Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Vrolike klompie kinders van die Crux-naskoolsentrum. Agter in die middel staan Cecila Saayman. Langs haar is van links Leah Sithole, Johanna Zolo en Caroline Tsube, almal permanente personeel­lede. Links in die middel staan Sarie Louw, ’n helper. Foto: Fran Vorster

Crux se kinders weet hulle is God se kinders

“Dit was ’n Godsend.”

So sê Cecilia Saayman van haar aanstelling, ’n paar jaar gelede, as bestuurder van Crux-naskool in Silverton, Pretoria. Sy het werk nodig gehad en daar kom die geleentheid toe.

Sy vertel dat Crux ’n belangrike projek van die NG gemeente Skuilkrans is. Lieze Meiring is my baas, lag sy. Lieze is saam met haar man, Arno, predikante van die gemeente.

Nege jaar gelede het dié gemeente na die Silverton-gemeenskap uitgereik. Na heelwat gesprekke met ouers, veral die wat tot laat werk, het dit duidelik geword dat hulle ’n goedkoop naskoolsentrum nodig het. En so het dit toe gebeur. Vandag word daar steeds skoolgegaan in die kerksaal van Skuilkrans se satelliet-kampus in Silverton.

In Oktober 2016 sal die naskoolsentrum agt jaar oud wees. In die begin was getalle maar skraal; net 25 kin­­ders. Gou het die skool uit sy nate gebars. Van­dag is daar 60 kinders.

“Die lae fooie is beslis ’n aantrekkingskrag,” sê Cecilia.

Crux is geregistreer by die Departement Welsyn en is ’n nie-winsgewende organisasie. Die fooie is nou al agt jaar lank dieselfde en die skool voer ’n sukkel­be­staan omdat daar nie borge is nie. Skuilkrans moet maar self die sak skud om tekorte aan te vul.

Wie is die Crux-kind? Hulle is huiswerkers se kin­ders wat dikwels deur hulle oumas grootgemaak word. Ek bewonder die oumas se grootmaakwerk, sê Cecilia. Werkende enkellopende ma’s klop ook aan Crux se deur. Crux se belangrikste voerskool is Laerskool Silverton, maar kinders kom ook uit ander naburige skole.

Cecilia vertel wat elke dag by Crux gebeur. Die kin­ders kry ’n ligte middagmaal. Daarna moet hulle huis­werk doen. Daar is vryspel met springtoue en balle. Sy gebruik ook opvoedkundige speelgoed soos Lego en leg­kaarte. Die klimrame en swaaie is ’n oneindige bron van plesier.

Die vrolike Crux-kinders weet dat hulle God se kin­ders is. Daarvoor sorg Cecilia. Vir hulle is sy sekerlik ’n Godsend.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top