Die geskiedenis van twee broers – FS en DG Malan – is ’n aanduiding van twee denkskole binne die NG Kerk oor die verstaan en gebruik van die Bybel.
So het dr James Kirkpatrick van die Stellastraatgemeente in Pretoria by Coram Deo en Excelsus se konferensie oor selfdegeslagverbintenisse gesê.
FS en DG Malan was albei godvresende mense wat ernstig was oor die Bybel.
FS was ’n senator wat in Cambridge in die regte gestudeer het. Daar het hy met nuwe denkstrome in aanraking gekom en anders begin dink sonder om sy verbondenheid met Jesus te laat vaar.
Sy broer DG het op Stellenbosch en Princeton in die teologie gestudeer en hom verbind tot die ortodokse gereformeerde teologie.
Toe die teoloog prof Johannes du Plessis aangekla is van leerdwaling omdat hy die Bybel op ’n ander manier begin lees het, het FS Malan vir Du Plessis verdedig, terwyl DG Malan die hoofgetuie teen Du Plessis geword het.
Kirkpatrick het gesê die verskille tussen hulle is paradigmaties van aard. Vandag verstaan mense in die NG Kerk mekaar steeds nie, omdat hulle vanuit twee verskillende paradigmas dink.
Kirkpatrick het gesê Du Plessis het die aanvoeling gehad van ’n kloof tussen eietydse gelowiges en die Bybel. Dié kloof gaan oor sake soos taal, kultuur, denkraamwerk en intertekstuele gesprek.
Een denkskool in die kerk dink dis maklik om oor hierdie kloof te kom, terwyl die ander meen dit is moeilik.
As jy die kloof ignoreer, dan is die aarde plat, dan is Sondagsport sonde en dan is homoseksualiteit sonde.
Die alternatief is om die kloof versigtig te benader en om eers te vra wat ’n teks in sy oorspronklike konteks beteken het, voordat jy vra wat dit nou beteken.
Kirkpatrick het dit geïllustreer aan die hand van Levitikus 18:22 wat in die 1983-vertaling só lui: “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.” Letterlik vertaal staan daar: “Jy mag nie by ’n man lê soos by ’n vrou nie.”
Die 1983-vertaling ignoreer die kloof na die teks toe en dwing ’n eie wêreld op die teks af, het Kirkpatrick gesê.
Waaroor dit gaan, is dat dit in die destydse patriargie ’n sonde was om ’n man soos ’n vrou te behandel. Dit gaan oor die beskerming van ’n patriargie wat vandag nie meer aanvaar word nie.
Kirkpatrick het gesê ’n mens sien DG Malan se soort denke in dinge soos die beleidsdokument Ras, Volk en Nasie, in die aflees van die gereformeerde amptestruktuur uit die Bybel, in wette oor die sabbat en tiendes, in die demonologie en in die standpunt teen homoseksualiteit.
Hierteenoor manifesteer FS Malan se soort denke in byvoorbeeld die beleidsdokument Kerk en Samelewing, in die toelating van vroue tot die ampte en in die herinterpretasie van die Sabbatsgebod.
Op ’n vraag of dié verskille tot skeuring gaan lei, het Kirkpatrick gesê die broers het ondanks hul verskille bymekaar gebly. Hy hoop dit is ’n metafoor vir die NG Kerk.