Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Gemeente is geanker aan ’n plek

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Lidmate kies gemeentes baie keer soos lekker­nye in ’n winkelsentrum. Die geurigste en kleu­rigste wen harte en beursies.

Dit is deel van die oorweldigende verbruikerskul­tuur waar selfs godsdiens ’n item op die keuselys ge­word het en kerke soos winkelsentrums lyk.

Daar is natuurlik ’n positiewe kant aan die vrye be­weging van lidmate – dit klink byna ondenkbaar om terug te beweeg na die “ou dae” toe jy geen keuse gehad het oor die gemeente waar jy hoort nie. Hierdie beweeglikheid het baie mense sekerlik gehelp om tuis te kom in ’n gemeente waar hulle geestelike behoeftes en gawes beter tereg kom.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Niemandt-Nelus-Suid-Tvl1.jpg” caption=”Prof Nelus Niemandt is hoof van Tukkies se Departement van Godsdiens- en Sendingwetenskap.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Navorsing dui ook aan dat ’n baie groot groep lid­mate hierdie opsie gekies het en gelukkig is in hul­le gemeentes-sonder-grense. Party reis selfs ver uit hul­le onmiddellike gemeenskappe om eredienste aan die ander kant van die stad of dorp by te woon.

Die skadukant van grenslose gemeentes is dat baie lidmate hulle naaste gemeenskappe versaak. Die belange en lewe in die direkte omgewing tel bitter min, en die reisendes het weinig belang by die welsyn van die mense in die omgewing van die gemeente daar anderkant. Dit word ’n geloofslewe wat nêrens geanker is nie en ’n bestaan sonder wortels.

Miskien is die pendulum aan die terugswaai met ’n nuwe oplewing in buurtkerke (“parish churches”). Daar is baie kreatiewe gedagtes en gemeen­te­prak­tyke aan die groei in die beweging wat ’n nuwe liefde vir die buurt of gemeenskaplike omgewing koes­ter.

Lidmate word aangemoedig om ’n soort geloofslojaliteit aan hulle buurt te ontwikkel. Daar is nuwe waar­dering vir die noue band tussen ’n gemeente en die onmiddellike gemeenskap. ’n Gemeente is gean­ker aan ’n plek. Lidmate is bedoel om die lewe te deel en moet leer om as ’n lewende liggaam saam te groei in ’n vrugbare verhouding met God, mekaar en die plekke (buurte) waarin hulle geroep is om te leef.

Iemand skryf: “What the physical body is to a human person, the parish is to the body of Christ.” Hoe nader mense aan mekaar en hulle buurte leef, hoe intenser is die versoening tussen mense en hoe ster­ker die vernuwende en kreatiewe gemeenskapskragte.

Die eerste gemeentes het hulle identiteit verstaan as iets wat ook te doen het met die plek waar hulle was. Christene was lojaal aan die heerskappy van God soos dit binne in die plaaslike konteks ontwikkel het. Christene was juis bekend vir die maniere waarop hulle hulle bure (naastes) gedien het. Daar was ’n diep solidariteit met die buurt.

Daar is wonderlike geleenthede vir gemeentes-met-grense. Gemeentes wat ’n nuwe soort geloofsolidariteit met hulle woonbuurt en direkte omge­wing het. Gemeentes wat hulle lidmate leer dat ge­loof alles met naastes en die alledaagse te doen het.

Dit is lidmate wat in liefde naby aan die mense om hulle leef, en die gemeenskap se belange op die hart dra. ’n Metafoor wat kan help is die beeld van wortelskiet. Ons kort gemeentes wat diep wortels in hulle gemeenskappe het en wat soos bome ’n ruim skaduwee gooi waar almal in die buurt rus en ver­kwikking kan vind. Waar dit gebeur, floreer geloof en lewe.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top