Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die kerk moet ‘Jesus tussen ander’ wees

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die woorde van Eugene Peterson se vertaling van Johannes 1:14 in The Message het ’n massiewe invloed op my lewe gehad. Hy skryf oor Jesus se vleeswording (inkarnasie): “The Word became flesh and bone and moved into our neigborhood.”

Soos ek al telkemale moes nadink oor die rol en roeping van die kerk, kom Peterson se woorde oor die inkarnasie weer by my op. Ek besef keer op keer dat die grootsheid van Christus se offer nie net in sy kruisdood gesien word nie, maar ook in sy menswording.

Hierdie voorbeeld van Jesus wat die volledige realiteit van die mensdom omarm het deur soos ons te lyk en te praat, en tussen mense te woon, behoort die kerk en elkeen van ons in ons roeping na mense te stuur.

Om die voorbeeld te volg van “Jesus tussen ander” vra iets van ons wat soms baie moeilik is om te gee. Want wanneer ons beweeg na ander mense vra dit iets van ons. Ons gaan sekere dinge moet agterlaat, iets anders moet prysgee, uit ons gemaksone beweeg en heel moontlik luister na mense wat nie tradisioneel deel vorm van ons verwysingsraamwerk nie.

Dan raak kerkwees tussen ander mense ’n realiteit. Indien ons as gelowiges die voorbeeld van Jesus regtig wil volg, sal ons moet begin raakhoor dat Hy ons na mense stuur – stuur om kerk te gaan wees tussen mense.

Daarom moet ons as kerk ’n teologie van “Jesus tussen mense” aangryp.

Ek is betrokke by ’n inisiatief wat poog om gesprek aan te moedig tussen 20- tot 30-jarige wit en swart jongmense. Hierdie “healing table” probeer om eenmaal per maand hier­die persone by mekaar te bring rondom ’n etenstafel. Hier word daar gesels oor moeilike onderwerpe wat meermale die verskillende rasse van mekaar verstoot.

Hoewel hierdie gesprekke gereeld deelnemers aan albei kante van die gesprek ongemaklik laat voel, sien ek in hierdie jong gelowiges die hoop en droom vir die toekoms van ons kerk. Hulle is mense wat ander se leefwêreld begin betree, mense wat mekaar uithoor sonder om hulleself te verdedig, mense wat besef dat “om soos Jesus te wees” dalk mag vra dat ek die gemak van my eie oortuigings ook sal moet verlaat.

Suid-Afrika het nou gelowiges nodig wat volgens Jesus se voorbeeld tussen mense van alle rassegroepe sal begin leef. Indien ons nie Jesus se voorbeeld wil volg nie is ons kerk, maar nog meer die evangelie, in gevaar.

Die kerk van die toekoms sal ’n kerk moet wees tussen mense van verskillende tale, kleure, rasse en agtergronde; en ons moet bereid wees om die prys hiervoor te betaal, anders het ons reeds verloor.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top