Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

UV
Die NG Kerk se kuratorium van die NG Kerk Vrystaat het op 17 November drie proponente en agt diensleraars amptelik tot die bediening toegelaat. Foto's: Verskaf

Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet UV se klas van 2026

Die NG Kerk se kuratorium van die NG Kerk Vrystaat het op 17 November drie proponente en agt diensleraars amptelik tot die bediening toegelaat.

Lees ook: Beroepbare proponente en diensleraars: UP se klas van 2026

Proponente

Izak Russell Bekker is op 14 April 2000 in Bloemfontein gebore en het in Bloemhof, Noordwes grootgeword. Hy het in 2018 aan Bloemhof Gekombineerde Skool gematrikuleer en in 2019 aan die Universiteit van die Vrystaat teologie begin studeer. In 2022 het hy die BDiv-graad met lof verwerf. Sy BDiv-tesis se tema was: “The importance of pastoral care”. In 2023 het hy die Nagraadse Diploma in Teologie voltooi, met lof, ook by die Universiteit van die Vrystaat. Hy het ook sy gemeentejaar in NG Moedergemeente Bloemhof in 2023 voltooi en het verder aangebly in 2024 om nog daar werksaam te wees. In 2024 het hy by die Universiteit van die Vrystaat sy MTh-graad met lof behaal. Sy MTh-tesis se tema was: “Missional ethics that transforms society”. Izak beskou homself as ’n passievolle, innoverende persoon wat lief is vir die bediening van die kerk van Jesus Christus. Sy reis tot dusver getuig van ’n man wat deur God geroep is om Hom te dien. Hy bring ’n unieke kombinasie van akademiese diepgang en ’n pastorale hart mee. Hy glo deur God se bestuur en hulp dat hy beslis ’n persoon is wat ’n betekenisvolle bydrae kan maak tot die uitbou van God se koninkryk. Die Here het hom met ’n wonderlike vrou geseën en die twee het op 22 Februarie 2025 getrou. Hy geniet dit om fiets te ry en vis te vang. Hy is dankbaar vir die mense wat God oor sy pad stuur. Hy is tans in ’n beroep. Sy kontakbesonderhede is 066 057 6538 en izakbekker007@gmail.com.

Izak Russell Bekker.

Nielbert Mostert is op 22 Januarie 2002 in Johannesburg gebore. Hy het in Bloemfontein skoolgegaan en matriek geskryf by Hoërskool Sentraal. Hy het in 2021 Teologie begin studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en in 2024 die BDiv verwerf. In 2025 het hy begin met sy MDiv. Die titel vir sy skripsie was: “Disability in the Dutch Reformed Church (DRC): A practical and missiological study”. Die studie poog om die volgende navorsingsvraag aan te spreek: Beïnvloed gestremdheid die sendingstaak van die NG Kerk? Op watter wyse bemagtig die kerk sy lidmate wat met gestremdheid leef om aan die kerk se sendingtaak deel te neem? Hy het sy M-studies ook by die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Hy is ’n persoon wat met ’n siggestremdheid leef. Nielbert het 40% sig in totaal, dit is ook waar die belangstelling vir sy skripsie begin het. Hy glo sy gestremdheid gee vir hom ’n unieke bedieningsgeleentheid. Hy het sy gemeentejaar van 5 September 2025 tot 30 Augustus 2026 by Worcester-Moedergemeente voltooi. Hy geniet dit om te draf en aktief te wees en om met bye te boer. Hy is tans beroepbaar. Sy kontakbesonderhede is 074 077 6170 en nielbertm22@gmai.com.

Nielbert Mostert.

John O’Connor is op 3 Junie 1968 in Bloemfontein gebore en het sy matriek in 1986 aan Hoërskool Dr Viljoen voltooi. Gedurende sy matriekjaar het hy as onderhoofseun van die skool gedien. Ná skool het hy sy nasionale diensplig in die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) voltooi. Gedurende hierdie tyd het hy as ’n junior leier (JL) gedien en ook ’n jaar lank in Angola deurgebring. Ná die voltooiing van sy militêre diensplig het hy sy opleiding in die onderwys voortgesit. In 1995 het hy die  Senior Onderwysdiploma (SHOD) by Bloemfonteinse Onderwyskollege (BOK) behaal. In 2008 behaal hy die BTh in Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) met Honneurs in Praktiese Teologie in 2010, met ’n fokus op Pastoraat. In 2014 slaag hy Grieks I en Hebreeus I by AP Akademie en daarna in 2021 MTh in Praktiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy voltooi Grieks II en Hebreeus II aan Hugenote Kollege in 2023 en behaal ’n Nagraadse Diploma (PGDip) aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is tans ’n diensleraar en is steeds voltyds in die onderwys. Dit is sy begeerte om teen die einde van 2026 vervroegde pensioen te neem, indien omstandighede dit toelaat, sodat hy hom daarna voltyds aan die bediening kan wy. Hy het by verskeie NG gemeentes in die Oos-Vrystaat gepreek en bedien. In 2014 het hy vir ’n jaar lank by die NG Gemeente Rosendal bedien, aangesien die gemeente gedurende daardie tyd nie ’n voltydse leraar gehad het nie. Die afgelope paar jaar is hy by die AP Kerk Clocolan betrokke en preek gereeld op Sondae. Benewens sy betrokkenheid by die bediening is hy passievol oor sy plaas naby Ficksburg. Sy diepste roeping is om die evangelie van Jesus Christus te verkondig: die boodskap van die gekruisigde en opgestane Here. Hy begeer om hierdie waarheid getrou en met oortuiging aan mense oor te dra, deur die krag en leiding van die Heilige Gees. Hy is vanaf 1 Januarie 2027 beroepbaar. Sy kontakbesonderhede is 072 199 7854 en jwoc0721997854@gmail.com.

John O’Connor.

Diensleraars

Adriaan Broodryk is op Maandag, 13 Mei 1996 op Welkom gebore. Sy pa was in die landbou en in kleinhandel. Hy het onlangs afgetree. Sy ma is tans onderwyseres in Odendaalsrus, waar hy ook grootgeword het. Ná hy aan Wessel Maree Hoërskool gematrikuleer het, is hy Potchefstroom toe vir teologiese opleiding as voornemende predikant in die GKSA. Daar het hy sy liefde vir die antieke tale en ekklesiologie ontdek. Hy het tydens honneurs-studie terugslae met sy sig beleef en hy het dit goedgevind om sy roeping te herevalueer. Sedert die pandemie het hy homself askeet gedra en gaan boer, waar hy wel bevestiging vir sy roeping ontvang het. Hy het sy ongelooflike vrou, Jade (néé Venter) in 2020 ontmoet en hulle is onlangs getroud. Sy het haarself as GR bekwaam en werk tans in die privaat sektor. Hy voltooi tans ’n honneurs aan die UV in Nuwe Testamentiese Grieks en Vroeë Christelike Literatuur, met die vooruitsig om komende jaar ’n magister in ’n kombinasie van Grieks en Ekklesiologie te onderneem. Die titel van sy navorsing is “’n Filologiese analise van Titus 1:5-7: ’n Vergelykende studie aangaande Chrusostomus en Calvyn se verstaan van ekklesiologiese beskrywings”. Dit is ook sy voorreg om deeltyds in 2027 aan die UV Grieks te doseer. Sy kontakbesonderhede is bok.broodryk@iCloud.com

Adriaan Broodryk
Adriaan Broodryk.

Altus Carstens is op 28 September 1976 op Sasolburg gebore en het op Sasolburg grootgeword. Hy het in 1994 gematrikuleer aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg en het daarna gaan Regte studeer aan die destydse PU vir CHO. Hy het sy BIuris graad verwerf in 1997, en sy LLB-graad in 1999. Daarna het hy by ’n prokureursfirma op Sasolburg begin met sy klerkskap in 2000. Aan die einde van 2000 bedank hy as kandidaatprokureur en sluit aan by die Metodistekerk van Suid-Afrika. Hy begin sy opleiding as Metodiste-predikant in 2001 en voltooi sy opleiding en studies by die TEEC (Unisa) in 2008. Hy word in dieselfde jaar georden as predikant op 21 September 2008. Hy werk daarna vir 26 jaar by die Metodistekerk. Hy bedank in 2023 as Metodiste-predikant, maar behou ’n pos as pastorale assistent by die Metodistekerk Sasolburg na die voltooiing van opleiding in Pastorale Berading en Versorging (2017-2019) aan die NWU. Hy begin in 2024 deeltyds werk by NG 4 Ankers Sasolburg en NG Fontein Sasolburg. Aan die begin van 2026 stel NG Fontein Sasolburg hom aan as interimleraar met voorwaarde dat hy sy diensleraaropleiding voltooi in 2026. Hy is verbind tot die geestelike ontwikkeling van sy tuisgemeente asook die geestelike en emosionele welstand van hulle gemeenskap. Hy werk as leraar, berader en gemeenskapswerker op Sasolburg. Hy is getroud met NWU-lektor Veruschka sedert 2004 en hulle het een dogter, Alenka, gebore in 2008. Hy hou van lees, navorsing, braai en Bosveldvakansies. Hy is nie beroepbaar nie.

Altus Carstens
Altus Carstens.

Sarahné Dreyer is op 4 September 1998 gebore en het grootgeword in Bloemfontein. Sy het in 2016 aan Eunice High School gematrikuleer en het in 2017 met ’n LLB-graad by die Universiteit van die Vrystaat begin. In 2025 het sy haar BDiv-graad verwerf. Haar BDiv-tesis se tema was: “Contextual translation methods in the mission of the Gospel to the Old Saxons in the 7th to 9th centuries CE: A preliminary historical investigation”. Haar MDiv-tema is: “Atonement and resurrection after death in early 2nd Temple Literature from the perspective of 2 Maccabees 12:38-45”. Die belangrikste aspek van elke mens se bestaan is die verhouding met die Skepper. Dit is vir haar ’n groot voorreg om elke persoon te kan inspireer en motiveer om hierdie verhouding te verdiep en versterk, sodat ons verhoudinge met ons medemense ook dieper en sterker kan word. Sy het ’n groot liefde vir musiek en antieke tale. Sy het in 2022 getrou met haar man, Nico Dreyer, ’n statistieke programmeerder, en hulle het in 2026 hulle eerste kind verwelkom. Sy het in 2026 haar gemeentejaar by NG Kerk Fichardtpark in Bloemfontein voltooi.

Sarahné Dreyer
Sarahné Dreyer.

Leani du Toit (néé Wessels) is op Valentynsdag in 1974 gebore in Pretoria. Haar pa was tot in sy sewentigs professioneel aktief as ’n raadgewende siviele ingenieur. Hy is nou afgetree. Haar ma het drama aan die Universiteit van Pretoria studeer, drie kinders gehad en haar geleer om lief te wees vir lees en leer. Sy sterf op 60 jarige ouderdom as ’n kwadropleeg. Haar ouers begrawe haar jonger broer en suster voor sy matrikuleer aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria. Sy studeer in 1998 af by Tukkies as ’n argitek en begin praktiseer in Windhoek, Namibië. Daar op terreinbesoeke in die Kaokoveld waar sy klinieke en grensposte gebou het, bevestig die Here weer haar roeping aan haar. Sy begin haar teologiese studies op dertigjarige ouderdom aan Dallas Theological Seminary in die VSA. Sy behaal haar meestersgraad daar in 2007 met ’n fokus op leierskapsontwikkeling en sosiale media as medium vir praktiese en gemeenskapsteologie. Sy en haar man, Francois, ontmoet mekaar in 2009 as medestudente in Pastorale Narratiewe Terapie en trou drie maande later. Hulle word in 2012 saam sendelinge van NG Kerk Oosterlig. In 2019 op 45 jarige ouderdom word sy ’n vintage aanneemma vir hulle Sesotho-dogtertjie – Leila. Sedert 2020 doen sy geloofsvorming, trauma-ontlonting en pastoraat aanlyn met bedieningsleiers regoor die aarde. Sy geniet fotografie, speurverhale en om nuwe mense te ontmoet. Haar kontakbesonderhede is per WhatsApp 082 693 3302 of leani.dutoit@gmail.com.

Leani du Toit.

Johan Minnaar is op Welkom gebore en het op ’n plaas naby Wesselsbron grootgeword. Sy ouers boer tans buite Bloemfontein, en sy agtergrond het aan hom ’n besondere waardering vir die Vrystaat, sy mense en die gemeenskappe waarin hy grootgeword het, gegee. Sy lewenspad is gekenmerk deur verskillende leerervarings, uitdagings en geleenthede tot persoonlike groei. Hy het ’n diploma in Gasvryheidsbestuur aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie verwerf, wat sy belangstelling in dienslewering en mense se behoeftes versterk het. Mettertyd het sy belangstelling al hoe meer na teologie, geloof en die kerk verskuif. Hy het sy teologiese opleiding met ’n Baccalaureusgraad en ’n Meestersgraad in Teologie (MTh) voltooi. Sy teologiese vorming het hom gehelp om die Bybel, geloofsvrae en die rol van die kerk in mense se lewe dieper te verstaan. Hy stel veral belang in taal, teologie, Bybelvertaling en die manier waarop geloof op ’n betekenisvolle en praktiese wyse met mense se alledaagse lewe verbind kan word. Sy lewens- en studie-ervaring het hom geleer hoe belangrik dit is om met deernis, geduld en begrip na mense te luister. Hy wil graag verder groei in sy roeping en sy gawes gebruik om ander te dien, veral deur begeleiding, geloofsvorming en die opbou van gemeenskappe. Hy sien uit na die volgende fase van sy pad binne die NG Kerk en na die geleenthede wat dit sal bied om saam met ander te leer, te groei en te dien. Sy kontakbesonderhede is 083 648 5680 en jchristiaanm@gmail.com.

Johan Minnaar
Johan Minnaar.

Nelmari Snyman is in Brandfort gebore en het in Bloemfontein grootgeword. Sy het haar laerskooljare by President Brand Laerskool deurgebring en daarna haar hoërskoolloopbaan by Fichardtpark Hoërskool voltooi, waar sy in 2014 gematrikuleer het. In dieselfde jaar het sy die Presidentsverkenner-toekenning by die Voortrekkers behaal. Van 2015 tot 2017 het sy aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, waar sy haar graad in Verbruikerswetenskap, met ’n fokus op voedsel, verwerf het. Sy is tans besig met ’n Nagraadse Diploma in Teologie aan dieselfde universiteit.

Sy werk as Leiers-, Jeug- en Sosiale mediakoördineerder by NG Gemeente Pellissier. Hierdie rol gee haar die geleentheid om by verskillende bedieninge betrokke te wees en mense op verskillende maniere te dien. Dit lê haar na aan die hart om mense te begelei, na hulle stories te luister en hulle te help om geloof prakties uit te leef. Dit is vir haar ongelooflik spesiaal om met kinders te werk en deel te wees van hoe hulle geloof ontwikkel en groei. Sy glo dat elke mens se verhaal waarde het en dat ons baie by mekaar kan leer wanneer ons saam op ons geloofspad stap. In haar vrye tyd geniet sy dit om tyd saam met haar geliefdes deur te bring, by die kerk se bedieninge betrokke te wees en saam met haar twee Skotse terriërs in die natuur te gaan stap. Sy sien uit om verder in haar roeping te groei en God deur haar dienswerk in die kerk te dien. Kontakbesonderhede: 082 660 4974 / nelmarisnyman@gmail.com. 

Nelmari Snyman
Nelmari Snyman.

Dawid van der Merwe is op 28 Augustus 1960 in Springs gebore waar hy grootgeword het en belydenis van geloof in 1977 afgelê het in Springs-Noord-gemeente onder leiding van dr Ries. Hy het gematrikuleer in 1978 by Hoër Seunskool Hugenote en daarna militêre diensplig voltooi en as offisier betrokke gewees by 4 SAI en later Springs-kommando terwyl hy as bankamptenaar by Santambank gewerk het. Hy is getroud met Annamarie en hulle het vier seuns wat almal reeds afgestudeer is en hulle eie loopbane volg. Twee van die seuns is getroud. Hulle oudste seun en sy vrou het twee seuns. Op 1 Januarie 1989 het hy in mynwese betrokke geraak en verskeie posisies gevul van salarisbestuurder tot stelselsargitek om stelsels vir die mynbedryf te ontwikkel en te bestuur. Gedurende sy tydperk by Harmony-goudmyn en Rand Uranium aan die Wes-Rand het hy sy BTh-graad deur Unisa suksesvol voltooi terwyl hy betrokke was by NG Kerk Roodepoort, ook bekend as Veranderde Lewens, se kinderbediening onder leiding van ds Pieter-Nel Klopper en dr Berry de Vos. Hy het later verhuis na Limpopo buite Modimolle. Hulle het met vee geboer tot hulle jongste afgestudeer het, die eiendom verkoop en hulle kom vestig op Hennenman. Hy het met ds Chris van der Linde die moontlikheid bespreek of hy diensleraar kon word. Hy is aanvaar om die oorbruggingsjaar te kon aanpak. Hy is betrokke by Lincare-versorging, hanteer Bybelstudies en bedien ’n geestelike boodskap by Rusoord-aftreeoord op Hennenman een maal per maand. Hy is ook betrokke by die interkerklike maandelikse mannesamekoms tussen NG en AGS, en hou Sondagskool vir graad 6 en 7 leerders. Hy glo daaraan om van voor af te lei en ’n voorbeeld te stel. Hy is diensbaar en beroepbaar en bereid om die Woord te verkondig waar nodig by gemeentes wat nie voltyds leraars kan bekostig nie. Kontak hom by 083 343 1125 of dawidivandermerwe@gmail.com.

Dawid van der Merwe.

John Douglas Victor is op 23 September 1998 in Bloemfontein gebore en het in 2016 aan Grey Kollege gematrikuleer. Hy het daarna aan die Fakulteit Godsdiens en Teologie gestudeer waar hy sy BDiv en MDiv voltooi het. Sy MDiv-navorsing het gefokus op hoe geloofstaal en sosiale media mekaar beïnvloed in gesprekke oor geslagsgebaseerde geweld. Sy skripsietema was: “Gender-based violence on social media: A socio-religious rhetoric”. John se bediening lê op die kruispad tussen geloof, tegnologie en gemeenskap. Hy glo dat moderne digitale hulpmiddels die kerk kan ondersteun in haar roeping om naby aan mense te wees, veral deur goeie administrasie, kommunikasie en gemeenskapsbetrokkenheid. Hy het ’n besondere aanleg vir beplanning, administratiewe bestuur en die ontwikkeling van gestruktureerde bedieningsprosesse wat geloofsgemeenskappe help funksioneer met orde en warmte. John se belangstellings sluit in Woordbediening, jeugbediening, ouer- en gesinsbediening en gemeenskapsdiens. Sy roeping is om die lig van Christus te laat skyn, binne en buite die kerkgebou, sodat mense die evangelie as lewende werklikheid kan ervaar. Hy kan by johndouglasvictor@gmail.com of 071 143 3605 gekontak word.

John Douglas Victor.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.