Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Wanneer die kerk koninkryk word

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Tydens huisbesoek verlede week, maak een van ons oudste lidmate die volgende opmerking: “Dominee, met koeksisters het ons die orrel betaal!” In dieselfde asem verklaar sy: “Nou is ek oud en kan nog net bid … bid sommer vir almal en alles: die droogte, die regering, my kleinkinders!”

 

In haar opmerking beleef ek die verskillende gestaltes van die kerk. Nostalgies vertel sy van die vroeë oggende in die kerkkombuis waar die susters byeenkom om die maand se koeksisters te bak vir die “Orrelfonds”. Die kerkkombuis was die plek waar stories uitgeruil is; waar nuus oorvertel is; waar daar in mekaar se lief en leed gedeel is.

Net daarna besoek ek ’n jong paartjie wat vertel hoe lekker dit is om die gemeente se doen en late te volg op Facebook en die saam gesels op twitter en Whatsapp. 

Ten spyte van die verskillende generasies wat saam gegroepeer is in een gemeente, het ek weereens besef dat die kerk in die een-en-twintigste eeu steeds die gestalte openbaar van “na binne” leef asook die gestalte van “na buite”. 

Die gemeente beleef vandag nog sy verantwoordelikheid om dit wat sy eie is; sy eie karakter; eie etos te versorg, op te bou en uit te brei. Dit vind plaas in haar eredienste – ’n eie aanbiddingstyl met begeleiding deur ’n orrel en op plekke deur ’n gemeente se orkes. Dominees versorg lidmate deur huisbesoek; hospitaalbesoeke en hulle ondersteun lidmate in traumatiese gebeure in hulle lewe. Gemeentes doen Bybelstudie, het ’n aktiewe omgeegroepbediening, bied ’n Bybelskool aan en poog om lidmate geestelik op te bou en te versterk. 

Op lamppale pryk kleurvolle plakkate van ’n gemeente se jaarlikse kermis of sommer net oudtydse kerkbasaar. Ander adverteer weer een of ander kunstenaar of motiveringspreker wat optree.

Dit word alles gedoen om te sorg dat die gemeente na sy eie omsien en versorg. Fondse word geïn om die begroting te laat klop sodat alle verpligtinge nagekom kan word. 

So leef die gemeente vir haarself en na binne.

In dieselfde asem leef die kerk ook sy roeping uit wanneer sy besef dat geen kerk net vir haarself kan bestaan nie. 

Die afgelope tyd het dit weereens so duidelik geword dat die kerk nooit net vir haarself kan bestaan nie. Water word bymekaargemaak en daar word uitgereik na die droogtegeteisterde gebiede oor die lengte en breedte van ons land. Gemeentes organiseer uitreike en strand­diens- en dienswerkkampe word oral aangebied. Oor land- en taalgrense word sendelinge en werkers ondersteun om die Goeie Boodskap te verkondig. 

Word daar egter so ’n bietjie dieper gekrap as die Sondagafkondigings en die begroting van die gemeente, gebeur die wonderlike dat lidmate buite die formele en amptelike kanale op soveel plekke besig is om hoop te bring en ’n verskil te maak. Daar is die getuienisse van ouers wat ’n ekstra pakkie broodjies inpak skool toe om vir ’n maatjie te gee wat sonder broodjies moet pouse hou, lidmate wat bure of familie ook finansieel ondersteun waar werksverliese plaasvind, ’n man wat in sy werksomgewing ’n bid­uur lei en sy geloof by die werksplek uitleef.

Ons hoor van ’n vrou wat by haar werk die een is by wie almal kom afpak oor spanning by die huis of ’n tiener wat dit moeilik maak.

En dit is die getuienis dat die kerk nooit net leef vir haarself nie, maar juis geroep is om daar te wees vir dié wat nie deel is nie.

So leef die kerk ook na buite!


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.