Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Okkie Stander, hoof van Huis JJ Watson in George, stuur hierdie indrukstuk nadat een van die inwoners van hierdie Badisa-aftreeoord se inwoners onlangs oorlede is en Stander begin wonder het hoe dit vir die oorledene se kamermaat moet voel om so “agtergelaat” te word.
Dit is winter en die reëndruppels val saggies teen die kamervenster. Soos die druppels teen die ruit afloop vorm dit sulke lang trane tot dit oor die rand van die vensterraam verdwyn.
Ons is vir die afgelope drie jaar saam in die kamer. Ons het lekker gesels en baie gelag oor al die sêgoed van die kleinkinders. Haar agterkleindogtertjie is ’n bondeltjie vreugde en as hulle ouma kom besoek, het sy my bederf met ’n drukkie.
Skielik het alles begin verander. My kamermaat het ’n ligte beroerteaanval gekry, en sy kon nie meer terug groet as ek soggens môre sê nie. Ek dink sy het weer ’n beroerte gekry, want nou het haar mond net oopgehang en sy kon glad nie praat nie. Dit raak al meer onverstaanbaar vir my. Daar is nou aangekondig dat ons in ’n grendelstaat is. Wat is dit? Skielik dra die versorgers handskoene en maskers. Dit lyk snaaks, maar ek verstaan nou nog minder. Die besoeke van haar kinders het opgedroog en ek mis die bondel vreugde en drukkies van die swartkopdogtertjie. Sy het harder begin asemhaal en die gordyn tussen ons twee is toegetrek. Weer maak ek maar my eie afleidings. Vrydag was haar seun hier. Hy het soos ’n marsmannetjie gelyk met al die jurke, handskoene en maskers. Ek kon sien hy is baie hartseer en het net vir my gewaai toe hy weer loop.
Toe gebeur dit waarvoor ek nog altyd gevrees het. Die suster en twee in uniform storm die kamer binne en die gordyne word toegetrek. Hulle praat nie met my nie. ’n Ruk later stoot ’n man ’n trollie in en laai haar liggaam daar op. Toe weet ek. My keel trek toe en die lang traan soos ’n reëndruppel rol oor my wang. Ek is alleen.
Skielik word haar beddegoed afgetrek en saam met haar klere in swartsakke gedruk. Die matras word afgehaal en die hele bed word met ’n spuitkannetjie gespuit. Ek is nog steeds alleen. Die afskeid van ’n kamermaat sou sagter gewees het as iemand net langs my kom sit het en met my gepraat het. ’n Koppie warm tee sou my gekalmeer het. Nou lê ek alleen in die koue onpersoonlike kamer en wonder oor so baie dinge terwyl ek vanaand iemand mis om net nag te sê. Sien my ook raak, want ek leef mos nog.

A very well written article filled with sympathy and feeling for the one left behind in an even more frightening and confusing world. Perhaps we are naturally inclined to feel passion and sadness for the departed rather than for those left behind in their grief. Thanks again to all at JJWatson for your untiring efforts in providing care for our loved ones.
Ongelooflik treffend
Dis absoluut hartverskeurend. Die wrede manier hoe mense se reg tot menswees net misken en geïgnoreer word. Daar is niemand wat ek jammerder kry as die mense wat in aftree-oorde, versorgingsoorde en siekeboeë moet wees in hierdie tyd, verwyder van hul geliefdes. Ek dink baie sterf net eenvoudig van eensaamheid en verlange en verwerping. Ek hoor ook hoe smag my vriendinne daarna om hul ouers te besoek en hoe bekommerd hulle oor hul emosionele welstand is.