Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Om te gee

Die verhaal van die brand in Woodlane Village, die in­for­­mele nedersetting langs die NG Kerk Moreletapark, en die reaksie van die gemeenskap in antwoord op die nood, is een van oorvloedige gee.

Dit getuig van ’n Christelike gesindheid. Jesus het im­mers self gesê dat gee ’n mens gelukkiger maak as om te ont­vang. Gee behoort ’n integrale deel van die Chris­te­like leefwyse te wees.

Dit is so anders as die soort lewe wat die verbruikers­kultuur aan ons voorhou. Dié beloof deur sy woord­voer­­der, die advertensiebedryf, dat ’n mens gelukkig sal wees as jy het of kry. As jy hierdie motor ry, of daardie sjokolade eet, hierdie parfuum gebruik of daardie va­kan­sie kan hou, dan sal jy gelukkig wees.

Jesus leer ons anders. Hy leer dat ’n mens werklik gelukkig sal wees as jy wegkyk van jouself af, as ander se belange vir jou swaarder begin weeg, dan sal jy gelukkig wees.

Vir gelowiges, mense wat Hom wil volg, vra dit dat ons ook mooi moet dink oor wat dit beteken om te gee. Wat gee ons en hoe gee ons?

Die maklike, en soms baie belangrike ding, is om materiële dinge te gee. Kos, klere, komberse, geld. Daar is mense wat dit bitter nodig het en gelowiges moet aanhou om so te gee. Dit help om die onmiddellike nood te verlig.

Dit is moeiliker om van jouself te gee. Jou tyd, jou ener­gie. Maar om ’n volhoubare verskil te maak, is dit waar­skynlik op die duur belangriker om van jouself te gee as om net dinge te gee.

Om ’n volhoubare verskil te maak, moet ’n mens meer doen as om iemand in nood se materiële behoeftes te be­vredig. Jy moet deurdring tot die gees van die persoon in nood. Jy moet ’n verhouding met so iemand bou en binne die vertroue van daardie verhouding die persoon help.

Om so van jouself te gee, is om lief te hê. Dit maak diegene gelukkig wat ontvang, maar ook dié wat gee.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top