“God het ’n droom gehad: dat die aarde lewe sal koester. Toe gee God die droom vir die jongste.” So begin Alan Storey, Metodiste-predikant van Kaapstad, sy toespraak oor Armes, die evangelie en die kerk by ’n konferensie van die NG Kerk in Wes-Kaapland se Kommissie vir Getuienisaksie.
Toespraak of gelykenis?
Daar was ’n droom oor sewe vet en sewe maer jare, vervolg hy. Die jongste moes leer: Leef regverdig en in balans met die skepping. Doen wat nodig is in oorvloed, sodat jy die aarde kan help wanneer sy sukkel.
Hoe tragies: Die droom het mettertyd in ’n nagmerrie ontaard. Aanvanklik het mense kos gekoop met hulle geld. Toe dit opraak, betaal hulle met hulle vee. Later met hulle grond. Uiteindelik, gedryf deur honger, met hulleself. Hulle het skuld-slawe geword. Hulle bevryder het hulle onderdrukker geword.
God het hulle hulpgeroep gehoor. Hulle, die Hebreërs, die geringstes van hulle tyd: ontheemdes, ontworteldes, gedwonge vlugtelinge, gemarginaliseerdes. God se uitverkorenes!
In die wildernis leer hulle: Moenie gulsig wees en opgaar nie, dit vernietig verhoudings. Te veel en te min. Oorsaak en effek. Ook vandag durf ons nie van armoede praat, sonder om rykdom ook te noem nie.
Die Hebreërs, gewoond aan wette teen hulle, kry ’n nuwe wet, vir hulle: Beplan jou besigheid so, dat jy genoeg oorhou vir die weduwees, wese en vreemdelinge. Gee. Gee om.
As selfbeskerming, herkalibreer die Hebreërs elke sewe jaar: Laat die aarde, om Godsnaam, rus. Ná 7 x 7 jaar, in die jubeljaar, die genadejaar, herkalibreer hulle die hele samelewing; maak gelyk, herverdeel, begin opnuut.
Die Nuwe Testament eggo die droom: Jesus noem die armes, die onderdruktes en die genadejaar van die Here in een asem. Op Pinksterdag, ’n teologies beduidende vyftig dae na Jesus se opstanding, kom die Heilige Gees en almal deel alles sodat niemand behoefte het nie.
Wat maak ons met dié goeienuus-evangelie wat armes wil bevry? vra Storey. Ons swyg. “We are petrified of addressing the rich,” sê hy, want ons is afhanklik van hulle. En ons is self ryk. As jy in hierdie land ’n kar, skoon water in jou huis, kos en ’n rekenaar het, is jy ryk!
Ons het ’n evangelie vir die rykes nodig, sê Storey, maar sal ons die moed hê om dit te preek? Waarskynlik nie: Ons is verslaaf aan rykdom. Ons is deel van die probleem. Tog, God het ons lief. En Hy vra van ons: Werk vreesloos aan oplossings vir ’n wêreld waarin almal my liefde kan beleef.
