Die verhaal van die brand in Woodlane Village, die informele nedersetting langs die NG Kerk Moreletapark, en die reaksie van die gemeenskap in antwoord op die nood, is een van oorvloedige gee.
Dit getuig van ’n Christelike gesindheid. Jesus het immers self gesê dat gee ’n mens gelukkiger maak as om te ontvang. Gee behoort ’n integrale deel van die Christelike leefwyse te wees.
Dit is so anders as die soort lewe wat die verbruikerskultuur aan ons voorhou. Dié beloof deur sy woordvoerder, die advertensiebedryf, dat ’n mens gelukkig sal wees as jy het of kry. As jy hierdie motor ry, of daardie sjokolade eet, hierdie parfuum gebruik of daardie vakansie kan hou, dan sal jy gelukkig wees.
Jesus leer ons anders. Hy leer dat ’n mens werklik gelukkig sal wees as jy wegkyk van jouself af, as ander se belange vir jou swaarder begin weeg, dan sal jy gelukkig wees.
Vir gelowiges, mense wat Hom wil volg, vra dit dat ons ook mooi moet dink oor wat dit beteken om te gee. Wat gee ons en hoe gee ons?
Die maklike, en soms baie belangrike ding, is om materiële dinge te gee. Kos, klere, komberse, geld. Daar is mense wat dit bitter nodig het en gelowiges moet aanhou om so te gee. Dit help om die onmiddellike nood te verlig.
Dit is moeiliker om van jouself te gee. Jou tyd, jou energie. Maar om ’n volhoubare verskil te maak, is dit waarskynlik op die duur belangriker om van jouself te gee as om net dinge te gee.
Om ’n volhoubare verskil te maak, moet ’n mens meer doen as om iemand in nood se materiële behoeftes te bevredig. Jy moet deurdring tot die gees van die persoon in nood. Jy moet ’n verhouding met so iemand bou en binne die vertroue van daardie verhouding die persoon help.
Om so van jouself te gee, is om lief te hê. Dit maak diegene gelukkig wat ontvang, maar ook dié wat gee.
