Tydens ‘n onlangse vieringsgeleentheid van die Kerkargief se 200ste bestaansjaar het dit duidelik geword dat dié argief aan die wal van die Eersterivier op Stellenbosch veel meer is as ’n plek waar ou dokumente bewaar word. Dit is ’n plek waar stories bly leef, berig Wilmi Wheeler op KaapKerk.
Dr Diederick Basson, die Bestuurder van die argief, het by die ‘n terugblikgeleentheid op 12 November op Wellington die gehoor daaraan herinner dat elke stuk in die Argief daar is omdat iemand, op ’n bepaalde tydstip, gedink het dit is belangrik genoeg om op te teken en te bewaar, het Wheeler berig. En soveel jare later het daardie woorde, briewe en dokumente steeds iets te sê, luidens die artikel getiteld Argief: Spookvloere, ’n verlore preek en 200 jaar se stories.
Die oorsprong van die Kaapse Sinodale Argief dateer terug na 11 November 1826 toe die Sinode besluit het dat die Actuarius ook as Archivarius moes optree. Die geskiedenis van die NG Kerk in Suid-Afrika strek oor byna vier eeue. Sedert die eerste erediens wat ds Backerius ná die aankoms van Jan van Riebeeck en sy bemanning in 1652 aan die Kaap gelei het, het die kerk gegroei tot ’n wêreldwye geloofsgemeenskap. Die spore van hierdie geskiedenis word vandag in die Kerkargief bewaar, waar ongeveer 5 000 meter rakspasie gevul word met ’n ryk verskeidenheid dokumente en ander historiese bronne, verduidelik dr Amy Rommelspacher, ‘n senior-argivaris by die Kerk Argief.
Sien ‘n volledige tydlyn hier wat by die geleentheid bekendgestel en uitgestal is.
