Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Los die etikette

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henk Gous van Quellerina skryf:

In onlangse politiek is ’n slegte tegniek gebruik, naamlik om agter die persoon wat van jou verskil iets anders te soek. Byvoorbeeld: Toe mense sê #Zuma must fall, soek Zuma se ondersteuners rassisme daaragter. Dus, volgens die tegniek, as ek die president se prestasie kritiseer, is ek ’n rassis.

Piet Otto doen ongelukkig dieselfde in sy “Nee vir gay-verbintenisse”. Hy sê dat enigiemand wat vir gay-verbintenisse ruimte laat, die Skrif verwerp en die mens die norm maak. As ek dus ruimte maak vir gay-verbintenisse, is ek ’n Skrifverwerper.

Ek glo ernstig dat daar ander motiewe kan wees as iemand ruimte maak vir gay-verbintenisse. My motief in my huidige soektog is om juis die Skrif as God se Openbaring verantwoordelik uit te lê, spesifiek met gereformeerde hermeneutiek (uitlegkunde).

Gereformeerde hermeneutiek sluit byvoorbeeld in dat ek volgens NGB Art 2 ook die algemene openbaring as bron vir nadenke hieroor moet neem. Die beste wetenskaplike denke is onontbeerlik as ons oor sulke sake besluit. Sola Scriptura beteken nie dat ons oor byvoorbeeld mediese sake (soos die fisiologiese grond van homoseksualiteit, of behandeling van melaatsheid as ander voorbeeld) slegs die Bybel mag gebruik nie.

Gereformeerde hermeneutiek maak dit onontbeerlik dat ek die voorwetenskaplike taal en kultureel-gefokusde denkkonsepte moet vertaal in huidige taal en denkkonsepte. Dit doen elke dominee in elke preek. Die wysiging van kerklike standpunte (byvoorbeeld vroue wat hoede moet dra) is dus om die Skrif as normata normans betroubaarder te laat spreek.

Dis ook nie bevorderlik vir goeie gesprek om te beweer dat alle andersdenkendes jou slegte name sou noem soos “oningelig” of “fundamentalisties” nie. Daardeur lê ’n mens self beledigings in ander mense se mond en voel dan verontwaardig daaroor.

Daar is deelnemers aan die uiterste punte van die gesprek wat etikette verdien, maar ons moenie veralgemeen nie.

Kom ons soek saam sonder om die “opponent” verdag te maak.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top