Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Francois Naudé van Rietfontein-Noord skryf:
Dalk is dit juis die probleem in die gay-debat. Dat ons volgens een skrywer “kante van die saak” het wat gehoor moet word.
Maar dis juis vanuit ons vaste stellings waarvandaan ons die teksgranate na die gemeende vyand gooi. Anoniem vanuit ons selfvoldane posisies. So diep ingegrawe dat ons gelukkig nie die vyand hoef te sien nie. En ook nie die pyn hoef te hoor van ledemate (lidmate?) wat geamputeer word deur die vlymskerp skerwe van my uitsluiting nie.
Die geraas van die stryd is in elk geval so hard dat jy niemand meer hoor nie. Sê ’n lidmaat nou die dag baie beslis vir my: “Ek wil nie my kant stel nie. Ek wil net leef; vir God liefhê en ook vir die ander een vir wie ek lief is.”
Dalk is dit die oplossing dat ons uit die loopgrawe sal uitklim en ons posisies nie langer sal verdedig nie; die probleem met posisies is dat dit so uiters rigied en veilig is, veral as jy jou in die openbaar in jou loopgraaf ingegrawe het en dink dat God saam met jou in daardie posisie veg.
Dalk moet ons uitklim uit die loopgrawe en mekaar ontmoet (dalk ontmoet ons vir God ook daar) en dan vra: “Vertel my, wat is jou belang in hierdie saak? En sommer ook vra: Watter belang het ek daarby om ander gelowiges te omhels of om gelowiges te reduseer tot niks meer as ’n blote oriëntasie nie?
Of miskien sou die grootste vraag moes wees: Wat is God en sy koninkryk se belang in hierdie saak? Ek mag nie namens enigiemand oor sy/Sy belang praat nie; veral nie oor God se belang nie, maar het Jesus dit nie dalk self in Johannes 3:17 verwoord nie: “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”
Wonder ek mos: Sou die gesprek anders gelyk het as dit net oor God se belange gegaan het?
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
