Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ons moet die eenheid koester

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Erge meningsverskille was van die begin af deel van geloofsgemeenskappe. In Paulus se tyd was daar al in die gemeente van Korinte geen eenstemmigheid nie. Verskillende groe­pe was in stryd met mekaar en skeuring het gedreig. Elke groep het hom op iemand anders beroep: “Ek is van Paulus, en ek is van Apollos, en ek van Sefas en ek van Christus” (1 Kor 1:12).

Met die verdere verloop van die kerkgeskiedenis het dit nie beter gegaan nie. Tweespalt en ver­skeurd­heid het voortdurend ’n skadu gewerp oor die kerk se getuienis. Die ekumeniese beweging van die vorige eeu het tot ’n welkome toenadering gelei tus­sen gemeenskappe met verskillende belydenisse. Dit is egter nog steeds ’n steil pad na volkome eenheid.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Dr-Gustav-Claassen-sw.jpg” caption=”Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

 

In eie NG geledere het meningsverskille, en die manier waarop dit hanteer is, die afgelope paar jaar die energie en eensgesindheid van die kerk gesteel. Die proses rondom die Belharbelydenis en besluite rondom selfdegeslagverhoudings het ongekende teen­­oorstaande reaksies uitgelok. Dit het om op te som, die slegste uit ons gehaal. “Progressiewe” den­kers aan die een kant en “behoudende” denkers aan die ander kant sê mekaar die stryd aan op verskeie fronte. Hulle verdink mekaar, beskuldigings van on­ge­­reformeerdheid en ontrouheid aan die bely­de­nis word heen en weer geslinger, karikature word van me­­kaar geteken. Die styl is van so ’n aard dat die inte­gri­­teit van die kerklike verband skade aan gedoen word.

Oral waar dit gebeur, soos in die geval van Korinte, is dit meestal te wyte daaraan dat konsensus rondom die middelpunt verloor word, dat randsake te veel klem kry, dat dit wat aanmekaar bind as by­saak gesien en vergeet word.

Wanneer die middelpunt Jesus Christus, wie se verlossingswerk die eerste kerk tot stand gebring het en wat enkelinge ongeag oor die wêreld saamgevoeg het tot ’n nuwe gemeenskap, nie meer in fokus is nie.

Paulus het hom nie deur ’n bepaalde groep op sleep­tou laat neem of hom geskaar aan die kant van ’n besondere party nie. Hy het almal ernstig gemaan om eensgesind te wees in die Here. Eensgesindheid en die verdra van mekaar was vir hom van die aller­grootste belang.

In verskille, in diversiteit is die eenheid van die lig­gaam die grootse prioriteit (1 Kor 12). Paulus het dit ook gedemonstreer in sy meningsverskil met Pe­trus. Dit is ook kragtig deur hom saamgevat in 1 Korintiërs 13.

In navolging van Paulus is dit elkeen van ons se taak, maak nie saak aan watter kant van ’n debat ons staan nie, om brûe te bou en die verskeidenheid tot ’n eenheid te versoen. Ons getuienis lê in dié geval juis in die wyse waarop ons van mekaar verskil (Darrell Guder).

Strydendes kan, as gevolg van die passie vir ’n saak, so lig van die wêreld wees dat ander verskroei en verblind word. Ons kan so sout van die aarde wees dat ons ’n onaangename smaak afgee. Ons kan so suurdeeg wees dat ons alles versuur.

Die uitdaging, nou vir elkeen, wat diep nadink oor die saak op die tafel, is om ons band met mekaar te verdig om broederskap en eensgesindheid ten alle koste te koester.

Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top