Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wat as jou opponent óók reg is?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Gesprek is onontbeerlik in geloofsonderskeiding. Veral gesprek met mense wat van jou verskil.

Daar is natuurlik mense in die kerk wat anders dink hieroor, naamlik dat die antwoorde wat ons soek direk aan ons gegee word. Dat ons daarom nie gesprek nodig het nie.

Die gereformeerde tradisie dink anders hieroor en het nog altyd respek gehad vir gesprek, veral gesprek wat insluitend van aard is. Daarom mag daar nooit sommige stemme wees wat met mag oor ander heers nie. Almal het die Woord en die Gees ontvang en daarom moet daar na almal geluister word.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/06/Frederick-Marais-sw.jpg” caption=”Dr Frederick Marais is assessor van die NG Kerk in Wes-Kaapland.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Respekvolle insluitende gesprek is ’n motief wat baie diep in ons gereformeerde gene lê. Dit veronderstel dat ons nader aan die waarheid kom wanneer ons in diep gesprek met mekaar gaan. Diep respekvolle gesprekke tussen mense wat van mekaar verskil is heilig en broodnodig.

Daar is tans vurige gesprekke en debatte in ons kerk. Dit is gesond, mits ons bereid is om na mekaar te luister, natuurlik veral wanneer ons van mekaar verskil. Dit help min dat ons wat van mekaar verskil wedersyds fokus op die foute van die teenparty.

Dan het ons in effek opgehou luister na mekaar. Wanneer ek luister om die foute in ander se argument alleen raak te hoor, luister ek in effek eintlik net na myself, sê Otto Scharmer, die fenomenoloog wat ’n studie gemaak het van transformatiewe gesprekke in sy boek Theory U.

Ek kan ook anders luister sonder dat ek noodwendig my standpunt hoef te verander. Ek kan met empatie luister. Ek kan my probeer inleef in die wêreld van waar my gespreksgenoot kom en met empatie reageer.

So ontwikkel daar die moontlikheid dat ek die waarheidsmomente in sy/haar reaksie begin raaksien. Gewoonlik bring dit versagting aan die ander kant van die tafel en ontstaan daar ook empatie vir my vertrekpunte.

Dán, sê Scharmer, gebeur daar iets misterieus, ons begin saam iets nuuts hoor, iets wat uit die toekoms na ons toe aankom, “receiving the future as it emerges”.

Ek het ’n idee dit is waarna ons almal ten diepste smag, ’n luister wat ons help om nie net onsself te hoor nie, óók nie net ons gespreksgenote nie, maar die fluisterstem van die Gees wat ons nooi na ’n nuwe toekoms.

Om daar te kom, stel Scharmer voor, moet ons letterlik oor onsself kan kom. Dit is onafwendbaar dat ons almal beperkte kennis en insig het. Niemand ontvang al die gawes nie, maar saam hoor ons ’n voller weergawe van die melodie van die evangelie.

Ek het al baie gewonder hoekom Pualus in die bekende hoofstuk oor die Liggaam van Christus in 1 Korintiërs 12 in vers 14 sê, “hulle wat die swakste voorkom is noodsaaklik”? Wel as jy bewus is van jou swakheid, is jy seker bewus van jou blindekolle en die noodsaak om na ander wat van jou verskil te luister.

Dalk wil Paulus sê, hulle wat die waarheid volkome beet het, moet liewer stilbly en begin luister, én soos jy kan agterkom, liewe leser, skryf ek hier eintlik maar vir myself.

Dr Frederick Marais is assessor van die NG Kerk in Wes-Kaapland.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top