Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

In Namibië het daar groter rustigheid gekom

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Hoe klop die NG Kerk in Namibië se hart oor sake wat gedien het by ons afgelope sinode?

Kom ons begin by die begin deur daarop te wys dat die NG Kerk in Namibië se hart voor die afgelope sinodesitting al vir ’n geruime tyd onstuimig geklop het.

Dit was die gevolg van besluite of prosesse wat van die Algemene Sinode gekom het. Hiervan was die voorgestelde wysiging van Kerkorde artikel 1, en die selfdegeslagbesluit van 2015 beslis die gewigtigste.

Eersgenoemde het al baie spanning tot gevolg gehad, wat fyn bestuur moes word. Die rede hieragter was dat die Belydenis van Belhar daarin vervat was. Die geskiedenis het al uitgewys dat die kerk in Namibië, in die algemeen, nie ontvanklik is vir die opneem van die belydenis as deel van die belydenisskat nie. Daar word verskeie redes aangevoer, onder andere dat ons in ’n ander land met ’n eie geskiedenis woon, wat nie direk daardeur geraak word nie.

Die 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudinge het hierdie spanning tot breekpunt gevoer. Die moderamen moes vinnig optree om skade in die kerk te voorkom. Dit was gou duidelik dat hierdie kontensieuse saak ook te make het met die manier waarop die gesag en interpretasie van die Skrif hanteer word.

Die groot temas van die sinode was dan gou duidelik naamlik: Die Skrif en Skrifgesag; die kerkverband en selfdegeslagverhoudinge. Die hele sinode het teen die agtergrond van Johannes 17 deeglik stilgestaan by hierdie onderwerpe.

Die vergadering het gekies om eerder van getuienisse as standpunte te praat. Die rede daarvoor is dat standpunte maklik verdelend kan wees (byvoorbeeld die 2015-meerderheidsbesluit oor selfdegeslagverhoudinge), wat ons nie verder kan bekostig nie. Dit, te midde daarvan dat daar sterk teenstrydige posisies hieroor ingeneem is.

Die uitkomste by ons afgelope sinode was duidelik. Oor Skrif en Skrifgesag het die vergadering in wese  getuig dat hy staan by dit wat die NG Kerk in haar laaste besluite daaroor gesê het.

Oor selfdegeslagverhoudinge, of soos hierdie sinode dit noem, selfdegeslag-seksuele verhoudinge, het die sinode wesenlik besluit om te volstaan met die 2006- en 2007-besluite van Namibië en die Algeme­ne Sinode, met ’n breedvoerige getuienis daaroor.

Ten opsigte van die kerkverband het die sinode besluit dat ’n taakspan veral aandag moet gee aan hoe die NG Kerk in Namibië meer kan “ver-inheems”. Daarom moet weer gekyk word na die aard van die verband met die NG Kerk in Suid-Afrika.

Die algemene mening is nie om weg te breek van Suid-Afrika nie, maar dat die aard van die verband hersien moet word. Daar word ook gekyk na ’n meer sinvolle indeling van ringe, beter samewerking op alle vlakke met ander denominasies en veral met kerke van Gereformeerde belydenis.

Die groter moontlikhede van teologiese opleiding in Namibië (wat reeds bestaan) word ondersoek.

Dit was duidelik dat daar na afloop van die sinode groter rustigheid gekom het. Afgevaardigdes is dit eens dat geloofwaardigheid en vertroue in die kerk by lidmate herstel moet word. Ons het goeie moed vir die toekoms van die NG Kerk in Namibië.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top