Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Flemming wil die Bybel missionaal lees

WHY MISSION?
(Reeks: Reframing New Testament Theology)
Skrywer: Dean Flemming.
Uitgewer: Abingdon Press. Kindle Edition, 2015.


Why Mission Lees die boek“This book is about reading the New Testament in light of the mission of God.”

Dit is hoe Dean Flemming, professor in Nuwe Testament en Missiologie, sy boek, Why Mission, begin. Flemming sien sy werk as poging om die Nuwe Testament missionaal te lees, dit wil sê ’n oefening in missionale hermeneutiek.

Hy probeer wegbeweeg van twee uiterstes: (1) die koue, kliniese “objektiewe”, historiese lees van die Nuwe Testament en (2) die soek na “proeftekste” wat die sen­dingwerk van die kerk regverdig (iets waarteen David Bosch destyds reeds gewaarsku het). 

Flemming se benadering verteenwoordig ’n soort lees van die Bybel wat die praktiese uitdagings van die kerk van Jesus Christus vandag ernstig opneem sonder om die Bybel en sy historiese agtergrond en ontwikkeling geweld aan te doen.

’n Missionale lees van die Bybel beteken dat die begrip “sending” nie as iets wat naas die ander begrippe in die Bybel staan nie (byvoorbeeld regverdigmaking, heiligmaking, ekklesiologie ens), maar as die sentrale tema van die Bybel as geheel hanteer moet word.

Die vertrekpunt van ’n missionale hermeneutiek is dat die Bybel die verhaal van God se sending (missio Dei) deur God se mense in hulle betrokkenheid by God se wêreld ter wille van die geheel van God se skepping vertel. Hierdie verhaal is die sentrale, oorkoepelende verhaal van die Bybel. 

Flemming stel derhalwe voor (op voetspoor van Christopher Wright se boek Mission of God: Unlocking the Bible’s Grand Narrative) dat ons nie meer moet praat van die “Bybelse basis van sending” nie maar van “die missionale basis van die Bybel”.

Hy beklemtoon dat ons die ware bedoeling van die Bybel eers kan ontsluit indien ons ore ingestel is op die musiek van die missio Dei.

Inhoudelik hanteer Flemming Matteus, Lukas, Handelinge, Johannes, Filippense, 1 Petrus en Openbaring en wys hoe ’n missionale lees van hierdie tekste kan lyk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top