Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Erge meningsverskille was van die begin af deel van geloofsgemeenskappe. In Paulus se tyd was daar al in die gemeente van Korinte geen eenstemmigheid nie. Verskillende groepe was in stryd met mekaar en skeuring het gedreig. Elke groep het hom op iemand anders beroep: “Ek is van Paulus, en ek is van Apollos, en ek van Sefas en ek van Christus” (1 Kor 1:12).
Met die verdere verloop van die kerkgeskiedenis het dit nie beter gegaan nie. Tweespalt en verskeurdheid het voortdurend ’n skadu gewerp oor die kerk se getuienis. Die ekumeniese beweging van die vorige eeu het tot ’n welkome toenadering gelei tussen gemeenskappe met verskillende belydenisse. Dit is egter nog steeds ’n steil pad na volkome eenheid.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Dr-Gustav-Claassen-sw.jpg” caption=”Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
In eie NG geledere het meningsverskille, en die manier waarop dit hanteer is, die afgelope paar jaar die energie en eensgesindheid van die kerk gesteel. Die proses rondom die Belharbelydenis en besluite rondom selfdegeslagverhoudings het ongekende teenoorstaande reaksies uitgelok. Dit het om op te som, die slegste uit ons gehaal. “Progressiewe” denkers aan die een kant en “behoudende” denkers aan die ander kant sê mekaar die stryd aan op verskeie fronte. Hulle verdink mekaar, beskuldigings van ongereformeerdheid en ontrouheid aan die belydenis word heen en weer geslinger, karikature word van mekaar geteken. Die styl is van so ’n aard dat die integriteit van die kerklike verband skade aan gedoen word.
Oral waar dit gebeur, soos in die geval van Korinte, is dit meestal te wyte daaraan dat konsensus rondom die middelpunt verloor word, dat randsake te veel klem kry, dat dit wat aanmekaar bind as bysaak gesien en vergeet word.
Wanneer die middelpunt Jesus Christus, wie se verlossingswerk die eerste kerk tot stand gebring het en wat enkelinge ongeag oor die wêreld saamgevoeg het tot ’n nuwe gemeenskap, nie meer in fokus is nie.
Paulus het hom nie deur ’n bepaalde groep op sleeptou laat neem of hom geskaar aan die kant van ’n besondere party nie. Hy het almal ernstig gemaan om eensgesind te wees in die Here. Eensgesindheid en die verdra van mekaar was vir hom van die allergrootste belang.
In verskille, in diversiteit is die eenheid van die liggaam die grootse prioriteit (1 Kor 12). Paulus het dit ook gedemonstreer in sy meningsverskil met Petrus. Dit is ook kragtig deur hom saamgevat in 1 Korintiërs 13.
In navolging van Paulus is dit elkeen van ons se taak, maak nie saak aan watter kant van ’n debat ons staan nie, om brûe te bou en die verskeidenheid tot ’n eenheid te versoen. Ons getuienis lê in dié geval juis in die wyse waarop ons van mekaar verskil (Darrell Guder).
Strydendes kan, as gevolg van die passie vir ’n saak, so lig van die wêreld wees dat ander verskroei en verblind word. Ons kan so sout van die aarde wees dat ons ’n onaangename smaak afgee. Ons kan so suurdeeg wees dat ons alles versuur.
Die uitdaging, nou vir elkeen, wat diep nadink oor die saak op die tafel, is om ons band met mekaar te verdig om broederskap en eensgesindheid ten alle koste te koester.
▶ Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.