Onderwys, ekonomiese groei en werkskepping is van die belangrikste faktore in die stryd teen armoede en ongelykheid.
Dit het na vore gekom uit ‘n bespreking wat die Algemene Sinodale kantoor gereël het om by top-ekonome en -sakelui kers op te steek oor die kwessie.
Deelnemers aan die gesprek was dr Johan van Zyl (gewese grootbaas van Sanlam), prof Stan du Plessis (dekaan van ekonomiese en bestuurswetenskappe op Stellenbosch), die politieke ontleder mnr Moeletsi Mbeki, die ekonoom mnr Dawie Klopper, prof Francis Wilson van die Universiteit van Kaapstad, dr Renier Koegelenberg van die Ecumenical Foundation of South Africa, eerw Moss Ntlha van die Evangelical Alliance of South Africa en ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen. Prof Piet Naude van die Universiteit van Stellenbosch se Besigheidskool was die gespreksleier. Genooide verteenwoordigers van die meeste streeksinodes het ook die gesprek in Sandton bygewoon.
Die bespreking het verskeie perspektiewe op die ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika na vore gebring. Van Zyl het gesê dat as ‘n mens die 30% werkloses buite rekening laat, die ongelykheid in Suid-Afrika nie so groot is nie.
Mbeki het daarop gewys dat daar onder die ekonomiese elite (mense wat meer as R60 000 per maand verdien) en die middelklas (diegene wat tussen R11 500 en R60 000 per maand verdien) omtrent net soveel swart mense, bruin mense en Indiërs as wit mense is.
“Dit is nie waar dat rykdom of die sakesektor in die hande van wit mense is nie.” het hy gesê.
Du Plessis het gesê Suid-Afrika het reeds meer in die stryd teen ongelykheid gedoen as die meeste middelinkomstelande. Hy meen daar is aanvaarbare ekonomiese ongelykhede (soos tussen hom en Bill Gates) en onaanvaarbare ongelykhede (soos wanneer ‘n student nie klasgeld kan bekostig nie).
Ntlha het daarop gewys dat ras nie meer ‘n struikelblok is om toegang tot onderwys te kry, maar dat onbekostigbare klasgeld talentvolle studente nou daarvan weerhou om te studeer.
Klopper het ook na werkloosheid verwys as ‘n oorsaak van ongelykheid en armoede. Hy het gesê daar word nie genoeg werk geskep nie omdat daar weens swak leierskap en beleid nie genoeg ekonomiese groei is nie.
Van Zyl het ook die belang van ekonomiese groei beklemtoon. Daar moet meer ganse wees wat goue eiers lê, het hy gesê. Verdeling van rykdom kan nie ten koste van die ganse wees nie.
Mbeki het die belang van sekerheid van eiendomsreg beklemtoon vir ekonomiese groei. Hy het gesê boere sal byvoorbeeld slegs in hulle grond belê as hulle sekerheid het oor hulle besitreg daarvan.
Wilson het gesê ongelykheid maak gemeenskap onmoontlik. “Daar kan nie gemeenskap wees tussen Sandton en Alexandra nie,” het hy gesê.
Hy het ook daarop gewys dat ongelykheid nie net gaan oor verskil in inkomste nie. Dit het ook ander gesigte, soos dat hy twintig krane in sy huis kan hê en ander mense geen krane het nie, dat hy ‘n knoppie kan druk om iets te kook, terwyl iemand anders hout in die veld moet gaan bymekaar maak om dit te doen.
Werkloosheid is ‘n groot gesig van ongelykheid, omdat dit ‘n mens nutteloos laat voel. Nog ‘n gesig van ongelykheid is onsekerheid, byvoorbeeld, oor waar jou volgende maaltyd vandaan kom.
Hy het gesê kerke is goed geplaas om “van onder af” teen armoede te stry. Van hierdie gesigte van armoede kan deur die kerk getakel word sonder dat mense se inkomste hoef te verhoog.
Janse van Rensburg het verwys na die rol van gesonde gesinne. Hy het gesê slegs 37% van kinders word groot in ‘n gesin met ‘n pa en ma. Dit is ‘n ekonomiese faktor. Baie kinders word groot in disfunksionele gesinne en sonder drome of ondersteuning om te ontwikkel.
Daarby is daar 50 000 maatskaplike werkers te min om kinders en gesinne te ondersteun. Daar is ‘n inploffing van maatskaplike dienste en die kerk moet hier ‘n groot bydrae maak.
Die een deelnemer na die ander het die belang van onderwys in die stryd teen armoede beklemtoon. Klopper het gesê Suid-Afrika het twintig jaar gemors wat dit betref.
Van Zyl het gesê een van die prioriteite is om meer geld effektief op die onderwys te bestee.
Du Plessis het gesê as hy kon, sou hy die swakste skole sluit om die boodskap te stuur dat die land nie mislukte skole kan aanhou duld nie.
Dr Barry Tolmay, assessor van die Natalse sinode, het voorgestel dat sukkelende skole verbind word met gemeentes wat hulle kan help om suksesvol te word. Du Plessis het gesê dat dit reeds op plekke in die Wes-Kaap gebeur.
Wilson het gesê dat kerke groot bydraes kan lewer op die terrein van vroeë kinderontwikkeling, maar dat hulle ook tieners kan help deur byvoorbeeld sportgeriewe by skole te help skep.
Verskeie deelnemers het daarop gewys dat kerke goed in gemeenskappe geplaas is om van onder af te help. Van Zyl het gesê kerke moet help om ‘n kultuur van gee te skep.
Wilson het gewaarsku dat die vensterperiode waartydens Suid-Afrikaners die land kan bou, nie vir altyd oop sal wees nie.
Die gedagte is om die insette uit hierdie gesprek verder te voer vir gesprek in die kerk en om daaruit voorstelle te formuleer oor watter rol die NG Kerk kan speel. Dit moet dan aan die volgende Algemene Sinode voorgelê word.
