Die Groote Kerk in Kaapstad het onlangs ’n restitusie-diens aangebied. Dit het sommige ongemaklik gelaat, maar ander is dit eens dat restitusie al uitweg is vir hoop in Suid-Afrika. En dat kerke voorlopers op die pad van herstel en genesing moet wees. Conette le Roux berig.
Verbeel jou die kleinseun van eerste minister HF Verwoerd, wat die “argitek van apartheid” gedoop is, sit teenoor die seun van ’n slagoffer wat in 1985 deur die apartheidsregering vermoor is. Net om die draai is Verwoerd in die parlement vermoor. Die bymekaarkomplek is die eerste gemeente en moederkerk van die NG Kerk in Suid-Afrika.
Wilhelm Verwoerd en Lukhanyo Calata – sy pa was Fort Calata, een van die Cradock-vier wat in 1985 vermoor is – het albei hulle stories op 2 September in die Groote Kerk in Kaapstad gedeel. 300 kerkgangers van uiteenlopende agtergronde het dié oggend kom luister.
Die een gespreksgenoot wat die beeld van ’n liefdevolle oupa moet versoen met sy rol in apartheid wat soveel seer en wonde veroorsaak het.
Die ander, een van die “SAUK agt-joernaliste” wat opgestaan het teen die uitsaaier se beperkende beleid, met ’n diep seer omdat sy pa se dood nooit waarlik erken is nie en omdat die moordenaar/s nooit aan die pen gery het nie.
Beide Verwoerd en Calata, wat hulle albei vir restitusie in Suid-Afrika beywer, het ook onlangs boeke oor “hulle storie” geskryf – Bloedbande – ’n Donker tuiskoms en My father died for this.
Dié diens was die afsluiting van die tweede Restitusie-konferensie in Suid-Afrika.
Dr Deon Snyman, bestuurder van die Restitusie-stigting, sê hulle het Verwoerd en Calata gekies as gesprekgenote om die konferensie af te sluit omdat hulle albei belangrike aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verteenwoordig.
Hy sê ook die Groote Kerk was die ideale plek omdat die “NG Kerk nou met die apartheidsgeskiedenis verweef is”. “Dis belangrik dat daar ’n stem uit die NG geledere moet kom wat wys daar word verantwoordelikheid vir die geskiedenis geneem.”
Net voor Verwoerd en Calata se gesprek het ds Riaan de Villiers, predikant van die gemeente, uit Jesaja 58 gepreek.
Hy verduidelik sy keuse van teks: “Die profeet skep ’n prentjie van hoe ’n herstelde gemeenskap en samelewing kan lyk, maar maak dit duidelik dat die pad soontoe gepaard gaan met praktiese aksies wat van mense gevra word en dit vra vir geregtigheid, selfopofferende liefde en restitusie. Dit is ook voortdurend die boodskap van die Bybel – God wil die wêreld herstel en genees en dit vra van God se mense om die voorbeeld van Jesus te volg in praktiese geregtigheid, selfopofferende liefde en diens. Jesus se pad het uiteindelik ook deur opoffering tot opstanding (herstel, genesing) gegaan.”
Volgens De Villiers is die Groote Kerk in 2018 vir die tweede jaar verbind tot ’n vennootskap met die Restitusie-stigting.
Die doel van die spesiale diens op 2 September was “om ’n transformerende ruimte te word waarbinne ons met vrymoedigheid en eerlikheid kan reflekteer oor die seerkry en pyn in ons land en saam ’n pad van genesing en herstel kan vind”.
De Villiers sê dit kan ook nie slegs by gesprekke bly nie, maar ons moet praktiese stappe en prosesse ontwikkel vir ons gesamentlike pad vorentoe en ons gedeelde toekoms in Suid-Afrika.
Dié gedagte is ook beaam deur die sprekers.
Verwoerd het gesê daar moet “nederige verhoudings” ontstaan. “Wit mense moet wegbeweeg van paternalistiese verhoudings en gelyke verhoudings met swart en bruin mense in Suid-Afrika vestig.”
Calata het gepleit dat restitusie ’n praktiese ding moet wees, soos byvoorbeeld om vir ’n swart kind se opvoeding te betaal. Hy het ook gevra dat die boodskap van restitusie aangegee moet word, want dit is die enigste manier om nog ’n greintjie hoop vir Suid-Afrika te verseker.
Volgens ds Lenois Stander, wat die kerkdiens bygewoon het, was dit ’n lewensveranderende maar “ongemaklike” gesprek. Maar dié gesprek het hom uitgedaag om in die toekoms homself meer in sulke ongemaklike situasies te plaas en te kyk waar hy by die restitusie-proses kan betrokke raak, vertel hy.
De Villiers sê hoewel hy positiewe terugvoer van lidmate en gelowiges gekry het na die diens, het hy ook ’n brief van ’n lidmaat ontvang wat erg kritiek gelewer het.
Hy sê: “Dit is nie ’n maklike pad om te loop nie, maar ons moet nie terugdeins nie.
“Ek besef die belangrikheid om eerstens ten volle te erken en bely, sonder voorbehoud, dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was/is. Ons moet ook ons kerk se aandeel daarin erken, ten volle verantwoordelikheid neem en voorlopers op die pad van herstel en restitusie wees. Ek het ook besef dat ons moet leer om diep, met begrip en empatie, te luister en hoor wat die skade en ongeregtigheid is wat deur apartheid en kolonialisme aangerig is, sonder ontkenning, skuldverplasing en verskonings. Daar is baie stories wat vertel moet word en ons moet ruimtes binne ons kerke skep waar dit gehoor kan word. Herstel is ’n (lang) pad wat geloop moet word, ons kan nie net ‘aanbeweeg’ nie, anders gaan ons hierdie trauma en seer van geslag tot geslag oordra,” sê De Villiers.
Wat is restitusie?
Dr Deon Snyman sê restitusie fokus op die aanspreek van die oorsake wat tot die konflik aanleiding gegee het. Alleen wanneer oplossings daarvoor gevind word, kan mense realisties begin droom dat dit tog moontlik is om in vrede met mekaar saam te woon.
