Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NGK verloor sy kleurryke Cassie

Die NG Kerk het een van sy kleurrykste persoonlikhede verloor met die onlangse dood van ds Cassie Carstens van Pretoria. Hy het geruime tyd probleme met sy gesondheid gehad.

Carstens het op verskeie terreine diep spore in die kerk getrap. As jeugpredikant het hy sy stempel afge­ruk op die lewe van talle jongmense in veral die Noor­delike Sinode. Hy was twee termyne lank skriba van die Algemene Sinode. Sy liefde vir en betrokkenheid by kerkmusiek het ’n hoogtepunt bereik toe hy die eind­­redakteur van die Liedboek van die Kerk was.

Carstens Cassie (Noord-Tvl)
Ds Cassie Carstens

Daarby was Carstens ’n karakter wat selfs kleurryker was as sy groot versameling onderbaadjies. Op loslitdae kon ’n mens enigiets van hom verwag – van talle poniestertjies in sy hare tot ’n verskyning in ’n tutu.

Een van die roerendste oomblikke in sy lang bedie­ning het egter gekom op die Algemene Sinode van 2004 op Hartenbos, toe hy in die openbaar oor sy gay seun gepraat het. Hy het gesê dit was “bleddie swaar” om te hoor sy seun is gay.

Hy het allerlei opsies oorweeg. Een was om die Bybel letterlik te neem en sy seun dood te gooi met klippe, maar hy was te lief vir sy seun. As iemand anders dit wou doen, sou hy voor sy seun gaan staan het en self die klippe vat.

Hy sou ook sy seun kon wegjaag, maar dan sou hy ook dood wees vir sy pa. Of hy sou hom kon stuur vir allerlei soorte terapie wat hom lewenslank ongelukkig sou maak – wat ook maar ’n soort dood is.

Hy het die vierde opsie gekies: om sy arms om sy seun te sit, hom vas te hou en te sê: “Jy bly my kind.”

Carstens het ander ouers met gay kinders gevra om hom ’n drukkie te kom gee as die sinode verdaag. Hy het later vertel dat daar ’n lang tou mense gekom het en dat dit langer as ’n uur geduur het vir almal om by hom uit te kom.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top