“A home for us all – the future of Christianity and our youth in Africa.” Dit was die tema van die Winterskool wat die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie saam met die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke teologie en Ekklesia van 31 Mei tot 2 Junie aangebied het.
Lees ook Waar is die kerk in sosiale kwessies?
“If there’s place in the heart, there’s space in the home.” Prof Robert Vosloo haal dié Deense gesegde aan tydens die pas afgelope Winterskool van die US Fakulteit Teologie. Hy praat oor “Welcoming the stranger: Revisiting hospitality and recognition.” Oor erkenning van ons wedersydse menslikheid.
Gewone gasvryheid teenoor vriende en kennisse is iets wonderlik. Christelike gasvryheid is egter méér as dit. Dit grens byna aan gekheid. Dit is waaghalsig; maak jou weerloos. Want dit verwelkom die vreemdeling – nie net die vriend nie. Dit is so genadig en kragtig soos die evangelie.
Gasvryheid: ’n woord uit die verlede; ’n woord vir die toekoms. Dit is tyd dat ons die konsep van waagmoedige gasvryheid herbesoek; of van nuuts af ontgin, meen Vosloo.
Ons moet dit nie mak maak of afwater nie. Wat bedoel ons regtig wanneer ons, as kerk, sê: Almal is welkom. Wie is ons? Wie is almal? Wat is welkom? Gooi mens dalk jou deure oop vir ongewensheid of gevaar? Die Engelse woorde “host” en “hospitality” deel immers dieselfde wortels as die woord “hostile”. En dít is presies waar Christelike gasvryheid se waagmoed lê. Wanneer ’n mens jou huis en hart vir ’n vreemdeling oopmaak, weet jy nie vooraf of die persoon vriend of vyand is nie.
Die woord gasvryheid dra hierdie spanning tussen waag en wen. Soveel so dat die filosoof Jacques Derrida die woord “hostipitality” geskep het. Dit help ons om die oorspronklike diepte van die woord te bedink: Dit sê ons is nie bang nie. Dit nooi in, oop en hartlik: Ons het ’n rykdom van waarheid en vrede om te deel.
Soms ruil die rolle om. Wie eens gasheer was, bevind hom op ’n dag as gas. Of andersom. Dit is dikwels veel moeiliker om die ontvanger te wees – veral sonder die vermoë om iets terug te gee. ’n Gesindheid van gasvryheid verruim ons op verskeie vlakke om skuld-vry, skaamte-vry en spyt-vry te gee en ontvang. In die alledaagsheid en morsigheid van sopkombuise, sosiale verhoudings, aanbiddingstrukture.
Gasvryheid skep nuwe moontlikhede en maniere om met mekaar saam te leef. Veral met vreemdheid. Wat vrees en onsekerheid meebring. Gasvryheid omarm, sluit in. Ons is elkeen deel van ’n “ons”, waar ons geborge voel. Maar elkeen van ons is ook in iemand se storie die “ander”. Soms word ’n mens ook vreemd vir jouself. En het jy nodig dat iemand anders, sensitief en gasvry, jou menswees erken, onderskryf en waardig ag.
