Vergifnis, so vry soos ’n bergfiets – wanneer jy word wat jy weet

“Ek onthou skrapnel, gebreekte glas, brandende voertuie, gillende mense. Die reuk van die dood wat in die lug hang.” Só beskryf ds Chris Barnardo van die NG gemeente Kuilsrivier-De Eike die Kerkstraat-bomontploffing wat hom jare gelede, op ’n vreemde manier, die lewe in geskiet het.

20 Mei 1983. Laatmiddag. Huistoegaantyd. Chris, toe maar vroeg in sy 20’s, stap net by die Lugmaghoofkwartier in Pretoria se gebou uit toe die massiewe motorbom tien minute te vroeg ontplof. Die voertuig se wielvelling vang hom teen die agterkop. Hy verloor sy sig en sy gehoor en ’n stuk van sy skedel in daardie trefoomblik. Sy hele lyf doen brandwonde op.

“Leweloos het ek in Kerkstraat gelê. Sirenes was die klanke van genade – iemand sou my kom haal.” Die bom word onthou as een van die dodelikste terreuraanvalle tydens die struggle. Ongeveer 20 ambulanse is ontbied. 19 mense is dood. Meer as 200 is beseer.

“Ek onthou wanhoop, angs, vrees en moedeloosheid het in die dae en maande daarna my adres besoek en in my kom woon. Ek onthou dat ek van voor af moes leer om alles te doen – leer praat, leer dink, leer vat, leer loop. Moeg en moedeloos. Ek wou ’n einde maak aan hierdie sinlose bestaan. As ek die krag gehad het om by die venster uit te val, het ek dit gedoen,” vertel Chris.

Sy liggaam het geleidelik herstel. Hy het die meeste van sy sig en gehoor wonderbaarlik herwin. Geen breinskade oorgehou nie. Maar sy gees het swaar gekry.

Chris onthou sy “worsteling om te vergewe. Woede, wrokke, aggressie, skuldgevoelens en ontkenning. ’n Sukkelbestaan. Maande, jare lank. Dit vertroebel ’n mens se verhoudings. Die kwaad in jou skaad ander. Mens kan, wil nie gee nie. My mond kon die mooi woorde: ‘Ek vergewe hulle’ sê. Maar my hart kon dit nog nie regkry nie.”

Tot hy Jesus as werklik en lewend bý hom ervaar het. Dít het alles verander. “Ek het uiteindelik gewórd wat ek lankal reeds gewéét het,” verduidelik hy. “Toe ek myself aan dié regte Jesus oorgee, kon ek die bomplanters vrylaat! Toe ek hulle loslaat in God se genade, word ek sélf volkome vry.”

Chris gebruik die beeld van ’n spinning-fiets in die gimnasium: ’n Mens trap dat dit bars, maar jy kom nêrens. So is dit as jy self probeer vergewe. Klim daarteen­oor op ’n bergfiets en ry die veld in: Voel die wind in jou hare, die son teen jou vel. So is dit wanneer jy word wat jy weet.

Daar was nooit vir Chris ’n kyk-in-die-oë kans op versoening nie, want beide bomplanters het in die ontplof-fing gesterf. Hy het sy vryheid anders benut. Jare na die bom, ná 18 jaar by Militêre Intelligensie, het Chris die Here hoor sê: “Jy was baie lank stukkend. Ek wil hê jy moet vir my stukkende kinders gaan sorg.”

Toe hy vir sy kollegas noem dat hy teologie gaan studeer, het een ou gevra: “Wat? Biologie?” Nou is hy reeds 14 jaar lank ’n gemeentedominee. En die lekker-ste van alles? Huisbesoek! Om in mense se seer te gaan sit en te vra: Vertel vir my jou storie …

Natuurlik kan ’n mens nooit so ’n traumatiese lewens-ingryp, soos die Kerkstraatbom, vergeet nie.

“Mens onthou,” sê Chris, “maar hóé ’n mens onthou is belangrik. Ek onthou nou anders. Ek onthou Jesus, in alles. Jesus, wat my seer voel; wat saam met my huil. Jesus, wat hierdie moeë kind veilig terug na God toe help. En ek onthou sonder beklemming of wraak. Littekens is nie seer nie.”

Ds Chris Barnardo lewer graag sy getuienis in gemeentes. Hy kan by arauna@mweb.co.za gekontak word.