Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tonnels
Wessel Jordaan (regs) en André Enslin by ’n spinasie-oes in een van hulle groentetonnels. Foto: Neels Jackson

Tonnels help armes om self kos te kweek

Dit is die Here se opheffingswerk wat hulle doen, sê Wessel Jordaan oor die 1 100 groentetonnels wat hulle al oor die lengte en breedte van Suid-Afrika in arm gemeenskappe opgerig het.

Jordaan werk onder die vaandel van die Waterval Christelike Sentrum, ’n organisasie sonder winsoogmerk, maar sy salaris kom van sy gemeente, kerksondermure in Centurion. Daarby het Christensakelui van die eiendomsontwikkelaar Sigcon vir André Enslin in diens geneem om die groentetonnels te gaan oprig.

As jy vir iemand net kos gee, help jy hom nie regtig nie, sê Jordaan. Jy maak hom net afhanklik. Hulle oogmerk is om mense te help om vir hulleself kos te kweek. Die geld daarvoor kry hulle van groot ondernemings se begrotings vir maatskaplike verantwoordelikheid of van die Lotto.

Hulle rig die tonnels normaalweg op in arm gemeenskappe. Soms werk hulle saam met kerke, soos toe hulle groentetonnels vir kerksondermure opgerig het in die plakkerbuurt Olievenhoutbosch.

’n Projek soos dié van Pierre van Ryneveld waar die tonnels op ’n kerkterrein in ’n middelklas­buurt opgerig word, is die uitsondering, sê Jordaan. Maar as daar by sulke gemeentes ’n verbintenis is en die kos kom by arm mense uit, sal hulle dit weer doen.

As ’n gemeenskap groentetonnels wil hê, gaan maak Jordaan eers seker daar is genoeg water en sekuriteit en dat die terrein geskik is. Die gemeenskap moet die terrein skoonmaak en die grond omspit.

Waterval Christelike Sentrum rig die tonnels op en voorsien die saailinge.

Die gemeenskap moet elke dag in die tonnels werk. Hulle moet bossies uittrek, water gee en oes. As ’n gemeenskap nie hul kant bring nie, word die tonnels afgehaal.

Van die tonnels word by skole opgerig waar kinders leer om die groente te versorg. “Ons wil die liefde vir boerdery terugbring,” sê Jordaan. Daar is ook groot ondernemings soos Ou Mutual saam met wie daar finansiële en entrepreneursopleiding gedoen word in die gemeenskappe wat die tonnels bedryf.

Dan probeer hulle Christelike organisasies kry om die projekte te bestuur.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top