Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die woord transformasie het nie noodwendig in ons tyd ’n positiewe konnotasie nie. Om die waarheid te sê, transformasie het vir baie mense negatiewe gevolge in terme van werksverlies en ekonomiese agteruitgang. Transformasie is iets wat afgedwing word en mense word verplig om aan te pas of pad te gee. Mense se lewe word deur transformasie ontwrig.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Freddie-Schoeman-2.jpg” caption=”Ds Freddie Schoeman is sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie.” align=”right” width=”270px”]
Wanneer transformasie deur die Gees van die Here gedryf word, bring dit egter opwindende en energiewekkende beweging wat nuwe hoop en nuwe opgewondenheid oor die toekoms genereer. Dit is die soort transformasie wat al die afgelope ongeveer 15-20 jaar in die NG Kerk besig is om te gebeur. Te midde van baie belangwekkende, en belangrike sake waaraan die kerk moes aandag gee het hierdie transformasie byna ongesiens, onder die radar, plaasgevind.
Dit is die oorgang van die NG Kerk wat gerig is op die instandhouding van die Christendom na ’n kerk wat soepel dinamies word, ’n kerk wat omvorm en transformeer ten einde deel te wees van God se liefdevolle en lewegewende beweging na die wêreld.
Hoewel hierdie beweging al ’n geruime tyd aan die gang gekom het, is dit nou op die voorgrond geplaas deurdat die Algemene Sinodale Moderamen missionale transformasie formeel as een van die heel belangrikste prioriteite van die kerk geïdentifiseer het.
Hierdie besluit van die moderamen kan dalk een van die heel belangrikste besluite van die kerk wees in die onlangse verlede. Dit is gegrond in nuwe nadenke wêreldwyd oor die leer van die Drie-eenheid en die missionale aard van die drie-enige God.
Dit het enorme implikasies vir kerk en kerk-wees en het die potensiaal om geboorte te gee aan ’n kerk wat op nuwe en kreatiewe maniere die evangelie van Jesus Christus vergestalt.
In plaas daarvan dat die sendingwerk van die kerk op ’n armlengte bedryf word en met wisselende mate van entoesiasme ondersteun word deur die kerk, word sending nou deel van die skering en inslag van die kerk. Met erkenning aan die groot werk wat sendelinge die wêreld oor gespeel het en nog steeds speel en met groot opoffering en persoonlike swaarkry gepaard gaan, word daar tans wegbeweeg van ’n model wat net sekere besondere mense as sendelinge beskou het.
Sending is nie meer net die taak van ’n klein groepie sendingbelangstellendes nie. Al hoe meer word ingesien dat almal wat deel is van die kerk, alle gedooptes, gestuurdes is.
Ons word almal meegesleur deur ’n magtige beweging – die beweging van ’n lewegewende God na ’n sterwende wêreld waardeur die magte van selfsug, magsug en hebsug die stryd aangesê word en waardeur mense bevry word en in staat gestel word om te floreer en om sinvolle en betekenisvolle lewens te leef.
Hulle doen dit wanneer hulle die uitnodiging aanvaar om deel te neem aan die ewig-liefdevolle, hoop-gewende, vreugdevolle gemeenskap van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Deelname aan hierdie gemeenskap bring egte, lewegewende transformasie vir gelowiges, vir gemeentes – vir die kerk as geheel. Dit loop uit op ’n samelewing wat gevul is met liefde, pleks van haat, vrede pleks van konflik, vreugde pleks van droefheid en hartseer.