Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Teologie en wetenskap het die vyandige verhouding van die verlede verruil vir ’n dinamiese vriendskapsverhouding. Vandag kan teologie en wetenskap om dieselfde kampvuur sit en verskeie gedagtes uitruil.
As finalejaar-teologiestudent is ek tans besig met ondersoek na die herkoms van moraliteit, die oorsprong van etiese gedrag en besluitneming. In my ondersoek word ek voortdurend daaraan herinner dat die herkoms van moraliteit nie bloot net vanuit ’n enkele perspektief, uit een vakgebied, benader kan word nie.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/06/Bernice2.jpg” caption=”Bernice Serfontein is ’n finalejaarstudent in teologie by Tukkies. Sy doen haar gemeentejaar by die NG gemeente Suidoos-Pretoria.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Die navorsing binne die filosofie en evolusionêre biologie, om maar net twee voorbeelde te noem, bied merkwaardige perspektief op die mens en die natuurlike neiging tot etiese gedrag.
Ek het egter tot die besef gekom dat ’n teologiese perspektief op die herkoms van moraliteit, alleen, nie voldoende is nie.
Teologie moet oor grense heen beoefen word. Is dit nie juis wat ons nodig het nie? Met die NG Kerk se uitdagings en moeilike vrae oor menswees en seksuele oriëntasie, wat by die afgelope Algemene Sinode opnuut bedink is, is ’n multi-dissiplinêre benadering van kardinale belang. In die woorde van Glen Love: “We have to keep finding out what it means to be human.”
Dit is ons, as kerk, as konkrete, lewendige liggaam van Christus, se voorreg én verantwoordelikheid om aan te hou soek na wat dit beteken om mens te wees. Die insigte van die natuurwetenskappe, soos byvoorbeeld die evolusionêre biologie, bied ’n meer volledige skets van hoe die mens kreatief, tog baie ingewikkeld, aanmekaar geweef is.
Die aandrang dat teologie in dialoog tree met ander dissiplines, en veral die evolusionêre biologie, is vir sommige mense moeilike verskuiwing van denke. Tog is daar, myns insiens, niks wat godsdienstige denke meer irrelevant kan maak as die doelbewuste vermyding of verwerping van evolusionêre biologie of enige ander wetenskaplike ontdekking nie. Buitendien, waarom moet teologie nuwe ontdekkings ignoreer?
Dit is egter belangrik om in ag te neem dat wetenskaplike perspektiewe op menswees nie die religieuse interpretasie daarvan onmoontlik maak nie.
Dit sluit inderwaarheid ’n bepaalde verstaan van die wêreld waarin ons leef oop. Die wêreld wat ons bely deur God geskep is. God moet ook nie weggelaat word in ons verstaan van die wêreld nie. Die God van die Christelike etiek onderhou en orden in wese aanhoudend die wêreld deur die prosesse en patrone van die natuur.
Dit is daarom teologies onvanpas om te beweer dat die natuur óf deur God óf deur die evolusionêre prosesse ge-orden word.
Ons is bevoorreg om teologie, aan die Universiteit Pretoria, oor grense heen te beoefen en sodoende opnuut verstom te staan oor die grootsheid en misterie van die Skepper van ons wêreld.
Die dialoog tussen wetenskap en teologie skep ’n ruimte waarin ons weereens kan besef dat wetenskap geen bedreiging vir die waarheid van die Skrif inhou nie.
Wetenskap maak die wêreld en sodoende die grootsheid van die Skepper, wat ons bely hierdie wêreld geskep het, aan ons bekend, terwyl die Skrif ons inlig oor hoe ons dié God kan ontmoet en Hom kan leer ken as ons persoonlike Vader en Saligmaker.
▶ Bernice Serfontein is ’n finalejaarstudent in teologie by Tukkies. Sy doen haar gemeentejaar by die NG gemeente Suidoos-Pretoria.