Lees ook: Christelike gasvryheid is waaghalsig
“’n Kerk wat haarself van sosiale geregtigheid, gelykheidwaardigheid en menswaardigheid onttrek, het irrelevant geword,” sê Lovelyn Nwadeyi tydens haar toespraak by die Winterskool.
Nwadeyi, ’n nagraadse student in politieke wetenskap, het einde Oktober 2015 een van die sleutelrolle in die #feesmustfall-veldtog by die Universiteit Stellenbosch (US) gespeel. Sy is van Nigeries-Suid-Afrikaanse afkoms en het haar BA-graad aan die US ontvang en ’n meestersgraad in Swede behaal.
Sy het winterskoolgangers op die punte van hul stoel gehad toe sy van haar persoonlike ervaring van haar eie kerk in die moeilike #feesmustfall-tydperk vertel het. “God en geloof moet tog iets oor veldtogte soos #feesmustfall te sê hê?” vra sy oor haar eie kerk se stilswye oor #feesmustfall.
Nwadeyi haal Steve Biko aan wat pleit dat kerke vandag geloof met ’n morele bewustheid moet fasiliteer. Die kerk kan nie meer bekostig om hulleself uit die kontekstuele kwessies in die land te sluit nie.
Sy vertel van die pyn wat sy tydens die #feesmustfall-tydperk ervaar het toe van haar mede-kerklidmate bloot foto’s gemeen het, vinger gewys het en hulleself heeltemal van haar gedistansieer het. “Wat doen Jesus wanneer hy na die Luister-video* op YouTube kyk?” vra sy.
As voorstel op dié kwellende vrae droom Nwadeyi oor kerkdienste waar die predikant nie die enigste publieke stem is wat op ’n Sondag gehoor word nie. Sy vra vir ’n desentralisasie van stemme in die kerk, gemeenskaplikheid, debattering tussen die kerkgangers, om buite kerkgronde “kerk” te wees en mekaar met opregte waardigheid lief te hê.
“Die kerk sal slegs relevant kan wees indien sy bereid is om iets van haarself prys te gee. Die kerk kan nooit ’n neutrale en hoofstroomruimte wees nie. Die samelewing het kerke nodig wat nie skroom om met eerlikheid en selfrefleksie ook hul eie uitsluitende rol rondom kontekstuele kwessies te erken nie,” sê sy.
* Luister is ’n dokumentêre fliek oor bruin en swart studente wat aan die US studeer.
