Die spinasie groei geil. Beet en uie en blaarslaai het goeie oeste gelewer. Daar was boontjies en ertjies. Ná ’n jaar van in die stad boer, het die NG gemeente Pierre van Ryneveld baie om oor dankbaar te wees.
Ds Ryno Meyer sê die projek is gebore uit die behoefte om twee dinge te doen.
Eerstens was daar gesinne in die gemeenskap – lidmate en nie-lidmate – wat swaar gekry het en vir wie die gemeente met kos gehelp het. Die behoefte was om vir hulle ook vars groente te kon gee.
Tweedens wou hulle vir mense die geleentheid skep om met ’n klein bietjie moeite ’n groot verskil te maak.
Met ’n groot kerkterrein en grond wat daarvoor benut kon word, is daar besluit om te boer. Dis toe dat Pierre van Ryneveld se paaie kruis met dié van Waterval Christelike Sentrum, ’n organisasie wat groentetonnels oprig met die doel om groente te kweek vir behoeftiges (lees berig hier).
Daarmee het die projek ’n derde mikpunt gekry: om gemeenskapsontwikkeling te doen. Hulle sou op klein skaal vir mense kon werk skep, maar ook vaardighede kon oordra.
Meyer het met ’n groep vrywilligers vergader en elkeen het ’n takie of twee op hom of haar geneem. Dit kon wees om een oggend per week die groente te gaan natlei; of om die statistiek by te hou van wat alles gekweek word en wat daarmee gedoen word; of om die groente te vervoer na waar dit nodig is.
Namate die projek gevorder het, het borge ingespring om byvoorbeeld ’n besproeiingstelsel en bemesting vir die groente te voorsien.
Meyer is ingenome met die oeste wat ingebring is: 16 310 spinasieblare is in elf maande geoes, 475 bete, 222 koppe blaarslaai, 464 uie en nog meer. Daarmee kon hulle vars kos gee vir van die gesinne in die gemeenskap tot hulpprogramme by skole en rehabilitasiesentrums in die omgewing.
Die dankbaarheid daaroor in die gemeenskap is groot, sê Meyer. Gereeld sal iemand wat by ’n behoeftige gesin betrokke is, kom dankie sê.
Daar is een gesin waar die ma met haar bakwerk die broodwinner is. Vir haar spinasietertjies kom pluk hulle spinasie in die tonnels. Al wat hulle moet doen, is om te sê hoeveel hulle pluk sodat die statistiek ter wille van die borge bygehou kan word.
Soms, tussen eredienste op ’n Sondagoggend, word die mooiste slaaikoppe en ander groente aan lidmate verkoop. Dié opbrengs help om die salaris te betaal van ’n werker wat in diens geneem kon word.
Deur die week kom koop huishulpe, tuinwerkers en ander mense uit die gemeenskap groente teen afslagprys.
Meyer sê een van die groot dinge wat die projek gedoen het, is om lidmate se denke te rek oor wat gedoen kan word. Middelklasmense dink maklik die enigste manier om te help, is om geld te gee. Deur die groentetonnels het mense begin beleef dat hulle iets kan doen wat hulle weet ’n verskil maak.
Verder het die betrokke lidmate heelwat geleer oor hoe gemeenskapsontwikkeling werk. Alles het nie altyd maklik verloop nie, maar telkens is daar lesse te leer.
Wessel Jordaan van Waterval Christelike Sentrum sê toe hulle die tonnels kom oprig het, was hulle ’n bietjie skepties, maar Pierre van Ryneveld het ’n groot sukses daarvan gemaak. Die groot ding wat nodig is, is ’n verbintenis om te werk, en dit het hy hier gesien.
