Die kerk moet leer om mense na wie uitgereik word, te sien as deel van “ons”, en nie as “hulle” nie.
Dit was een van die gedagtes wat na vore gekom het in die DiacAfric-konferensie oor missionale diakonaat wat op 31 Mei en 1 Junie in Pretoria gehou is. Die gedagte was dat hulp in vriendskapsverhoudinge verleen moet word, want die teenoorgestelde van armoede, is gemeenskap (koinonia).
Nog ’n stukkie taalgebruik waaroor daar gesels is, is die woorde wat gebruik word om die proses te beskryf waardeur die kerk meer missionaal gerig word. Pleks van na “missionale transformasie” te verwys, moet die kerk dalk liewer praat van “missionale reformasie”, is daar gesê.
’n Sleutelelement van hierdie reformasie, is dat elke lidmaat moet besef dat dit nie net opgeleide, professionele mense is wat na die wêreld toe gestuur word nie. Elke lidmaat is ’n gestuurde van God.
Kerkleiers het ’n belangrike verantwoordelikheid om hierdie boodskap in die kerk in te dra.
Om die kerk in hierdie opsig te reformeer, is dit belangrik dat lidmate moet deelneem aan die diakonaat. Dit is deur deelname dat die verandering kom. Lidmate wat reeds so gereformeer het, kan die voortou neem om ’n gemeente te help transformeer.
