Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Sand plof as sandale deur die dorsland loop.
Fyn kaneel is die stowwe teen die soom.
Spore stap die koers weg van Adamsboom.
Gebarste hakke wys die weg na genadedoop.
Klippe kraak met elke tree van hoop.
Olie omhul die brug van Vadersdroom.
Trane vertoef veilig om enkels vroom.
Die tik van yster beklink die lossingskoop.
Verlossersvoete in balsemlinne geknoop.
Deurboorde hakke wat genade laat stroom.
Wolke swelg om sole toe te draai in room.
Stof skud van sy skoene … nou’s dit ek wat loop.
God se beeld het onmenslik geword. Mense het onmenslik geword.
Elke keer as my duime oor die ink van ’n koerant streel los dit ’n merk op my hart. Hoe kan dit wees dat die mens wat God “baie goed gemaak het” die vermoë het om so onmenslik op te tree?
Ek sien sinnelose bloedvergieting en geweld. Ek sien immorele mense wat deurdrenk is met korrupsie, ontrouheid en ’n totale gebrek aan integriteit. Ek sien die massale vernietiging van die natuur in die naam van vooruitgang. Ek sien ongekende hebsugtigheid wat weelde-wolkekrabbers bou terwyl daar mense is wat in asblikke grou. Ek sien ’n verwonde mensdom.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Kenneth-McKenzie1.jpg” caption=”Ds Kenneth McKenzie is predikant van die NG gemeente Rant-en-Dal-Prisma in Krugersdorp.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Ons is lief om te dans op die maat van sonde en seer. Ons verhouding met God lê aan skerwe terwyl ons ons naaste verbrysel. Ons verlustiging in sonde het ons misvormde mense gemaak. Ons weet nie meer hoe ’n beelddraer van God moet optree nie.
Jesus is God wat ons moes kom leer om weer mens te wees. God se voete moes ons kom leer om in sy spoor te loop. Gebore, gewas, gesalf, geslaan, gesoen. God se voete wandel deur die dorsland van onmenslikheid om ’n weg te baan terug na menslikheid. God se voete het ’n vel om.
Jesus se voete staan langs die straatvrou wat skuiling soek. Jesus se voete loop na die bedlêende bedelaar by die bad van Betesda. Jesus se voete bring aan Lasarus nuwe lewe. Jesus se voete dra Hom na blindes, kreupeles, siekes, verlorenes, rouklaers, kinders en vissermanne. Jesus se voete oorbrug die kloof van onmenslikheid. Dit is sý voete wat in my hart dans.
Gebarste hakke van ons mens-geworde-Messias sê vandag vir sy kerk: “Volg my!”
Weg van Adamsboom. Op weg na Vadersdroom.