Rusplek vir regulars, soe­kers en besoekers?

Kerke vat soms pak wanneer hulle sekere mense onwelkom laat voel. En dalk sommer nog ’n hou of twee wanneer hulle dan probeer om daardie einste mense te laat welkom voel. Dit klink na ’n balanseertoertjie as ’n mens dit so abstrak beskryf. Maar as jy by ’n kerkdeur aankom en iemand jou in die oë kyk, is dit dikwels die einde van teorie: Jy voel dit in jou gut. Of nie.

So vertel ’n goeie vriend van my onlangs ’n storie waarop ek dink die betrokke gemeente kan trots wees. Dié vriend, ’n ouer man, is nou al meer as ’n dekade nugter en ’n toegewyde lid van Alkoholiste Anoniem in ’n groot hawestad. Dit beteken hy neem talle dae per week hande met ’n uiteenlopende groep regulars, soekers en besoe­kers wat hul meetings tel­kens met daardie oer-gebed afsluit: “God, grant us the serenity, to accept the things we cannot change, courage to change the things we can, and wisdom to know the difference.”

Dis binne ’n kerksaal wat hierdie toneel homself afspeel, benadruk hy aan my toe hy van my betrokkenheid by die NG Kerk se nuusblad hoor. Dis nie in ’n winkel of ’n pak­huis of – uiteraard – ’n kroeg nie. Dis ’n kerk in ’n besige straat met hoë huurkoste wat die deure oophou vir hierdie groep om mekaar te ondersteun en elke lid uitnooi om “’n God van sy / haar verstaan” te vertrou met hul probleem. Dis die kerk wat ’n dak oor hierdie groep se kop sit. Nie vir mahala nie. Die groep betaal wel huur, maar dis billik. Trouens, die kerk blyk eenvoudig dit te wees: billik. Van die bestuur tot die soms krapperige kerkopsigter wat moet oopsluit en toesluit voor en na die uurlange byeenkomste, wat dikwels met geselsies voor en na die tyd gepaard gaan en dinge sekerlik ook vir hom bietjie uitrek en sy geduld toets. Is alle kerke dan nie respekvol teen­oor hul AA-gaste nie, vra ek? Dit wissel, sê my vriend. Soms is bome ook maar suinig met hul skadu. Maar ander s’n val wyd.