Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Laat ons woorde lewegewende wêrelde skep

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Sowat ’n paar weke gelede gesels ek met iemand vir wie ek oor my studies gaan raad vra het. In ’n stadium in die ge­sprek gesels ons oor die Bybel en die inter­pre­ta­sie daarvan.

Skielik vra hy vir my: “Annemarie, glo ons nog werklik dat tekste in die Bybel die poten­siaal het om mense se lewe te verander? Is dit wat men­se hoor van die kansel af? Of het ons so afge­stomp geraak oor die ou, ou tyding dat dit nie meer ’n im­pak in ons en gelowiges se lewe maak nie? Ver­kondig ons aan mense dat God werklik in hulle om­stan­dig­hede kan intree en mense se lewe kan ver­an­der, ook deur woorde wat baie jare gelede neer­ge­skryf is?”

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Annemarie-sw.jpg” caption=”Proponent Annemarie de Kock-Malan is besig met haar doktorale studie in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en betrokke by die bediening aan senior burgers by die NG gemeente La Rochelle in Bellville.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

 

Een van my dosente het altyd gesê: “Woorde skep wêrelde”. Dit wat ’n predikant sê van die kansel af, in pastorale gesprekke, by sosiale geleenthede ensovoorts. Die manier waarop ’n gemeente kerk is en hulle roeping uitleef, ook in die manier waarop daar gepraat word, skep en vorm wêrelde. Wêrelde van verbeel­ding, ander perspektiewe, nuwe moont­lik­hede, troos in moeilike tye, van trans­formasie, van lewe.

Natuurlik kan woorde ook ander wê­relde skep. Wêrelde van swaarkry, oordeel, trauma, verwydering en dood.

Wat het die Bybelse skrywers met hulle woorde bedoel? As ons kyk na die briewe in die Nuwe Testament, was daar waarskynlik ’n sekere nood of situasie waaroor hierdie skrywers iets wou sê.

Dit was vir hulle belangrik om die gelowiges aan wie hierdie briewe gerig is, uit te nooi om God se lewe­gewende teenwoordigheid in hulle lewe te sien, om te weet dat God se woorde en aksies kan transformeer.

Dit was/is nodig om te besef dat God daadwerklik in die geskiedenis van die mens ingetree het deur sélf mens te word, op die aarde te wandel tussen mense, om aan ’n vervloekte kruishout te hang, ’n leë graf agter­weë te laat, op te vaar na God se troon en die Gees as Trooster by die mens te laat.

Is dit nie die kern van ons roeping as predikante nie?

Mag ons as gelowiges lewegewende en transformerende wêrelde skep in hoe ons met die Bybel en mense omgaan. Mag God se Woord werklik die Goeie Nuus wees wat ons van die kansels af verkondig – die Goeie Nuus wat mense se lewe kan verander! En mag ons ook die Heilige Gees vertrou om die naprediker van hierdie woorde te wees sodat ons werklik as nuwe skeppings in Christus kan leef.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top