Jesus is die Here. Dit is die vroegste belydenis van die kerk. Dit is ook dié belydenis wat die 348 lidkerke van die Wêreldraad van Kerke (WRK) aan mekaar verbonde hou.
Daar is onder die lidkerke Ortodokse en Pentekostalistiese kerke, Anglikane en Kwakers, onafhanklike kerke en Gereformeerdes, ’n verskeidenheid perspektiewe en oortuigings. Uit bykans elke teologiese stroom kom die lidkerke van hierdie merkwaardige liggaam wat meer as 500 miljoen lidmate verteenwoordig.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/01/J-van-Rensburg-Nelis.jpg” caption=”Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Die WRK is in Augustus 1948 in Amsterdam gestig. Reeds sedert die middel van die 19de eeu het die Westerse Protestantse sendingbeweging tienjaarliks byeengekom. Dit was tydens so ’n byeenkoms in 1910 in Edinburgh, Skotland, waar ’n visie gebore is van ’n wêreldwye sendinggemeenskap wat die evangelie na die wêreld neem.
Die WRK het in 1948 as ’n voortsetting van die Edinburgh-droom tot stand gekom. Verskillende teologiese strome het ineengevloei in dié wêreldliggaam.
Metterjare sou dit duidelik word dat dit diepgaande dialoog sou benodig om die evangelikaliese en die ekumeniese strome ineen te laat vloei. In 1951 het Lesslie Newbigin se invloedryke werk oor die onlosmaakbaarheid tussen eenheid en sending die toon aangegee vir die hartgrondige teologiese gesprek wat sou volg oor die aard van die sending van die kerk.
Die Eurosentriese sendingvisie van 1910, waarin westerlinge, wat oor die nodige koloniale mag en middele beskik, die evangelie na die “wêreld” neem, is vervang met ’n evangeliese begrip dat God se missie na die wêreld ’n beweging is wat ontspring op duisende plekke in die wêreld.
Reeds dekades voor die gesprek in Suid-Afrika oor ’n missionale teologie het die WRK begryp dat gelowiges God volg in sy beweging na die wêreld, dat elke gelowige geroep word om vanuit ’n lewe in die Drie-eenheid sy beweging na mense mee te maak.
Vandag word onder meer verstaan dat die beweging van God al te dikwels vanuit die rand van die samelewing kom na diegene wat oor mag beskik.
Die WRK se stryd teen apartheid en rassisme het uiteraard ons prentjie van dié organisasie gekleur. Die Kaapse en Transvaalse Sinodes se bedanking uit die WRK in 1961, na Sharpeville en Cottesloe, staan histories uit as ’n simbool van die impak van volksideologie.
Toe die WRK in die sewentigerjare finansiële steun begin gee aan die bevrydingsbewegings in Suider-Afrika, is dié organisasie getipeer as internasionale vyand van die waarheid. Hierdie optrede van die WRK het ook intern diepgaande spanning en dialoog veroorsaak. Die argument vir oorlog teen ongeregtigheid het sedertdien verander na ’n teologiese regverdiging vir vrede en geregtigheid. Ook die WRK is in dié proses getransformeer deur sy diepe besinning oor die evangelie as alternatief vir die waardes en oortuigings van die wêreld.
In 2010 is daar weer in Edinburgh vergader met waarskynlik die grootste spektrum ooit van Christene in die wêreld met die oog op ’n gedeelde verstaan van die kerk se missie.
Klem is gelê op die uniekheid van Christus, jongmense as deelnemers aan die missie, die natuurlike omgewing as fokus van die kerk se missie, kritiese interaksie met magstrukture met die oog op die aanspreek van ongeregtigheid, die geestelike aard van die missie onder leiding van die Heilige Gees, die Bybelse oproep tot eenheid en gemeenskaplike getuienis, bekering en die vind van ’n nuwe lewe in Christus.
In 2013 in Busan, by die WRK se tiende algemene vergadering, het die slagspreuk “Together towards life” beslag gekry.
Die werksaamhede van die WRK word in drie afdelings behartig: 1. Eenheid, missie en ekumeniese verhoudings, 2. Publieke getuienis en diakonia, 3. Ekumeniese formasie.
Die WRK doen reusewerk in terme van geskilbeslegting met die oog op wêreldvrede en geregtigheid. Trouens, sy program Pilgrimage of justice and peace hou op baie plekke brose onderhandelinge tussen owerhede en magte aan die gang en skep internasionaal talle ruimtes vir helende dialoog. Die teologiese werk in sy afdeling Faith and Order verteenwoordig omvangryke ekumeniese teologie.
Die wyse waarop die NG Kerk nou terug verwelkom is in die WRK, is opsigself ’n getuienis. Die blydskap van die lede van die Sentrale Komitee in Trondheim, Noorweë, was hoorbaar en tasbaar. Niemand was egter blyer en hartliker as ons mede- Suid-Afrikaanse lidkerke en die kerke uit Afrika nie.
Ek was diep beïndruk deur die verbintenis van al die lede van die Sentrale Komitee tot die WRK se agenda. Hulle weet hoe om diversiteit te bestuur en onderlinge verskille te bowe te kom. Die dominante verhaal is dié van God se koninkryk wat moet kom. Hulle skryf saam aan nuwe hoofstukke. Die WRK is inderdaad ’n merkwaardige gestalte van die liggaam van Christus.