Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Trauma van die verlede – hoop vir die toekoms

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die jaar 2016 is gevul met herinneringe aan die trauma van Suid-Afrika se geskiedenis van geweld en onreg.

Dit is vyftig jaar na die gedwonge verskuiwings van die inwoners van Distrik Ses. Dit is veertig jaar na die Soweto-opstande. Dit is twintig jaar na die aanvang van die werksaamhede van die Waarheid-en-Versoeningskommissie waar oorweldigende stories van geweld, lyding en onreg aangehoor is.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Elize-Morkel.jpg” caption=”Dr Elize Morkel is ’n sielkundige van Somerset-Wes, lid van die Algemene Sinodale Moderamen en voorsitter van die taakspan vir die Seisoen van Menswaardigheid.” align=”right” width=”270px”]

 

Ons kan die effek van die historiese trauma nie ignoreer nie. Elke Suid-Afrikaner word daardeur geraak. Selfs diegene wat na 1994 gebore is, ervaar die effek van intergenerasie-trauma. Dink maar hoe die stories van die lyding van oumagrootjies in Britse konsentrasiekampe ons geslagte later steeds affekteer.

As wit Afrikanervrou en lidmaat van die NG Kerk bly die konfrontasie met ons apartheidsverlede die mees traumatiserende en diep beskamende realiteit waarmee ek leef. Met die politieke veranderinge in die 90’s het dit gevoel asof my bekende wêreld skielik omgedop is.

Antjie Krog beskryf wat sy so ontstellend gevind het as verslaggewer by die Waarheid-en-Versoenings-kommissie: “It is not so much the deaths, and the names of the dead, but the web of infinite sorrow woven around them.”

Terwyl ek na die stories tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie geluister het, het ek myself die hele tyd afgevra: “Waar was ek toe hierdie dinge gebeur het?”

Ek het begin moeite doen om uit te reik na swart kollegas en hulle uit te vra oor hul ervarings. Hulle stories het my diep ontstig en die vraag wat by my begin spook het, was: “Hoe is dit moontlik dat ek al hierdie jare as Christen in Suid-Afrika geleef en as sielkundige gewerk het en tog was my lewe onaangeraak deur die “web of infinite sorrow” wat deur die stories van miljoene mense om my geweef is?!

Ek moet erken ek was woedend toe ek besef het in watter mate my mense en my kerk verantwoordelik was vir die geweld en onreg. Ek het alles begin bevraagteken wat ek vantevore as vanselfsprekend aanvaar het.

Een van die pynlikste realiteite wat my getref het, was die baie maniere waarop ek bevoordeel was en steeds bevoorreg is, as gevolg van die onregte van die verlede.

Geborg

Ek het hard gewerk om sin te probeer maak van my eie posisie in die post-apartheid Suid-Afrikaanse samelewing. Daar is kritiese lense wat my in hierdie proses gehelp het. 

Ek het geleer hoe taal as instrument van mag gebruik word om mense te verontmenslik. So het ek grootgeword met “skepsels”, “swartes” en “die volkies” wat duidelik aangedui het dat “hulle” nie soos “ons” was nie en dat dieselfde reëls dus nie gegeld het ten opsigte van hul onderwysgeleenthede, behuisingsbehoeftes, grondbesit, begrotings of waar “hulle” mag swem, speel, eet, slaap en kuier om nie op “ons” gebied te oortree nie.

Geen wonder ek was blind vir die onregte en ongelykhede nie – ek het geleer dit is hoe dit hoort!

Gelukkig het kerke ook ’n groot rol gespeel in die stryd teen apartheid en kon ek begin wyer lees.

Algaande het ek verstaan hoe my godsdiens gevul is met dualismes. Ek is geleer dat liefde vir God apart van en meer belangrik is as liefde vir die naaste. Ook dat individue se redding tot die ewige lewe die belangrikste is met min besorgdheid oor geregtigheid en die waardigheid van daardie mense in hierdie lewe.

In haar boek Trauma and grace illustreer Serene Jones, ’n teoloog, hoe vroue wie se lewe deur trauma geaffekteer is, troos en heling vind in Bybelverhale.

Wat betref my blindheid en apatie vir die onregte van apartheid het ’n gunsteling Bybelstorie, die storie van die Barmhartige Samaritaan, my gehelp. Liefde vir God en naaste is dieselfde ding – dit kan nooit geskei word nie. Liefde vir God vind uitdrukking in liefde vir die naaste.

So, nou verstaan ek dat die hoop vir die toekoms lê in elke Suid-Afrikaner se eerlike konfrontasie met ons pynlike verlede en ons daadwerklike deelname aan die bou van versoening en vertroue.

Soos die Barmhartige Samaritaan beteken dit die waagmoed om ver uit ons pad te gaan om empatie en liefde te beliggaam. Ons kan nie ’n toekoms bekostig waarin ons onbewus, onaangeraak en beskerm leef binne ons sosiale klas waar ons apartheid voortsit agter hoë mure, binne eksklusiewe instellings en gesegregeerde kerke nie.

Soos Jesus moet ons waag om buite ons grense en sosiale reëls lief te hê. Ons moet sy redding teenoor ander uitleef binne verhoudings van waardigheid en geregtigheid vir almal in hierdie lewe, vandag. Dan sal ons oor tien jaar iets hê om te herdenk!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top