In ’n diep verdeelde gemeenskap waar rasse- en ander spanning dikwels hoog loop, rus daar ’n besondere onus op Christene om God se boodskap van versoening uit te dra.
Maar hoe leef ons as versoeners in ’n gepolariseerde wêreld?
’n Sleutel wat die Here Jesus self vir sy volgelinge gee, is om die minste te wees.
Daarom dat Jesus in Matteus 5:23 en 24 sê as jy jou offer na die tempel bring en dit val jou by dat jou broer iets teen jou het, moet jy eers gaan regmaak met hom. Dan kom jy terug en bring jou offer.
Daar mag redes wees wat baie goed klink waarom daardie broer eintlik die inisiatief moet neem, maar Jesus dink anders. Hy sê dat jy moet gaan.
As dit gaan oor die minste wees, dan stel Jesus die voorbeeld. Eers deur mens te word. Later deur voor sy dissipels te kniel en hulle voete te was – en dit as die voorbeeld voor te hou van wat sy volgelinge moet doen. Uiteindelik gee Jesus sy lewe. Hy offer alles op vir die mense wat Hy liefhet.
In die Lydenstyd is dit ’n belangrike boodskap vir gelowiges: Soos Jesus telkens bereid was om die minste te wees, so moet ons bereid wees om telkens die minste te wees.
Die verrassende getuienis van mnr Adriaan Vlok op die voorblad van hierdie uitgawe, is dat dit nie ’n vernederende ervaring word om die minste te wees, om jammer te sê, om te gaan regmaak met die naaste nie.
Dis ’n verrykende ervaring. Die versoening wat dit bring, bring vrede. Dit bring vryheid. Dit bring liefde in oorvloed.
Vlok het gewaag met die evangelie en dit het vir hom ’n baie beter lewe gebring as in die dae toe hy, in sy eie woorde, ’n meneer was.
Dit mag na ’n riskante weg lyk om telkens die minste te wees. Dit skreeu teen ons menslike instinkte. Maar dit is die weg wat Christus aantoon.
Ons moet net gehoorsaam wees.
