Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In Jesus se voetspore, kan ons nie maar net armoede vergeestelik nie. Vanuit die Accra-belydenis en die GRAPE-inisiatief word beklemtoon dat ekonomiese geregtigheid, menswaardigheid en toegang tot basiese lewensmiddele, wesenlike geloofsake is, berig Annabelle Lombard oor 'n sessie aangebied deur ds Anje Zeeman. Foto: Via NG Kerk Oostelike Sinode se Facebookblad

‘Die ongelykhede gaan net verdiep’: Oostelike Sinode bespreek wat die kerk nie mag miskyk nie

Kerkbode-medewerker Annabelle Lombard berig vanuit Pretoria waar Oostelike Sinode se sinodesitting afgevaardigdes byeenbring om sowat 67 500 belydende lidmate verspreid oor 84 gemeentes in hierdie streek te verteenwoordig en ’n stem te gee. 

“Ons is deel van God se liefdesbeweging na die wereld toe.” 

Dit was die woorde van ds Nico Swart op die tweede dag van die Oostelike Sinodesitting (Vrydag 16 Oktober), maar ook die refrein wat deur elke spreker en taakspan se aanbiedings ge-eggo het – en ook op beliggaam word in die dag se tema naamlik deernis. 

Sinodegangers is bederf met ’n opening in die vorm van ’n eietydse Podsending waar Dss Alicia Bosman en Sheldon Grahan ’n virtuele onderhoud met Petrus van die Nuwe Testament gevoer het. Dit dien ook as voorbeeld van kreatiewe maniere om die Bybel lewend te maak in ’n tyd waar mense al minder lees. 

Prof Stephan Joubert  (foto bo) het ’n toerustingsessie aangebied oor dringende leierskap. Uit Handelinge 17:1-9 en 1 Tessalonisense 1 nooi hy leiers om by die vroeë kerk te leer van intensionele en diensbare leierskap. Die uitdaging is om minder gejaagd te wees en met groter dringendheid te dien. Hy het ook  die koninkryk van God beskryf as ’n alternatiewe manier van leef  – nie ’n aanvulling vir hoe ek leef nie. Ons uitdaging is om te wees wie God ons gemaak het om te wees – en dit elke dag beter te doen.” 

Tydens die wegbreeksessies het Swart terugvoer gegee uit die Missionale Taakspan en aan elkeen ’n gids uitgedeel wat as geloofsraamwerk gebruik kan word om gelowiges te help getuig. Die taakspan is besorg oor die 2026 Kerkspieël-statistieke wat aandui dat slegs 33% van kerke ’n georganiseerde evangelisasiebediening het. Hy sê dit wil voorkom of gemeentes al beter raak in gasvryheid, maar mense buite die kerk moeilik bereik. Hy beklemtoon ook dat evangelisasie oor meer gaan as dat mense Jesus aanneem as Verlosser om hemel toe te gaan, maar dat Hy hulle Here is, wat hulle moet volg en vennote is in Sy plan om die hemel aarde toe bring.  “Die ewige lewe of die lewe in oorvloed is vir nou bedoel.  Die koninkryk van God is in ons midde.” 

“Die ongelykhede gaan net verdiep” 

Sowat 25% van volwasse Suid Afrikaners het nie R760 per maand om van te lewe nie. Ds Anje Zeeman het sinodegangers gekonfronteer met die vraag: “Wat is die werklikhede wat die kerk nie mag miskyk nie?”  Sy het die gehoor begelei deur die lees van Joh. 6:1–14 waar die verhaal van Jesus wat ’n honger skare voed, verbind word met Suid-Afrika se werklikheid van armoede en ongelykheid. In Jesus se voetspore, kan ons nie maar net armoede vergeestelik nie. Vanuit die Accra-belydenis en die GRAPE-inisiatief word beklemtoon dat ekonomiese geregtigheid, menswaardigheid en toegang tot basiese lewensmiddele, wesenlike geloofsake is. Die Miga 6:8-Taakspan het gemeentes genooi om aan die hand van ‘n reeks kontekstuele Bybelstudies, webinars en liturgieëom te onderskei hoe die kerk nie net onmiddellike nood kan verlig nie, maar ook strukture wat armoede in stand hou, moet uitdaag.

Groeteboodskap van die Algemene sindode 

Dr Dewyk Ungerer het namens die Algemene Sinode ’n groeteboodskap gebring. Hy het verwys na die eerste kerkvergadering van die NG Kerk in 1866 op Utrecht. Die oordra van groete is ’n baie ou gebruik wat uitdrukking gee aan die onderlinge band tussen gemeentes en sinodes, soos ons ook in ons belydenisskrifte bely en ons gedeelde roeping in die wereld uitleef. ”In ’n wêreld met soveel uitdagings en nood, wil ons handelaars van hoop wees.” 

Hy verwys ook na die 47 jaar waarin die Oostelike Sinode besig is met haar roeping na binne en na buite. Na byna vyf dekades het dit ’n geweldige voetspoor gelos. Tans is daar ongeveer 67 500 belydende lidmate, 22 600 dooplidmate, 84 gemeentes en 112 leraars verdeel in 11 ringe. Die sinode in al sy bedienings is teenwoordig tussen gesaaides, groot- en kleinvee, mynbou, toerisme en ander industrieë. Die Oostelike sinode se visie is ‘Hoor, dien en lei’ en ons het oor die jare geleer wat dit beteken dat ons mekaar nie wil los nie, maar altyd styf sal vashou – selfs al verskil ons. Namens die Algemene Sinode bid Ungerer afgevaardigedes wysheid en geloofsonderskeiding toe en om getrou te wees aan die eerste waarde wat lui: “ons wil voor God leef soos Jesus ons geleer het!” 

Lydenburg in gesprek

Die Ring van Lydenburg het gevra dat die vergadering luister na hulle aansoek tot die vorming van ’n eie sinode. Die hantering van die besprekingspunt het byna twee ure geduur. Die vergadering het nie hulle voorstel goedgekeur nie. 

Klein botteltjies, groot gif 

Uit die KIeingemeentebediening  se verslag deur ds Tielman Roux, kom die boodskap duidelik: Roeping bo oorlewing. Elke gemeente het ’n unieke verhaal, gawes, gemeenskap en roeping. Klein gemeentes hoef nie groot gemeentes na te boots nie; hulle kan ’n diepgaande verskil maak waar God hulle geplaas het. Die taakspan se verslag bevat navorsing en praktiese hulpmiddels vir gemeentes. In die volgende termyn wil die taakspan ook fokus op toerusting en groter samewerking tussen gemeentes, ringe en gemeenskapsvennote en unieke, volhoubare bedieningsmodelle. “Klein beteken nie minder nie, maar diep spore. Klein gemeentes, groot potensiaal!”  

Geroep, gestuur, gevorm 

Die kwaliteit opleiding wat leraars  kry, het aandag gekry in dr Wicus van der Merwe se inligtingsessie namens die Kuratorium van Transvaal. Dubbelbaan opleiding verseker dat leraars akademies opgelei word soos voorgeskryf deur die kerkorde en gelyklopende kerk-eie opleiding kry. Gemeentes is gerus gestel dat daar erns gemaak word om leraars goed voor te berei en af te rond vir die bediening. Daar is ook waardering uitgespreek vir die reuse voetspoor van NG Kerk dosente binne die kuratorium. 

As nuwe leraar, het ds Alicia Bosman iets van haar opleiding en ervaring van die Kuratorium kom deel. Sy het getuig dat sy so goed as moontlik voorbereid was vir die uitdagings van die praktyk. Sy het ook gesê dit is die enigste fakulteit waarvan sy weet,  waar dosente jou van die eerste jaar af, as kollega aanspreek en jou toerus met ’n kontaklys wat jou netwerk vorm.  

Vennootskap met die CMR 

Tydens die laaste terugvoersessie van die dag is ‘n video van die werksaamhede van die CMR word vertoon. Die Voorsitter van CMR Oos, ds Tielman Roux, het die sinode bedank vir getroue ondersteuning en die CMR -Oos wie se organisasies gespesialiseerde maatskaplike dienste lewer. 

Die Sinode en gemeentes is opgeroep om barmhartigheid as ’n gedeelde geloofsroeping te beskou en sterker met plaaslike CMR-takke saam te werk deur betrokkenheid, kundigheid, leierskap en ondersteuning. Die kernboodskap sluit ook aan by die missionale taakspan en ander sprekers – dat diakonale bediening nie bloot ’n organisasie se taak is nie, maar die kerk se roeping is, waardeur die kerk Christus se liefde sigbaar maak. 

Berig ná publikasie aangepas. – Red. 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top