Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ons land het verval in ’n gees van oorlewing. In hierdie oorlewing droom ons van wat was en gewerk het en wat kan wees. Intussen het ons so vasgevang geraak tussen gister en môre dat ons die kuns om vir vandag te leef totaal en al verleer het.
Ons maak amper soos die koningvlinders wat elke jaar migreer en meer as drieduisend kilometer trek om die winter net te oorleef. Ons vlug, met die hoop dat ons die volgende geleentheid sal kan oorleef.
Wanneer ek na die woorde van Jesus luister in Johannes 10:10, dan is ek oortuig dat Jesus se bedoeling was dat ons meer as net moet oorleef. “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed.”
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Rossouw-Norma-Wes-Tvlswart.jpg” caption=”Ds Norma Rossouw is predikant van die NG gemeente Vaalrivier en voorsitter van die dagbestuur van die NG Kerk in Wes-Transvaal.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Dit was nog altyd in God se aard en karakter om in oorvloed te gee. Ons word herinner daaraan wanneer hy met ’n seuntjie se twee vissies en vyf broodjies vir ’n skare mense van meer as 5 000 kos gee en daar bly nog twaalf mandjies oor, wanneer Hy die dissipels stuur om weer die nette in te gooi en hulle bystand moet kry, want die visse wat hulle nou vang is so in oorvloed dat die nette wil skeur.
In ons wese is daar ’n dieper wete dat daar iets meer is as net die alledaagse bestaan en die oorlewing van soveel mense. Dan is daar die wete dat saam met God die alledaagse, eenvoudige oomblikke omskep kan word in heilige-grond-oomblikke waar ons ons skoene uittrek omdat ons weet die oorvloed van God is teenwoordig.
Dit laat dink my aan John Eldrege wat in sy boek Die groot liefdesverhaal ons eintlik wil help verstaan hoe ons kan leef uit die oorvloed van God se hart. “Dink aan die rol wat jy speel, die self wat jy soos ’n kostuum aantrek. Wie het hierdie rol aan jou toegeken? Die meeste van ons leef vanuit ’n draaiboek wat iemand anders vir ons geskryf het.”
Juis wanneer ons in hierdie oorlewingmodus ingaan, leef ons die draaiboek wat die politiek of die ekonomie of wie ook al skryf in plaas van die groot verhaal van Hom wat ons lewe in sy hande hou.
Mag ons as kerk begin leef sonder die vrees en die morbiede. Mag ons in elke moeilikheid, die moontlikheid raaksien waarin God die onmoontlike wil doen sodat Hy die eer kan kry.
Nadat ons die som gemaak het en weet dit kan nie werk nie, is die sekerheid soveel groter dat wanneer dit werk, dit God alleen is.
Mag elke verleentheid ’n geleentheid word waarin die Koninkryk sal seëvier en waar God die eer sal kry.
Daarom wil ek jou uitdaag, gaan trek jou beste klere vandag aan, sit jou spesiale (vir eendag) juwele aan en gebruik jou beste parfuum en gaan leef vandag. Elke dag in jou lewe is gemaak om ’n spesiale geleentheid te wees – dit is jou dag saam met God.
Die lewe is ’n ervaring wat geleef moet word en nie net oorleef moet word nie.