Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Versoening

Een van die uitsprake van Jesus Christus wat die radikaliteit van die evangelie die sterkste na vore bring, is sy opdrag dat ons ons vyande moet liefhê.

Eintlik klink die frase “liefde vir die vyand” na ’n inherente weerspreking. Die woord “vyand” impliseer tog juis die teenoorgestelde. Dit roep verskille op, stryd, selfs haat. Dit lê in die wese van die woord “vyand”.

Maar Jesus leer ons anders. As ons Hom wil volg, moet ons die menswees raaksien van diegene wat ons “vyand” noem. Ons moet verby die verskille en stryd kyk, ons moet verby die gevoelens van weersin kom. Ons moet hierdie vyand liefhê.

Dit is nie maklik nie. Dit druis in teen ons menslike in­stinkte. Maar dit is wat die Here van ons verwag.

Nou, met die veertigjarige herdenking van die 1976-jeugopstand in Soweto, is daar ’n besondere geleentheid om hierdie moeilike ding te doen, om weg te kyk van die verskille, die griewe opsy te skuif, en hande te vat.

Kortom, dit is ’n geleentheid om die Christelike boodskap van versoening prakties te laat neerslag vind.

Natuurlik sal daar ook diegene wees wat allerlei politieke besware teen hierdie versoeningspoging sal opper, maar dit sal presies dit wees: politieke besware. En politiek gaan so dikwels oor eie belang, oor selfsugtige behoeftes en vrese, oor selfregverdiging. Oor presies dit waaroor die evangelie nié gaan nie.

Die verrassende – en die evangelie is altyd vol verrassings – van so ’n versoeningspoging sal wees dat ’n mens ’n klomp goed gaan ontdek wat hulle nie verwag het nie. As die twee kante mekaar se menswees gaan begin raaksien en waardeer, gaan albei kante ontdek dat daar baie meer gemeenskaplikhede is as verskille, dat daar baie meer rede is om hande te vat as om te baklei.

En daar is die moontlikheid om te ontdek dat baie mense vir wie ons die etiket “vyand” omgehang het, toe al die tyd broers en susters in Christus is.

Hierdie geleentheid tot versoening is een wat die NG Kerk met albei hande moet aangryp.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top