Ná Pinkster kom Koninkrykstyd op die kerkkalender.
Jesus het met sy aardse bediening die boodskap gebring dat die koninkryk van God naby gekom het. Hy het dit vir ons kom voorleef, en as sy volgelinge is dit nou ons taak om dit na te leef.
Dis moeilik, want die koninkryk van God is so anders as dit waaraan ons hier op aarde gewoond is. Hier hoor ons dikwels dat daar in ’n land se diplomatieke betrekkinge net een ding is wat tel: eie belang. Hierteenoor gaan die koninkryk van God juis daaroor om ander se belange na te streef.
Die Romeinse ryk destyds, en groot nasies vandag, het groot militêre mag. Hierteenoor is die koninkryk van God ’n saak van vrede.
In die wêreld, deur die eeue, was dit altyd die strewe om te heers. In die koninkryk van God gaan dit daaroor om te dien.
Strukture en stelsels in die wêreld, hetsy polities of ekonomies, is so dikwels daarop gemik om mense uit te buit, hoe subtiel dit ook al gebeur. Die koninkryk van God is gemik op die vervulling van mense. Jesus sê immers self dat Hy gekom het sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Om die waardes van die koninkryk van God uit te leef, vra van ons om teen ons eie, selfgerigte instinkte in te leef.
Dit is nie eenvoudig nie. As ons dit self probeer doen, gebeur dit so maklik dat ons terugval in ’n wêreld wat net om onsself draai.
Daarom is dit goed dat ons as kerk onsself aan die begin van Koninkrykstyd herinner aan die eerste van Jesus se saligsprekinge: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.
As ons nie meer op eie krag staatmaak nie, verander alles. As ons in afhanklikheid van God leef, gee dit ons moed. Moed om die minste te wees. Moed om onsself te gee vir ander. Moed om te dien. Moed om die waardes van God se koninkryk te leef. Moed om die wêreld daardeur te verander.