Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sending is erediens is sending …

Missional Worship, Worshipful Mission: Gathering as God’s People, Going Out in God’s Name
Deur: Ruth A Meyers

Uitgewer: Calvin Institute of Christian Worship (CICW) Wm. B. Eerdmans Publishing Co. Kindle Edition, 2014


Ons weet almal dat die sending van die kerk buite die vier mure van die kerkgebou plaasvind terwyl die erediens iets is wat in die kerkgebou gebeur. Reg? Nee, verkeerd, sê Ruth Meyers in hierdie insiggewende boek.

Die waarheid is dat hierdie twee aktiwiteite, sending en aanbidding in die erediens, so ineengestrengel is dat dit haas onmoontlik is om van mekaar los te maak.

“But I have come to believe that worship itself is an important locus of mission, a place and time where the people of God celebrate and participate in God’s self-giving love for the sake of the world. Moreover, worship and daily life are interwoven in a dynamic relationship. God’s steadfast love and merciful judgment infuse both worship and the world outside worship.”

Lees die boek omslagSy gebruik twee illustrasies om dit wat sy wil sê te verduidelik. Die een is ’n Möbius-strokie (Google dit!). ’n Möbius-strokie is ’n aaneenlopende koeksisteragtige strokie sonder begin en einde. Sending en erediens is ineengestrengel en dit is onmoontlik om te sê waar die een begin en die ander eindig. Sending is erediens is sending … Die erediens as sodanig is alreeds deelname aan die missio Dei, volgens Meyers.

Die ander illustrasie wat Meyers gebruik is dié van ’n ou kinderspeelding, ’n spinnende tol. Die erediens (Woord en sakramente) is die as waarrondom die ander aspekte van die missio Dei (missionale diako­naat, sosiale geregtigheid, evangelisasie) wentel. Dit is beide middelpuntsoekend en middelpuntvlietend. In die erediens ontmoet ons God en vergestalt ons die missio Dei terwyl ons gevorm word om deel te neem aan die missio Dei. Buite die erediens ontmoet ons God waar Hy besig is en deel aan God se lewegewende beweging. Gevorm deur ons ontmoetings met die lewende Jesus in die wêreld, keer ons weer terug na die ere­diens, bewus van die pyn, onreg en hartseer van mense, en bring dit voor God.

Sending en erediens vloei inmekaar en uitmekaar. Dit wat in die erediens gebeur, bepaal dit wat in die wêreld gebeur en dit wat in die wêreld gebeur bepaal dit wat in die erediens gebeur. Dit is ’n dinamiese aaneenlopende ononderbroke vloeiende heen-en-weer proses wat beide bewegings, sending en erediens beïnvloed en versterk.

Hierdie boek verryk ons verstaan van beide die missio Dei en die erediens.

Ds Freddie Schoeman is die sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top