Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ons ken die statistieke – tieners is anders. Na belydenisaflegging sien ons hulle eers weer met hulle troue, vlugtig, en dan weer met die eerste dopeling, en miskien dan as boetie en sussie moet kategese begin. “Die jongmense van vandag ken nie meer die Bybel nie” en “hulle is permanent aan hulle foon geplak” is sêgoed wat jy al iewers gehoor het. Tieners is apaties. Jeugbediening raak meer kompleks.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Dawfre-Theron-2.jpg” caption=”Ds Dawfré Theron is predikant van die NG gemeente Potchefstroom-Die Bult.” align=”right” width=”270px”]
Ons kan so vasgevang word om jeugbediening te “doen” – ons het die wonderlikste kurrikulum en nuutste speletjies en aktiwiteite, ons is so op die voorpunt van die dag se neigings dat ons eintlik agter is. Ons raak so vasgevang in hoe ons doen dat ons vergeet om te kyk wat gedoen moet word.
Ek droom van ’n nuwe paradigma, een wat radikaal anders is as waaraan ons nog ooit gewoond was, hierdie paradigma is eintlik 2000 jaar oud. Jou tieners wag vir jou om op te hou om jou eie en hulle tyd te mors. Hulle is moeg vir speletjies, liedjies sing en nog ’n kamp oor selfbeeld, seks, musiekkeuses en verhoudinge.
Ons tieners is op soek na ’n cause, ’n doel vir hulle bestaan – onthou jy het ’n doel vir jou bestaan gehad: dalk oorlog, weermag, apartheid, depressiejare, vryheid …
Ons sit nou met ’n groep jongmense wat deel is van ’n globale stad, die grense is wyer as Suid-Afrika se 1,221 miljoen km², en nuwe nuus hou net solank soos wat dit bo-aan Facebook bly, dan praat ons nie eens van goeie nuus nie. Ons het hier ’n geslag wat op soek is na ’n doel vir hulle bestaan, en hierdie doel moet hulle eweknieë beïnvloed, en saam hierdie wêreld beïnvloed.
Jeugbediening behoort te gaan oor ’n missie, nie oor byeenkomste, vergaderinge, ’n taaklys, oor of om die visie te vergestalt in ons nabye omgewing nie. Nee, gee vir jou tieners ’n missie – ’n rede vir hulle bestaan. En dit is binne jou bereik: 2 Timoteus 1:6: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas”.
Waar begin ek? Ek bid. Ek bid vir my tieners, vir hulle vriende, vir hulle ouers, vir hulle skool. Begin by die Evangelies en Handelinge – elke bladsy beskryf Jesus se missie op aarde, elke vers beskryf sy boodskap vir sy volgelinge.
Ons jeugbediening kan nie sonder ’n missie nie, ons jeugbediening behoort gefokus te wees daarop om ’n generasie te bereik deur ’n generasie.