Die NG Kerk het een van sy kleurrykste persoonlikhede verloor met die onlangse dood van ds Cassie Carstens van Pretoria. Hy het geruime tyd probleme met sy gesondheid gehad.
Carstens het op verskeie terreine diep spore in die kerk getrap. As jeugpredikant het hy sy stempel afgeruk op die lewe van talle jongmense in veral die Noordelike Sinode. Hy was twee termyne lank skriba van die Algemene Sinode. Sy liefde vir en betrokkenheid by kerkmusiek het ’n hoogtepunt bereik toe hy die eindredakteur van die Liedboek van die Kerk was.

Daarby was Carstens ’n karakter wat selfs kleurryker was as sy groot versameling onderbaadjies. Op loslitdae kon ’n mens enigiets van hom verwag – van talle poniestertjies in sy hare tot ’n verskyning in ’n tutu.
Een van die roerendste oomblikke in sy lang bediening het egter gekom op die Algemene Sinode van 2004 op Hartenbos, toe hy in die openbaar oor sy gay seun gepraat het. Hy het gesê dit was “bleddie swaar” om te hoor sy seun is gay.
Hy het allerlei opsies oorweeg. Een was om die Bybel letterlik te neem en sy seun dood te gooi met klippe, maar hy was te lief vir sy seun. As iemand anders dit wou doen, sou hy voor sy seun gaan staan het en self die klippe vat.
Hy sou ook sy seun kon wegjaag, maar dan sou hy ook dood wees vir sy pa. Of hy sou hom kon stuur vir allerlei soorte terapie wat hom lewenslank ongelukkig sou maak – wat ook maar ’n soort dood is.
Hy het die vierde opsie gekies: om sy arms om sy seun te sit, hom vas te hou en te sê: “Jy bly my kind.”
Carstens het ander ouers met gay kinders gevra om hom ’n drukkie te kom gee as die sinode verdaag. Hy het later vertel dat daar ’n lang tou mense gekom het en dat dit langer as ’n uur geduur het vir almal om by hom uit te kom.