Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Lidmate kies gemeentes baie keer soos lekkernye in ’n winkelsentrum. Die geurigste en kleurigste wen harte en beursies.
Dit is deel van die oorweldigende verbruikerskultuur waar selfs godsdiens ’n item op die keuselys geword het en kerke soos winkelsentrums lyk.
Daar is natuurlik ’n positiewe kant aan die vrye beweging van lidmate – dit klink byna ondenkbaar om terug te beweeg na die “ou dae” toe jy geen keuse gehad het oor die gemeente waar jy hoort nie. Hierdie beweeglikheid het baie mense sekerlik gehelp om tuis te kom in ’n gemeente waar hulle geestelike behoeftes en gawes beter tereg kom.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Niemandt-Nelus-Suid-Tvl1.jpg” caption=”Prof Nelus Niemandt is hoof van Tukkies se Departement van Godsdiens- en Sendingwetenskap.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Navorsing dui ook aan dat ’n baie groot groep lidmate hierdie opsie gekies het en gelukkig is in hulle gemeentes-sonder-grense. Party reis selfs ver uit hulle onmiddellike gemeenskappe om eredienste aan die ander kant van die stad of dorp by te woon.
Die skadukant van grenslose gemeentes is dat baie lidmate hulle naaste gemeenskappe versaak. Die belange en lewe in die direkte omgewing tel bitter min, en die reisendes het weinig belang by die welsyn van die mense in die omgewing van die gemeente daar anderkant. Dit word ’n geloofslewe wat nêrens geanker is nie en ’n bestaan sonder wortels.
Miskien is die pendulum aan die terugswaai met ’n nuwe oplewing in buurtkerke (“parish churches”). Daar is baie kreatiewe gedagtes en gemeentepraktyke aan die groei in die beweging wat ’n nuwe liefde vir die buurt of gemeenskaplike omgewing koester.
Lidmate word aangemoedig om ’n soort geloofslojaliteit aan hulle buurt te ontwikkel. Daar is nuwe waardering vir die noue band tussen ’n gemeente en die onmiddellike gemeenskap. ’n Gemeente is geanker aan ’n plek. Lidmate is bedoel om die lewe te deel en moet leer om as ’n lewende liggaam saam te groei in ’n vrugbare verhouding met God, mekaar en die plekke (buurte) waarin hulle geroep is om te leef.
Iemand skryf: “What the physical body is to a human person, the parish is to the body of Christ.” Hoe nader mense aan mekaar en hulle buurte leef, hoe intenser is die versoening tussen mense en hoe sterker die vernuwende en kreatiewe gemeenskapskragte.
Die eerste gemeentes het hulle identiteit verstaan as iets wat ook te doen het met die plek waar hulle was. Christene was lojaal aan die heerskappy van God soos dit binne in die plaaslike konteks ontwikkel het. Christene was juis bekend vir die maniere waarop hulle hulle bure (naastes) gedien het. Daar was ’n diep solidariteit met die buurt.
Daar is wonderlike geleenthede vir gemeentes-met-grense. Gemeentes wat ’n nuwe soort geloofsolidariteit met hulle woonbuurt en direkte omgewing het. Gemeentes wat hulle lidmate leer dat geloof alles met naastes en die alledaagse te doen het.
Dit is lidmate wat in liefde naby aan die mense om hulle leef, en die gemeenskap se belange op die hart dra. ’n Metafoor wat kan help is die beeld van wortelskiet. Ons kort gemeentes wat diep wortels in hulle gemeenskappe het en wat soos bome ’n ruim skaduwee gooi waar almal in die buurt rus en verkwikking kan vind. Waar dit gebeur, floreer geloof en lewe.