognitiewe vermoë het begin rem, soos hy dit stel. Die medikasie het ook veroorsaak dat sy liggaam vinniger verouder. “Ek het op 60 die probleme wat mense op 70 sal hê soos cholestrol, hoëbloeddruk,” sê hy. Sy lewer het ook ernstige skade weens Hepatitis C opgedoen. As gevolg van sy hemofilie het herhaalde bloedings tot ernstige gewrigskade gelei, wat veroorsaak het dat hy al vele gewrigsvervangings gehad het. “Skouers, knieë, elmboog … bionies is ek wel. As ek deur ’n lughawe se sekuriteit stap, gaan al wat ’n liggie af,” spot hy.

Maar hy kla nie. Hy wys na die stewige leerstewels aan sy voete. Dit versterk sy enkels. Daarsonder kan hy nie loop nie. Nederland het uitstekende mediese sorg wat hiervoor betaal. Hy twyfel of hy in Suid-Afrika die skoene sou kon bekostig of die mediese diens wat hy daar ontvang.
Dit is skoene wat besig bly. Christo is voorsitter van die MIV en Reproduktiewe Gesondheidswerkgroep van die Wêreldraad van Kerke se Kommissie vir Kerke oor Gesondheid en Heling.
Ons gesprek draai terug na geloof, pyn en lyding.
Met sy aftrede in 2023 skryf hy in ’n rubriek “Pain and suffering is part of our broken world. We will all experience it. Some more intensely than others. The question is: How will we react to it? I have learned that suffering can either trap you or set you free”.
Tydens ons gesprek praat ons hieroor. Hy verduidelik soos hy dit sien het ’n mens een van twee keuses. Jy kan kies om in jou pyn en lyding te bly. “Of ek kan vir die Here vra ‘Laat u wil geskied en laat u koninkryk kom’ hoe dit ookal gaan uitspeel … en so ’n katalisator word waardeur ander kan groei”.
Maar wat as mense nie kan sin of betekenis vind in hulle pyn of swaarkry nie? Dit is ook reg so, antwoord Christo ’n paar dae later toe ek hierdie vraag vir hom WhatsApp. “Wat vir my belangrik is, is dat ’n mens mag stoei met die Here. En dat jy maar jou vrae mag vra … jy kan dit uitskree, want dit is wat ons in die Psalms sien,” voeg hy by.
Christo skryf ook die afgelope paar jaar aan sy lewensverhaal. Dit is terapeuties, sê hy. Die skrywer, redakteur en voormalige uitgewer Frederick de Jager help hom. Sy raad aan Christo was skryf jou siel uit. “Ek trek nou al by 250 000 woorde! Ons sal seker baie moet sny,” lag hy.
- Aneleh Fourie le Roux, wat in 2005 by Cabsa aangesluit het, is sedert 2019 aan die stuur van hierdie interkerklike organisasie.
Geniet jy om Kerkbode aanlyn te lees? Ondersteun gerus die volhoubaarheid van kerklike joernalistiek deur ‘n Vriend van Kerkbode te word. Klik hier: https://bybelmedia.co.za/donations/vriende-van-kerkbode/
