Dr Manie Taute en sy vrou, Annelie, is vaardige Lusofone, ofte wel sprekers van die sesde grootste taal in die wêreld, naamlik Portugees. Dit het vir hulle deure geopen vir ’n bediening ver buite die grense van Suid-Afrika. Ernst Muller vertel.
Reeds in hulle studentejare het Manie en Annelie Taute besef dat hulle roeping in die breër wêreld lê. Met die moontlikheid van sendingwerk in die Amasone-gebied van Suid-Amerika in gedagte, begin hulle op universiteit om Portugees te leer.
Met dié belangstelling in Portugees, stuur die weermag hom Caprivi toe, waar hy vlugtelinge uit Angola bedien en Annelie help met die Angolese kinders se skoolonderrig op Buffalo-basis. Ná sy diensplig word hy beroep na die Portugeessprekende NG gemeente in Pretoria, hoofsaaklik saamgestel uit mense wat vanuit Mosambiek en Angola na Suid-Afrika gevlug het.
Ná agt jaar in Pretoria, bedien hulle drie jaar lank die gemeente Angolana op Pomfret in Noordwes. Hulle laaste projek daar was om gelowige leiers te identifiseer en op te lei om die geestelike bediening van hulle verspreide gemeenskappe oral in Suid-Afrika te doen.
Mosambiek
Einde 1993 word Manie na Mosambiek geroep om met teologiese opleiding te help. Ds Wessel Bester en Manie vestig later ’n amptelike teologiese skool vir die Igreja Reformada em Moçambique (die Gereformeerde Kerk in Mosambiek of IRM) op Vila Ulongue, in die noordelike Tete-Provinsie. Dié inrigting word Hefsiba gedoop, Hebreeus vir “die een vir wie die Here liefhet.”
Tydens Manie se tien jaar as hoof van die inrigting, word die vlak van dosente se kwalifikasies en die standaard van onderrig geleidelik verhoog. Danksy samewerking met die Potchefstroomse Universiteit (nou die Noordwes-Universiteit) kan studente internasionaal erkende grade verwerf. Annelie wy haar intussen toe aan toerusting van die voornemende leraarsvroue.
Portugal
In 2005 breek die moeilikste uitdaging nog vir die Taute-egpaar aan, toe hulle na die NG Kerk se klein susterskerk in Portugal beroep word. Die eerste gemeente in Massamá, naby Lissabon, is deur ds Pine Pienaar in die lewe geroep ter wille van gereformeerde gelowiges wat vanaf Suid-Afrika na Portugal verhuis het. Hy bedien die gemeente van 1983 tot 1991.
In 1987 word die Igreja Reformada em Portugal (nou Igreja Reformada Evangélica of IRE) as volwaardige lidkerk van die NGK-familie gestig.
Anders as in Afrika, waar kerke dinamies groei, is daar groot morele en geestelike verval in Europa. Ten spyte van kulturele bande met die Katolieke Kerk, word gereelde deelname aan eredienste en ander kerklike aktiwiteite bereken as laer as 3%. Groot onkunde oor die Bybel en die sentrale rol van Christus heers, wat baie Portugese die prooi maak van sektariese bewegings. Baie jongmense is vasgevang in dwelm- en alkohol-afhanklikheid. Bygelowige en okkultiese bedrywighede is redelik algemeen.
Protestantse gelowiges maak maar 1% van die bevolking van Portugal uit. Gerrie en Arlene Coetzee van die NG gemeente George-Bergsig sluit later by die Tautes aan en begin ’n nuwe gemeente in Forte da Casa. Dit is verblydend dat die helfte van die IRE se lidmate jongmense is, ’n nuwe geslag van getuies, wat bekwame leiers en toerusting nodig het.
Bybelinstituut
Manie se deeglike kennis van Portugees en sy akademiese agtergrond help om nuwe deure oop te maak na die wyer Portugeessprekende wêreld met sy ernstige behoefte aan Bybelgebaseerde toerusting. Die Bybelinstituut van Portugal, wat as ’n afstandsonderrigeenheid van die Noordwes-Universiteit funksioneer, help in dié behoefte voorsien.
’n Internasionale span dosente onder leiding van dr Fabiano Fernandes gee via die internet en groepbesoeke onderrig aan 23 honneurs- en agt meestersgraadstudente wêreldwyd onderrig.
“Ons glo van harte dat die Here ’n groot plan het vir die Portugeessprekende wêreld,” sê Manie. Ten spyte van groeiende sekularisme word die behoefte aan Bybelgebaseerde onderrig sterker onder die 220 miljoen Portugeessprekendes.
Al hoe meer sendelinge word ook vanuit die Latyns-Amerikaanse lande die wêreld ingestuur, insluitende Angola en Mosambiek. Die Bybelinstituut se studente neem leiding in gemeentes en Bybelskole in Portugal, Spanje, Italië, Brasilië, die Asore, Mosambiek en Angola.
Eie aan die NG Kerkfamilie se aard, werk Manie-hulle, die IRE en die Bybelinstituut hartlik met ander protestantse kerke saam, en waar die openheid bestaan, ook met individuele leiers in die Katolieke Kerk.
Naas die sterk aantrekkingskrag van hulle vier seuns, drie skoondogters, vier kleinkinders en ander familie vanuit Suid-Afrika, roep die opleidingsbehoeftes van protestantse kerke in Mosambiek en Angola hulle gereeld terug vir besoeke in Afrika.

Hierdie kosbare werk in Portugal en ander Portugeessprekende lande word ondersteun deur gelowiges en gemeentes in Suid-Afrika, sowel as die Noordelike Sinode, wat hulle in 2005 vir dié werk afgesonder en uitgestuur het vanuit Potchefstroom-Noord wat dien as administratiewe sentrum en geestelike tuiste.
Lusofone in die NG Kerkfamilie? Ja, ook Anglofone, Frankofone en talle ander “-fone”, wat ons herinner dat die bediening van ons diverse kerkfamilie nooit uitsluitlik op die behoeftes van één kultuurgroep gerig was nie, maar op almal wat begerig is om te hoor, en in Manie-hulle se geval, in besonder op dié Portugeessprekendes wat besef dat daar dieper in die Woord gedelf moet word om God se leiding nuut en aktueel te kan beleef.
▶ Vir meer inligting oor die NG Kerk se diens aan die Portugeessprekende wêreld, kontak hermanustaute@gmail.com